Worsie het Weskus-musiek gewild gemaak

11870842_10153535943878114_7268447596578640762_n

Foto: Facebook.com

Soms gebeur dit dat ’n ou liedjie skielik ’n treffer word nadat dit deur ’n kunstenaar ontdek is en nuwe woorde daarvoor geskryf word.

Dit is presies wat met “Boesmanland” gebeur het. Die Suid-Afrikaanse musiekbedryf het vir die eerste keer van dié liedjie kennis geneem toe ’n sanger van Vredendal dit op sy naam laat registreer het en nuwe woorde daarvoor geskryf het.

Dit het sedertdien ’n groot treffer geword en word nou nog gereeld gesing.

Hermias Cornelius Visser is op 3 September 1962 op Vredendal gebore. Nadat hy in die onderwys gestudeer het en ’n tyd lank onderwyser was, het hy by die polisie aangesluit. Hy was vier jaar lank polisieman op Nuwerus voordat hy in 1986 sy eie platemaatskappy gestig het. Sy eerste album, Dis my kontrei, het in 1987 verskyn, en benewens “Boesmanland” het dit ook die treffers “Strandfontein” en “Vat my hand” bevat. Die titelsnit het ook ’n treffer geword en die naam Worsie Visser alombekend.

Worsie se tweede album, My hart is daar, het die volgende jaar verskyn, en veral “Die bitter van Bitterfontein” het ’n treffer geword as gevolg van die introspektiewe dog spitsvondige lirieke.

Pa se klong het in 1991 verskyn. Worsie het nie net oorspronklike liedjies ingesluit nie, maar ook Danie Pretorius se treffer “Rooimiere” laat herleef.

Die titelsnit van sy volgende album, Gee hom gas, was ’n Afrikaanse weergawe van Eddy Grant se treffer “Gimme hope Joanna”, wat in Suid-Afrika verbied is toe dit oorspronklik uitgereik is. In 1993 het die versameling Vroeteltreffers uit Boesmanland verskyn. Hierop was ’n aantal van sy bekendste treffers, onder meer “My vroetelbus”, “Wikkel daai boude”, “Boesmanland-blues” en sy vertolking van die Jurie Ferreira-treffer “Wiederschau”.

Een van Worsie se grootste treffers was die titelsnit van die album “Lekker ou Jan” wat deur Tant Grietjie van Garies geskryf is en sedertdien ook deur kunstenaars soos Jennifer Zamudio, Basjan Nieuwoudt en Zak van Niekerk opgeneem is. Op hierdie album het hy ook bekende liedjies soos “Ek en my meisie” van Touch of Class, “Wil jy dans, Carina?” van Francois en Elizabeth Fourie en “Karolis” van Francois Hayes ingesluit, asook nog een van sy grootste treffers, die lekker saamsingliedjie “Wie maak vir Gansbaai lekker?”

Die titelsnit van sy volgende album, Gee die hond wind, was ’n Afrikaanse weergawe van Boney M se treffer “Going Back West”. Nog ’n Afrikaanse weergawe van ’n bekende treffer wat hierop voorgekom het, was “Dikbek lang gesig” op die wysie van Billy Ray Cyrus se treffer “Achy Breaky Heart”. Die laaste oorspronklike album wat Worsie uitgereik het, was Die seun van Bitterfontein van 1997.

Ondanks Worsie se gewildheid het die SAUK geweier om sy musiek te speel omdat dit blykbaar nie goed genoeg vir die radio was nie. Afrikaans Stereo (vandag RSG) het gesê sy musiek het tekortgeskiet aan artistieke gehalte en was nie geskik om op die lug gespeel te word nie. Die publiek was woedend en teleurgesteld oor die SAUK se besluit en verkope van sy albums het die hoogte ingeskiet. Hulle het geredeneer dat niemand teen verkoopsyfers kon stry nie. Die mense van die Weskus het Worsie as die mees onderskatte sanger in Suid-Afrika beskou en diegene wat beweer het dat hy nie kon sing nie, genadeloos gekritiseer. Hulle het gesê dat die bekoring van Worsie se musiek juis in die eenvoud daarvan gelê het, dat hy gesing het in ’n taal wat hulle verstaan het en dat dit hulle goed laat voel het.

Op 4 Mei 1998 het Worsie gesterf in ’n vliegongeluk naby Laaiplek in die Wes-Kaap. Kort tevore het hy nog op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn opgetree.

Sedertdien het verskeie trefferversamelings die lig gesien, onder meer Treffers van doerietyd tot nou, wat vinnig goue status bereik het, asook die dubbele versameling Die Boesmanland-bundel, met 50 van sy treffers.

Worsie het ook verskeie kunstenaars ontdek en geïnspireer. Zak van Niekerk, wat vier jaar gelede oorlede is, en Basjan Nieuwoudt het huldeblyk-albums uitgereik, terwyl Wicus van der Merwe ook ’n aantal van Worsie se treffers opgeneem het.

Hoewel Worsie sy kritici gehad het, het hy byna eiehandig gesorg dat musiek uit die Weskus ’n breë gehoor bereik het en gewild geword het.

’n Klankgreep van sy weergawe van “Wiederschau”:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

jonger dae ·

Worsie was voor my tyd maar ek ken al sy liedtjies en dit vat my trug na die plaas dae to ek nog n jong meisie was

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.