Prinses Diana-musiekblyspel eersdaags op Netflix te sien

Die rolverdeling van ‘Diana: A True Musical Story’, van links na regs: Judy Kaye, Erin Davie, Roe Hartrampf en Jeanna de Waal. (Foto: Gavin Bond/O&MDKC via AP)

Diana: A True Musical Story, die musiekblyspel wat geskoei is op die lewe van die ontslape prinses Diana, sal vroeg in die nuwe jaar op Netflix te sien wees voordat dit sy Broadway-debuut maak.

Dit is ʼn eerste keer vir die vermaakbedryf, wat wêreldwyd tans onder druk is weens die inperkingsmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te help bekamp.

Broadway bly gesluit te midde van die pandemie en volgens kenners sal dié gewilde New Yorkse teaterkompleks eers volgende jaar weer sy deure oopmaak.

Diana: A True Musical Story, wat aanvanklik op 31 Maart vanjaar sou open, is herskeduleer om op 25 Mei 2021 sy buiging op Broadway te maak.

ʼn Verfilmde weergawe, met die oorspronklike Broadway-rolverdeling, sal in New York opgeneem word sonder ʼn gehoor. Netflix het nog nie bevestig wanneer dit beskikbaar sal wees nie.

Jeanna de Waal vertolk die rol van prinses Diana, Roe Hartrampf is prins Charles, Erin Davie is te sien as Camilla Parker Bowles en Judy Kaye is koningin Elizabeth II.

Van links na regs is Roe Hartrampf, Judy Kaye, Jeanna de Waal en Erin Davie in New York in Januarie vanjaar. (Foto: Greg Allen/Invision/AP)

“Ons praat namens die hele geselskap wanneer ons sê dat ons nie méér opgewonde kan wees om uiteindelik ons vertoning met teaterliefhebbers oral te deel nie,” het die hoofvervaardigers, Beth Williams, Frank Marshall en die Acaca Group, in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

“Al is daar geen plaasvervanger vir regstreekse teater nie, is ons geëerd om deel te wees van die gehaltevermaak wat Netflix aan sy intekenaars wêreldwyd verskaf.”

Netflix het al vantevore teaterproduksies beskikbaar gestel, soos American Son met Kerry Washington.

Disney+ het verlede maand bewys dat verbruikers graag na teaterinhoud op hulle tuistoestelle kyk, met die verwerking van Hamilton wat ʼn groot sukses was met dié stromingsdiens se openingsnaweek.

Bronne: BBC, New York Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.