Radiostasie stuur geestesgesondheidsveldtog van stapel

Foto ter illustrasie. (Foto: Ben White/Unsplash)

Van die 13 774 selfmoordvoorvalle wat in 2019 aangeteken is, was 10 861 mans.

Om internasionale mansgesondheidsmaand te vier, het Jacaranda FM en Panda, ’n tegnologieplatform, hande gevat om bewustheid oor geestesgesondheid te skep en mense toegang tot voldoende geestesgesondheidsorg te bied.

Sowat 80% van Suid-Afrikaners wat bystand met hul geestesgesondheid nodig het, het nie toegang daartoe nie, meen Cassey Chambers, operasionele bestuurder van die Suid-Afrikaanse groep vir depressie en angs (Sadag).

Om die stigma te verbreek dat mans nie mag huil nie, het Jacaranda FM en Panda ’n veldtog, #safespace, van stapel gestuur. Dié veldtog moedig mans aan om van die Panda-app gebruik te maak wanneer hulle hulp met hul geestesgesondheid nodig het.

“Jacaranda FM gesels weekliks met sowat 1,5 miljoen luisteraars, van wie 50% mans is. Ons wou ’n veldtog ontwikkel wat ’n onmiddellike uitwerking op ons mansluisteraars se lewe het,” het Deirdre King, besturende direkteur van Jacaranda FM, gesê.

Gebruikers van die Panda-app word uitgenooi om van drie gratis 30 minute lange teksgebaseerde geselssessies gebruik te maak. Al wat jy moet gebruik, is #safespace om toegang tot dié drie sessies te kry.

Jacaranda FM poog om hul luistergetalle en Panda se tegnologie te kombineer om soveel moontlik mans by te staan.

Gebruikers van Panda het gratis toegang tot die “Bamboo Woud”, wat hulle toegang bied tot ’n gemeenskap van mense wat met dieselfde soort kwessies sukkel. Die app is ook van sodanige aard dat anonimiteit by elke deel daarvan ingebou is.

Mans kan ook hul eie gemeenskappe in die “Bamboo Woud” skep volgens hul eie behoeftes. Hetsy dit depressie, finansiële spanning of angs is, daar sal iewers vir jou ’n plekkie wees.

“Panda is ontwikkel as ’n lewensvatbare manier om op die groeiende geestesgesondheidskrisis te reageer,” het Allan Sweidan, kliniese sielkundige en medestigter van Panda, gesê.

Die app bied ook die opsie om vordering te monitor en hulp van kenners te ontvang. Vir meer inligting daaroor besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.