Aardklop: Beste vriende, Zak en Cindy, debuteer produksie

Cindy Swanepoel en Zak Hendrikz. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die sepiesterre, Cindy Swanepoel en Zak Hendrikz, het pas hul debuutproduksie, 1, op die planke by die Momentum Beleggings Aardklop in Potchefstroom gesit.

Dié stuk, wat Zak aan Maroela Media as magiese realisme beskryf, gaan oor twee mense wat al so lank in ʼn verhouding is dat hulle vas aanmekaar gegroei het. Deur die tragiese komedie, worstel die twee karakters om van mekaar te skei en hul eie identiteit weer te vind.

“Wie is ek saam met my lewensmaat? Het ek my identiteit in die proses verloor? Kan ek myself weer vind? Wie is ek sonder daardie persoon?” Dít is die vrae wat in 1 ondersoek word.

“Ons is letterlik ʼn Siamese tweeling aan die begin van die stuk. Dit is eintlik moeilik om ʼn stuk te doen waar jy aan ʼn ander persoon verbind is. Daar moet regtig simbiose tussen die twee akteurs wees,” het Zak gesê.

Dié twee akteurs ken mekaar al langer as twee dekades en is al vir sowat 12 jaar beste vriende. “Ek is so dankbaar om dit saam met Cindy te doen, sy is my beste maatjie, maar sy is ook ʼn uitstekende aktrise.”

Henriëtta Gryffenberg het die teks geskryf, terwyl Alby Michaels as dramaturg en regisseur opgetree het.

Die produksie verken menslike verhoudings en hoe maklik eie identiteit in die warboel van dié verhoudings kan verdwyn.

Dit is nie die eerste keer dat dié twee akteurs teenoor mekaar speel nie.

“Ons het al talle produksies saam gedoen, en in Binnelanders saam verskyn,” sê Zak.

  • Bespreek jou kaartjies vir 1 met Cindy Swanepoel en Zak Hendrikz hier.
  • Vir meer inligting oor Momentum Beleggings Aardklop 2023, besoek hierdie webwerf.

Maroela Media het ʼn speletjie, “As die vellie pas”, met die twee akteurs gespeel. Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.