Aardklop: Potchefstroomse rustigheid bekoor Dawid Minnaar

Dawid Minnaar in “Mirakel”. (Foto: Hans van der Veen/verskaf)

In 1992 het ʼn toe 36-jarige Dawid Minnaar die verhoog betree as Mirakel se jonge Abel met sy hartstogtelike liefde vir die swakke Lenie, toe vertolk deur Anna-Mart van der Merwe. Vanjaar keer hy terug na dié teaterstuk, die keer as die bombastiese teatermeester, Danté du Pré.

Mirakel, Reza de Wet se donker komedie oor ʼn sukkelende toneelgeselskap wat op ʼn klein dorpie gaan draai, het deur die jare heen telkemale na die verhoog teruggekeer. Destyds, onthou Dawid, het wyle Patrick Mynhardt die rol van Du Pré ingeneem, hoewel hy nie werklik Patrick se vertolking kan herroep nie.

“ʼn Mens wil tog nie hê dat iets jou eie vertolking moet kniehalter nie,” sê Dawid aan Maroela Media terwyl hy aan sy koffie teug, met ʼn kwetterende koor van tortelduiwe wat in die agtergrond saam gesels.

Dit is juis hierdie Potchefstroomse rustigheid wat Dawid bowenal na die Momentum Beleggings Aardklop teruglok. Hy wys na die huisie waar hy tydens die kunstefees bly, sy buurvrou is Antoinette Kellerman, wat hierdie jaar in Goed wat wag om te gebeur te sien is. Dit is tradisie, sê hy, deur die jare heen het hulle keer op keer na dié huise teruggekeer.

Hy raak meegevoer wanneer hy oor Reza se werk praat.

“Ek is glad nie objektief oor haar werk nie. Ek is nie net ʼn bewonderaar nie, maar eerder ʼn dissipel van haar werk. Vir my is sy ons grootste dramaturg, daar is niemand wat naby aan haar kom nie.

“Daar is soveel faktore wat Mirakel so wonderlik maak; ek dink een van hulle is die heerlike taalgebruik. Natuurlik ook haar vermoë om karakters te skep; dit het te doen met haar insig oor die menslike natuur en die Afrikanerpsige. Die karakters is uniek en het hul eie identiteit. Dit is so amper asof die skrywer verdwyn, asof sy maar ʼn vlieg op die muur was wat hierdie mense dopgehou het.”

Dawid deel die verhoog met Edwin van der Walt, Bettie Kemp, Rolanda Marais, Carla Smith en Eben Genis. “ʼn Wonderlike groep mense om mee saam te werk,” sê hy.

Dit was eintlik heel toevallig dat dié groep mense eindelik saam op die verhoog beland het. Ná weke se repetisies saam met Brümilda van Rensburg in die rol van die komiese Salomé, het sy haar arm gebreek en moes sy die leisels aan ʼn plaasvervanger oorhandig. Hugo Theart (vervaardiger) en Marthinus Basson (regisseur) moes inderhaas na ʼn nuwe Salomé soek.

Dawid saam met Bettie Kemp in “Mirakel”. (Foto: Hans van der Veen/verskaf)

“Bettie [Kemp] het tot ons redding gekom, en dit twaalf dae voordat ons by KKNK moes optree,” vertel Dawid.

Alhoewel kunstefeeste ʼn reuserol in die bevordering van teater speel, erken Dawid, voel dit soms asof ʼn stuk se rakleeftyd verkort word. ʼn Teaterstuk, veral een soos Mirakel, verdien ʼn langdurige speelvlak sodat die karakters knus kan begin sit.

Dit is juis waarom Dawid dankbaar is dat Mirakel by byna elke kunstefees vanjaar opgevoer is. “Dit is amper asof ons ʼn vollengte speelvlak gehad het,” sê hy.

Edwin van der Walt en Rolanda Marais in “Mirakel”. (Foto: Hans van der Veen/verskaf)

“Mense betaal baie geld vir hulle kaartjie, hulle verdien om te sien dat die akteurs heeltemal gemaklik met hul karakters is. Dit is waarom dit vir my so lekker was om ʼn vollengte speelvlak in die Baxter-teater met Die Moeder te kon hê. Ons het dag-na-dag teruggekeer met ons stel wat steeds op die verhoog gestaan het.”

Die Moeder, waarvan Sandra Prinsloo die hoofrol vertolk, is ook tydens Aardklop op die planke. Dit is ʼn donker stuk, erken Dawid, maar in sy ervaring is dit juis donkerder produksies waarna mense hunker.

Dit is asof die menslike psige gedraai het na dinge met dieper betekenis, sê hy. “Miskien is dit weens die pandemie, wie weet?”

“Jy moet nooit jou gehore onderskat nie. Hulle soek dikwels werk met diepte. Ek dink Covid-19 het mense laat dink oor die lewe en laat besef hoe vinnig dit verby kan gaan. Die teater word ʼn venster na die menslike toestand.”

Sandra Prinsloo (Foto: Greteli Fincham)

Die Moeder is ʼn vertaalde produksie, en vorm deel van ʼn trilogie geskryf deur die Franse skrywer, Florian Zeller. Daar is reeds Hollywood-rolprente van die ander twee verhale in die reeks, The Father, met Anthony Hopkins in die hoofrol, en The Son, met Hugh Jackman, gemaak. Dit is vir Dawid vreemd dat die fliekweergawe van The Mother, waarop Die Moeder gegrond is, nog nie die lig gesien het nie.

Die produksie gaan oor die moderne lewe, vertel hy. Dit wentel rondom ʼn vrou wat skielik met ʼn leë huis sit nadat haar kinders almal uit die huis getrek het, en ʼn man wat kom en gaan soos wat dit hom pas. Die verhaal is ʼn blik in die lewe van iemand wat besef dat sy nie eintlik ander belangstellings het nie, en stadig maar seker in die donkerte van haar eie psigiese toestand verdwyn.

“Sy het al haar energie op haar gesin spandeer, en ewe skielik is hulle nie meer daar nie. Sy weet nie meer wat aangaan nie, sy verloor haarself, nes baie vroue hulself in daardie omstandighede verloor.”

Wanneer hy dink aan die gehore wat dié stuk al gesien het, is hy een ding eens: diegene wat met trane in hul oë by die teater uitstap, is nie ma’s en vroue nie – dit is die mans.

“Dit gaan maar oor hul eie verhouding met hul ma’s. Dit is maar die moderne lewe, jy weet, die meeste kinders skeep hul ouers eintlik bietjie af. Ons leef nie meer in ʼn tydperk waar jy na aan jou mense bly nie. Die isolasie waarin sy haar bevind is wat so treffend is.”

  • Vir meer inligting oor die Momentum Beleggings Aardklop en om kaartjies vir produksies aan te skaf, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.