Aardklop wip op in Linden

Aardklop. (Foto: Verskaf)

Die koel, kalm en kreatiewe atmosfeer wat in Linden heers, skep ’n ideale ruimte vir die Momentum Beleggings Aardklop om vir die eerste keer daar op te wip.

Dié buurt in die middel van die yslike Johannesburg het ’n unieke kleindorpie-gevoel. In Linden stap gesinne vroegoggend met hul honde deur die strate en drink heerlike koffie onder skadubome saam met vriende.

Die samesyn, ’n konsep waarmee Linden-inwoners vertroud is, is juis die rede waarom Aardklop vanjaar van 6 tot 9 Oktober daar gaan aanklop.

“Dit is uitstekend dat Aardklop uiteindelik ook sy plek inneem in Pretoria en Linden. Ons as kunstenaars is altyd op soek na ’n verhoog waar ons kan optree en dis verblydend dat die geleenthede nou uitkring,” het Frank Opperman, akteur en boorling van Linden gesê.

“Volgens my, is Linden een van die beste buurte in die hele land vir ’n Afrikaanse fees. Feesgangers van die platteland kan weer kom draai in die stad vir ’n goeie skeut kuns en kultuur. Ons het alles hier!”

Feesgangers kan hul vere regskud vir produksies soos Ek wens, ek wens, Oom Bey my pa, Laerskool Noord en Die oerkluts kwyt wat vanjaar op Lindenverhoë gaan draai.

Wat as, met Francois Jacobs, Simoné Pretorius en Adriaan van As, gaan ook tydens die opwipfees op die planke te sien wees.

Kinders kan uitsien na heerlike kinderteater met produksies soos Liewe Heksie en die rolskaatse, Die klein viooltjie en Rondomtalie.

Willem Botha gaan ook tydens die fees sy grimeervernuf tydens ’n meesterklas ten toon stel.

Feesgangers kan daarmee saam uitsien na heerlike aktuele gesprekke, onder meer In Gesprek met Lourensa Eckard en Prontuit met Kabous Meiring.

Momentum Beleggings Aardklop se opwipfeesdatums en plekke, is as volg:

Potchefstroom kry teater en ʼn feesterrein vanaf 30 September tot 2 Oktober.

Pretoria se teaterweek is vanaf 30 September tot en met 9 Oktober, met ʼn feesterrein 6 tot 9 Oktober.

Linden kry teater vanaf 6 tot 9 Oktober.

  • Besoek die webwerf vir meer inligting en om kaartjies daarvoor te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wildemien ·

Jammer dat Aardklop Potchefstroom my nie hierdie jaar sal sien nie. Dis so ‘n afgewaterde program; hulle moes liewer gelos het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.