Ekstra kaartjies vir Afrikaans is Groot nou beskikbaar

Bykomende kaartjies vir die immergewilde Afrikaans is Groot-megakonsert is van vandag op Computicket beskikbaar gestel aangesien alle kaartjies vir die konserte later vanjaar in Pretoria reeds uitverkoop is.

Die publiek het vandag (Woensdag, 28 Augustus 2019), ’n laaste geleentheid om kaartjies vir die vertoning op 28 November te koop. Kaartjies wat tussen 09:00 en 18:00 gekoop word, kan teen 10% afslag aangekoop word, daarna sal die oorblywende kaartjies na die gewone AiG-pryse terugkeer.

Die organiseerders van Afrikaans is Groot (AiG) en Solidariteit Helpende Hand, AiG se gemeenskapsvennoot en amptelike liefdadigheidbegunstigde, het bevestig die #JouAiG-veldtog, wat Helpende Hand in Maart van stapel gestuur het in samewerking met die publiek, reeds vroegtydig sukses behaal het en die spogvertoning op 28 November word nou nog meer eksklusief.

Ernst Vorster, adjunk- uitvoerende hoof vir Helpende Hand, sê die sukses van die #JouAiG-veldtog as ’n gemeenskapskrag-inisiatief word nou aan die publiek oorgedra en kaartjies vir die enigste oorblywende vertoning word nou goedkoper aan die publiek gebied. “Ons Hoofborg, die publiek het gepraat! Kaartjiekopers wat reeds kaartjies teen ’n premium prys bekom het gaan op ’n besonderse wyse beloon word as hoofborg met ’n unieke ervaring vir hul bydrae. Die publiek wat nie kaartjies vir die ander AiG-vertonings wat reeds uitverkoop is kon verkry nie kan nou weer ’n kans hê om kaartjies te koop,” het Vorster gesê.

Helpende Hand het die #JouAiG-veldtog bekendgestel ná die onttrekking van korporatiewe borge om die organiseerders en kunstenaars te ondersteun en AiG as kulturele geleentheid te beskerm en die voortbestaan daarvan te verseker. Die veldtog het uitgewys dat die publiek AiG se hoofborg is nadat AiG bevestig het dat die organisasie ’n kontrak met die publiek het om die grootste Afrikaanse musiek skouspel aan te bied en het aan die publiek as individue, groepe of besighede die geleentheid gebied om as ’n amptelike hoofborg van dié konsert in te tree.

Johan C Venter, woordvoerder van AiG, het bevestig dat die kaartjiekopers wat reeds kaartjies gekoop het vir die #JouAiG-vertoning teen die premiumprys spesifiek geëer gaan word as hoofborge gedurende die aand van die vertoning. Hierdie hoofborge sal almal eerste toegang tot die arena verkry; hul gesigte sal deel vorm van die AiG-handelsmerk wat op ’n kreatiewe wyse ten toon gestel gaan word; hulle gaan bederf word met nuwe AiG-produkte asook met ’n unieke program vir die aand; en hulle sal ook op die skerms genoem word en bedank word as hoofborge van AiG.

“Ons het soveel versoeke vanuit die publiek ontvang wat nog kaartjies wou koop dat ons ʼn plan moes beraam om nog beskikbaar te stel,” het Venter bygevoeg.

Venter het ook bevestig dat die bekroonde Afrikaanse sangeres, Laurika Rauch, wat vanjaar 40 jaar in die musiekbedryf vier, sowel as die sanger Elandré, se name nou by die program gevoeg is en deel van die AiG-vertonings gaan uitmaak.

Vorster het ook bygevoeg dat die AiG-vertonings, kunstenaars en die verwante blootstelling Helpende Hand se #StopHonger-projek gehelp het om eenduisend kinders meer op die organisasie se daaglikse voedingskema te voeg in 2019. “Ons is daarom trots deel van die AiG-familie en bedank ook die organiseerders van AiG vir die moeite wat hul met ons #StopHonger-veldtog gedoen het verlede jaar. Ons kon met die hulp van AiG daarin slaag om net meer as eenduisend behoeftige kleuters se lewens drasties te verander deur’n ete elke weeksdag in hul magies te plaas,” het hy verduidelik.

Die organiseerders waarsku ook dat die publiek moet waaksaam wees teen derdeparty-kaartjieverkopers. Klik hier om jou kaartjies vir die geleentheid te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lindtjies ·

Hulle moet nou adverteer want hulle weet hulle gaan seerkry met hulle kaartjie verkope.

Darius ·

Hulle is reeds uitverkoop, die konsert is bykomend omdat daar so baie belangstelling is. EN omdat Afrikaans is Groot en Helpende Hand vir ons ondersteuners luister en Steve daar hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.