Foto’s: ‘My vrou se man se vrou’ laat gehore skater

My vrou se man se vrou is ʼn skreeusnaakse klug deur Lefra Produksies. (Foto: Odette Putzier)

Twee vroue en een man klink na ʼn resep vir moeilikheid, om die minste te sê. In My vrou se man se vrou, ʼn skreeusnaakse klug deur Lefra Produksies, kom die Londense taxibestuurder John Smith (met Phillru van Achterbergh) behoorlik sy moses teë wanneer ʼn ongeluk en sy verskuilde agenda vir hom ʼn dubbeldosis huweliksprobleme op die hals haal.

Smith woon saam met sy vrou Mary (gespeel deur Marissa Claassen) in Highgate … en hy bly ook saam met sy vrou Barbara (gespeel deur Danielle Britz) in Finchley – slegs vier minute van Highgate af. Die twee mevroue Smith is salig onbewus van mekaar se bestaan, aangesien Smith sy ongereelde werksure as ʼn verskoning gebruik om sy dubbele lewe weg te steek.

ʼn Ongeluk en ʼn verkeerde adres lei tot ʼn kettingreaksie en Smith moet bontstaan om te keer dat sy geheim op die lappe kom. Om sake te vererger moet hy sy nuuskierige bure, ʼn vasberade joernalis en twee agterdogtige polisiemanne ontduik.

Phillru van Achterbergh speel die rol van John Smith, ‘n Londense taxibestuurder, in ‘My vrou se man se vrou’. (Foto: Odette Putzier)

Ander akteurs wat ook in hierdie produksie te sien is, sluit in Botha Enslin (Stanley Garner), Thiart Li (joernalis/Bobby Franklyn), Jaco van Zyl (speurdersersant Trouten) en Etienne du Plessis (speurdersersant Porterhouse).

My vrou se man se vrou is op Ray Cooney se teks Run for your wife gegrond. Cooney word as die klugmeester beskou en sy teks is al langer as 25 jaar in Londen se West End op die planke. Peet van Rensburg het Cooney se teks na Afrikaans vertaal en dit is die eerste keer in 2012 deur Lefra Produksies opgevoer.

Frans Swart, regisseur van My vrou se man se vrou, sê die Covid-19-pandemie het verlede jaar hulle opvoerings in die wiele gery en dat die tyd om dit weer te hervat nou aangebreek het.

“Ons trokke met toerusting, dekor en kostuums was gereed om KKNK toe te gaan toe die president ʼn landwye inperking aangekondig het.”

Swart voeg by dat hulle ook besluit het om hierdie produksie te laat herleef sodat mense kan lag.

“Ná 10 jaar is dit beslis tyd vir ons om hierdie trefferklug weer verhoog toe te bring. Daar is ʼn nuwe generasie wat nog nie hierdie stuk ervaar het nie en ek glo almal gaan dit weer van voor af geniet.

“Vir twee jaar het ek en die spelers gewag om mense weer te laat lag, maar nou gaan dit net soveel lekkerder en snaakser wees. Mense wil uitkom en lag is die beste medisyne om al die wroeginge te hanteer wat ons die afgelope ruk ervaar het.”

My vrou se man se vrou wys tot 6 Februarie by die Atterbury-teater in Pretoria. Klik hier om meer te wete te kom of besoek Seatme se webwerf om kaartjies te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Landras ·

10 Jaar terug by die staatsteater gekyk en gaan Saterdag weer – sien so uit !

Elsje ·

Ons het so lekker gelag, soms moet ons net ophou om so aaklig met mekaar te wees en net te lag. Kyk die man kry sy hel met 2 vrouens. Botha en Phillru is so snaaks en vertolk hulle rolle so goed. Gaan kyk dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.