Frank Opperman ‘soos goeie rooiwyn’

Frank Opperman in “Ek wens, ek wens” (Foto: Maroela Media)

Met Ek wens, ek wens, wat tans by die Woordfees in Stellenbosch te sien is, bewys Frank Opperman opnuut waarom hy as een van die land se voorste toneelspelers beskou word.

Dit is ʼn kuns om met slegs ʼn baadjie, ʼn paar houtblokke en Rubik se kubus ʼn hele verhaal manalleen te vertel. Sy gemaklike manier om terselfdertyd die rol te vertolk van sy vrou, die sekretaresse met ʼn rok soos plastiekbegrafnisblomme (“gemaak van materiaal wat nooit kan vergaan nie”), ʼn agtjarige seuntjie en selfs sy rebelse twee tieners, hou mens vasgenael. Elke karakter het sy eie gebare en kenmerkende manier van praat.

Ek wens, ek wens is geskryf deur Philip Rademeyer, geskoei op die roman van Zirk van den Berg met dieselfde naam. Opperman vertolk die rol van ’n begrafnisondernemer wat sy liefde vir die lewe verloor het. Dis nou totdat hy ’n unieke, sterwende seuntjie ontmoet wat sy hele bestaan en verstaan van die wêreld waarin hy hom bevind, op sy kop draai.

Hans van Vuuren van Ballito, wat ook die stuk by die Woordfees gesien het, meen Opperman is “soos goeie rooiwyn, wat met die tyd net al hoe beter word”. “Hy het weereens bewys hy is onverbeterlik op die verhoog. Tien uit tien vir Frank, dit was ʼn voortreflike stuk!”

Geen wonder nie die gehoor het ʼn staande applous gegee.

Ek wens, ek wens laat jou met die vraag: as jy drie wense gehad het, waarvoor sou jy wens? Sommer iets onbenullig, iets wat jy in elk geval self deur harde werk en kreatiewe denke sou kon vermag? Sou jy wens vir ʼn groot sak geld, of om net oukei te wees?

  • Ek wens, ek wens is bekroon met die WA Hofmeyer- en kykNET Rapportprys. Dit is ook as Aardklop Nasionale Kunstefees 2021 se beste produksie bekroon met Frank Opperman as beste akteur. Dit is die res van die week nog by die Woordfees te sien by die Drostdy Teater.
  • Maroela Media het onlangs ook op die stel gaan kuier van die Ek wens, ek wens-vertonings tydens Aardklop se Linden-opwipfees. Klik hier om ʼn onderhoud met Opperman te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.