Die Silwerskermfees wat vanjaar vir die sesde keer aangebied word, gee dié jaar weer vir aspirant-rolprentmakers en -draaiboekskrywers die kans om hul storie op die grootskerm te vertel.
Dié fees wat later vanjaar deur kykNET in Kampsbaai in die Wes-Kaap aangebied word, beoog om die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf deur middel van nuwe dokumentêre rolprente en kortprente ʼn hupstoot te gee.
Dié fees, Suid-Afrika se eie “Cannes-rolprentfees” in die kleine, het ʼn jaarlikse instelling geword. Dit is waar belanghebbendes in die bedryf soos regisseurs, vervaardigers, verspreiders, akteurs en ander geleentheid kry om te ontmoet en waar vir ʼn paar dae net rolprente gepraat en geleef word. Dit is ook ʼn geleentheid vir die groeiende rolprentbedryf om die uiteenlopende stories van Suid-Afrika te vertel.
Inskrywings vir vanjaar se kortprent-kategorie is nou oop. Die sluitingsdatum is 30 Maart. Uit die aansoeke word kortflieks gekies om vervaardig te word. Elke fliek se begroting is R160 000. Die inskrywingsgeld is R200.
As jy wil inskryf besoek kykNET se webwerf (www.kyknet.dstv.com) en klik op die Silwerskerm-logo vir meer inligting.