‘Koningin Lear’ soos die ‘Rolls Royce’ van teater

Antoinette Kellermann en Edwin van der Walt in ‘Koningin Lear’. (Foto: KKNK/Hans van der Veen)

Daar is niks aan die produksie van Koningin Lear wat nié indrukwekkend is nie. ʼn Storie deur Shakespeare, nuut bedink deur die gevierde Tom Lanoye, vertaal deur die bekroonde Antjie Krog.

ʼn Rolverdeling wat bestaan uit die absolute room van die Suid-Afrikaanse kunstebedryf. Regie deur een van die land se grootste teaterpersoonlikhede, Marthinus Basson. En bekroon met ʼn volle agt Kanna-pryse tydens vanjaar se KKNK.

Ontsagwekkend. Kragtig. Grensverskuiwend.

Koningin Lear, wat vroeër vanjaar by die KKNK debuteer het, sal in September by Aardklop in Potchefstroom te sien wees. Die storie is ʼn herverbeelding van William Shakespeare se beroemde King Lear en word teen ʼn baie meer moderne milieu aangebied.

Antoinette Kellermann vertolk die rol van Elizabeth Lear wat met verloop van tyd haar klein onderneming tot ʼn internasionale sakeryk opgebou het. Elizabeth kondig aan dat die onderneming tussen haar drie seuns verdeel sal word en sy eis dat haar seuns onder eed hul liefde en trou aan haar verklaar. Haar jongste, en geliefde, seun weier en dit ontketen ʼn familietwis van reuse-omvang.

Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, André Roothman, Neels van Jaarsveld, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Matthew Stuurman maak die res van die rolverdeling uit.

Marthinus Basson. (Foto: KKNK/Hans van der Veen)

Basson vertel hy het in die 1980’s ʼn produksie van King Lear in München gesien wat hy meen die enigste “werklike” teater is wat hy in sy luisterryke loopbaan teëgekom het. “Daarmee bedoel ek dat ek vir die eerste keer verstaan het wat die uitwerking van teater op ʼn gehoor kan wees – wat dit is om werklik ʼn kollektiewe katarsis te beleef,” sê hy.

Hy meen Shakespeare bly een van die moeilikste dramaturge om te bemeester, maar Lanoye se herverbeelding van King Lear, so ver van die oorspronklike en tog so indrukwekkend as drama en literatuur, het hom geen ander keuse gelaat as om sy vrees te sluk om Lear te pak nie. “Nie die vrees om dit te doen nie, maar om die mees spesiale ervaring wat ek in teater ervaar het te vernietig,” verduidelik hy.

“Wat Tom Lanoye werklik meesterlik regkry, is om al die temas van Shakespeare se King Lear suksesvol aan te raak en dan ʼn hele laag kontemporêre realiteit in te roer. Lear gaan daaroor om oud te word, die dood in te nooi, te laat gaan, die lewe af te lê, jou eie hubris onder oë te sien en dat jou wysheid ook grens aan blote onnoselheid.”

Antoinette Kellermann tydens ‘n vertoning van ‘Koningin Lear’. (Foto: KKNK/Hans van der Veen)

En met teater-bloubloed soos Antoinette Kellermann in die hoofrol was die besluit nog makliker.

“Beslis die feit dat dit so ʼn ongelooflik uitdagende rol is,” antwoord Kellermann op ʼn vraag hoekom die teaterstuk haar aangetrek het. “Om as vrou in so ʼn groot rol te kan wees en ʼn stuk van hierdie omvang, met sulke diepte en verskuiwings, aan te pak … Boonop met só ʼn ongelooflike rolverdeling. Én Marthinus, wonderlike Marthinus. Ek sou nooit kon nee sê nie.”

Basson beskryf die ervaring om met akteurs en aktrises van dié kaliber te werk as soortgelyk aan om in ʼn Rolls Royce te ry. “Deurwinterde spelers op die spits van hul pistons wat voluit vuur en ʼn handjievol jonger spelers wat ek as Maseratis sou beskryf. Hulle maak jou werk opwindend, hulle inspireer, hulle hou jou op jou tone, hulle laat jou lag en huil, en hulle is deur die bank goeie mense en reisgenote. Dít is die mense wat jou laat aanhou teater maak, al wou jy lankal die handdoek ingooi. Goeie, dapper, eerbare stryders.”

Neels van Jaarsveld en Anna-Mart van der Merwe in ‘Koningin Lear’. (Foto: KKNK/Hans van der Veen)

En as jy dalk sou dink dat Basson oormatig vol lof vir die akteurs is, laat Kellermann jou met geen twyfel nie dat jy hier met van die beste in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf te doen het. “Om met hierdie rolverdeling te werk, was ʼn besonderse ervaring, een wat jy nie sommer kry nie,” sê sy beslis.

“Jy is in die geselskap van mense wat weet wat hulle doen en wat hulle bydra, wat nooit die bal laat val nie. Ja, jy is gespanne, maar jy voel ook veilig in die wete dat jy in goeie hande is. Almal werk so hard en trek net heeltyd vorentoe. By KKNK was ons net die tightste groep wat jy jou kan indink. Ons het mekaar moed ingepraat en was daar vir mekaar.”

Koningin Lear se wegholsukses by KKNK – die produksie het ʼn volle agt Kanna-toekennings verower – het baie kritici dit beskryf as die rol van Kellermann se loopbaan. ʼn Gewigtige beskrywing vir iemand soos Kellermann wat al ʼn string massiewe rolle vertolk het.

‘n Toneel uit ‘Koningin Lear’. (Foto: KKNK/Hans van der Veen)

“Kellermann het al baie ‘rolle van haar loopbaan’ gehad,” sê Basson. “Vir my was haar Tamora in Heiner Müller se Anatomie Titus Fall of Rome, en haar Mary Tyrone in Eugene O’Neill se Lang Dagreis na die Nag net so groots as haar Elizabeth Lear – en dit is maar van die goed wat ons saam gedoen het. Daar was vele ander saam met ander regisseurs,” sê hy.

“Maar Lear is ʼn piek om te klim en ʼn maatstaf vir iedereen wat dit aandurf. Dit maak van spelers legendes of vernietig hulle.”

Kellermann sê dit was eers nadat sy Elizabeth Lear by KKNK vertolk het, eers lank nadat sy van die verhoog af was, dat sy tot die besef gekom het sy het pas “Koning Lear” gespeel. “Dit is ʼn geskenk vir enige akteur om so ʼn rol te kan speel voor jy doodgaan,” sê sy.

Koningin Lear volgende maand by Aardklop te sien is, sal die produksie nog ʼn speelvak in November by die Baxter-teater in Kaapstad hê. “Dit is heerlik om tussen speelvakke weer te kan teruggaan na die teks, dan kan jy weer dieper delf en werk aan dinge wat dalk nie lekker gelê het nie,” sê Kellermann.

“Die spanning is altyd daar, want gehore verskil geweldig, maar daar vind verryking [tussen speelvakke] plaas en hoe meer jy speel, hoe meer kry jy geleentheid om die stuk tot sy maksimum te ontgin. Dit is werklik ʼn voorreg om weer die produksie by Aardklop te kan aanbied.”

Antoinette Kellermann tydens ‘n vertoning van ‘Koningin Lear’. (Foto: KKNK/Hans van der Veen)

Oor die onmisbare rol van kunstefeeste soos Aardklop in die Suid-Afrikaanse kunstebedryf, sê Basson dit is danksy dié feeste dat daar nog ʼn bedryf bestaan. “Dit bly brandpunte waarin ons ons kan verwesenlik en ons weerkaatsing sien – dit is salf vir ons gees, dit is geestesgoedere wat ons kan koester. Dit is ʼn maatstaf waaraan ons ons kan meet en ʼn uitdaging vir die toekoms.”

So wyd en groots soos Koningin Lear is, is die produksie nie net vir teater-foendies nie. “Almal wat in hierdie land leef en werk, behoort hierdie produksie te sien,” sê Kellermann. “Dit gaan oor families en misbruik van geldmag, binne ʼn verswakkende ekonomiese wêreld. Ek glo dat elke mens ʼn persoonlik reaksie op dié produksie sal hê.”

Basson eggo haar siening. “Koningin Lear gaan oor mense, selfsug, domheid, liggaamlike en geestelike verval,” sê hy. “Dit is skreiend tragies en skreiend snaaks. Baie om oor te lag én baie om oor te huil – oor wie elkeen van ons is.”

Koningin Lear sal van 24 tot 28 September by Aardklop in Potchefstroom op die planke wees. Kaartjies kan by Ticketpro gekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.