Liewe Heksie vlieg dié vakansie Pretoria én Kaapstad toe

Deon van Zyl en Margit Meyer-Rödenbeck op die verhoog. (Foto: Verskaf)

Desember het skaars begin en talle ouers sit reeds met hul hande in die hare en vra: “Haai oe, Blommie, hoe gemaak met die kinderkroos dié skoolvakansie?”

Die Voortrekkermonument in Pretoria en die Baxterteater in Kaapstad het goeie nuus: beide is vandeesmaand gasheer vir produksies van die geliefde Verna Vels-karakter, Liewe Heksie.

Pretoria

Op 9 en 13 Desember gaan al jou gunstelingkarakters op die Voortrekkermonument in Pretoria se verhoog te sien wees tydens ʼn produksie van Liewe Heksie in Gelofteweek.

Die aktrise Anmari van Achterbergh klim op Heksie se besem vir die optrede van twee verhale, naamlik “Liewe Heksie en Botterblom” en “Die Tuindwergie” – die laaste Liewe Heksie-verhaal wat Verna Vels voor haar afsterwe voltooi het.

In dié storie oor die tuindwergie ontmoet Liewe Heksie ʼn tuindwergie met die naam Casper en in “Liewe Heksie en Botterblom” kry Heksie te doen met Blommeland se enigste melkkoei, Botterblom.

Die akteur Botha Enslin vertolk die rolle van Mattewis, Kwaaitjie Kabouter, die Geelheks, Borrie die Gifappeltjie, Griet, Karel Kat en Koning Rosekrans. Elizma Byleveldt is te siene as Blommie, Kerrie die Gifappeltjie en Koning Rosekrans, terwyl Phillru van Achterbergh onder andere Casper, die Tuindwergie, ʼn Gifappeltjie en Klein Kwaaitjie vertolk.

Kaapstad

Liewe Heksie kuier ook vanjaar in die Wes-Kaap en dié keer span sy haar besem in as ʼn visstok, maar “haai, oe, Blommie”, dit sukkel maar om ʼn vis te laat byt.

Boonop raak Koning Rosekrans se forelle minder. Is Levinia die skuldige of is die nare Geelheks ook weer in die prentjie?

Margit Meyer-Rödenbeck klim terug in dié bekende karakter se skoene vir Liewe Heksie vang vis en gaan haar aas tussen 13 en 21 Desember vir opvoerings by die Baxterteater in Kaapstad uitgooi.

Liewe Heksie vang vis. (Foto: Jaco Marais/Verskaf)

Deon van Zyl sluit by Meyer-Rödenbeck aan in die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans. In 2022 het dié span die ABSA KKNK Kanna-toekenning ontvang vir beste kinderteaterproduksie en hulle is in 2023 genomineer vir ʼn Fleur du Cap-toekenning.

Die nuwe optredes is volgens Meyer-Rödenbeck ook ʼn “volsirkel-oomblik”.

“My eerste professionele rol was in my derde jaar op universiteit in 1990 as ‘Gretel’ in die Story Spinning Theatre se Hansel en Gretel by die Baxterteater. Daarna het nog kinderteatervertonings gevolg as ‘bababeer’ in Goldilocks and the Three Bears en ‘the doormouse’ in Alice in Xmas Wonderland. Na ʼn lang afwesigheid van 30 jaar, is ek terug op die Baxter-verhoog.”

  • Kaartjies beloop tussen R80 en R100. Die 10:00 vertoning op 13 Desember is spesiaal vir blokbesprekings van skole en kleuterskole teen R80 elk. Koop jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.