Luister: ‘Hettie se Kersfees’ raak eensaamheid, depressie aan

llse-Lee van Niekerk is eersdaags te sien in die eenvroustuk ‘Hettie se Kersfees’ op die US Woordfees. (Foto: Verskaf)

Oor die hele wêreld is Kersfees ʼn tyd van samesyn en dit is byna ʼn ondenkbare gedagte dat iemand die feestyd op sy of haar eie deurbring.

Dit is slegs een van die temas wat deur Hettie se Kersfees, ʼn splinternuwe eenvroustuk deur Ilse-Lee van Niekerk, aangeraak word. Dié produksie debuteer vanjaar op die US Woordfees op Stellenbosch. Maude Sandham behartig die regie.

Die stuk is ʼn donker komedie en speel af in die 90’s in Hettie se woonstel, vier dae voor Kersfees. Haar eensaamheid is uitmergelend en sy het geen planne saam met familie of vriende nie.

Van Niekerk, wat die rol van Lorette Bekker in die kykNET-sepie Getroud met rugby vertolk het, het dié stuk verwerk van die Britse skrywer Steven Berkoff se eenmanstuk, Harry’s Christmas. Sy vertel die stuk het reeds in haar derde jaar as dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch oor haar pad gekom.

“Ek hou daarvan om vertaling en verwerking te doen. Ek het gedink dit is interessant om ʼn stuk wat vir ʼn man in Engeland geskryf is, te vat en dit te verplaas na Suid-Afrika met ʼn vrou as hoofkarakter,” vertel Van Niekerk.

Sy vertel die stuk begin waar Hettie die Kerskaartjies wat sy ontvang het, tel. “Sy het ses en dit is nie vir haar genoeg nie. Sy dink die aantal kaartjies wat sy het, bepaal haar waarde in die wêreld, hoeveel mense van haar hou en wat haar status is, hoewel sy met min mense kontak het.”

Van Niekerk sê sy wil deur middel van die stuk ʼn lig werp op die uitwerking wat eensaamheid op ʼn mens se geestesgesondheid kan hê.

“Die stuk het soveel rou emosie en ek dink onderwerpe soos eensaamheid en depressie word nie genoeg bespreek nie. Mense wil nie daaroor praat wanneer hulle eensaam is nie. Dit is asof mense glo hulle moet skaam voel oor die feit dat hulle eensaam is. Mense wil nie hê dit moet lyk asof ander nie van hulle hou nie.

llse-Lee van Niekerk is eersdaags te sien in die eenvroustuk ‘Hettie se Kersfees’ op die US Woordfees. (Foto: Verskaf)

“Dit is egter so ʼn menslike ding. Ons almal voel die een of ander tyd dikwels eensaam en dit is so ʼn diep leemte in ʼn mens se lewe. Ons wil nie daaroor praat nie, maar ons almal voel dit,” voeg Van Niekerk by.

Sy het twee jaar lank haar vaardigheid as aktrise by ʼn dramaskool in Engeland geslyp voordat sy middel verlede jaar teruggekeer het na eie bodem.

“Dit was wonderlik. Al die dosente was baie passievol oor wat hulle aangebied het, so ek kon deel in ander mense se rykdom van kennis. Dit is vir hulle uiters belangrik dat jy ontwikkel en groei. As dosente so is, is dit ʼn vreugde om te leer,” sê sy.

Hoewel Hettie se Kersfees in die 90’s afspeel, glo sy dat eietydse jong mense aanklank sal vind by die produksie. Sy wil die jeug in besonder aanmoedig om die stuk op die planke te sien.

“Al speel dit af voor die tyd van selfone en die internet, dink ek die kwessies is menslik en nog steeds van toepassing op vandag se samelewing. Hettie het ʼn obsessie met die aantal Kerskaartjies wat sy ontvang, wat baie ooreenstem met hoe mense vandag kyk na die aantal likes of follows wat hulle op sosiale media kry. As jy terugtree, besef jy hoe belaglik dit is, maar tog voel ons almal die druk!”

Hettie se Kersfees is op 12, 13 en 14 Maart te sien in die Fringe-tent op die US Woordfees. Kaartjies kos R50 deur Computicket en R60 by die deur.

  • Ilse-Lee van Niekerk het in die Maroela-ateljee met Leonie Bezuidenhout gesels oor Hettie se Kersfees. Luister na die volledige onderhoud bo aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.