Nadia Beukes se ‘The Sound of Music’-kleintyddroom word waar

Nadia Beukes is eersdaags as The Baroness in ‘The Sound of Music’ te siene. (Foto: Nadia Beukes/Instagram)

As klein dogtertjie het Nadia Beukes The Sound of Music keer op keer in haar ouma se sonkamer in Lydenburg gekyk. Sy het elke liedjie woord-vir-woord saamgesing, en het selfs haar ouma se gordyne bekyk om te sien of sy ook vir haarself ʼn rokkie of twee daaruit kan maak.

Vandag, dekades later, beskou sy dié herinneringe as kosbare skatte wat handig te pas gaan kom wanneer sy later vandeesmaand die verhoog as The Sound of Music se barones Elsa von Schraeder betree.

Wanneer sy aan die geleentheid dink om deel van dié verhoogproduksie te wees, is sy bowenal dankbaar. Dankbaar vir haar ondersteuningsraamwerk wat haar die kans gun om haar droom uit te leef, en dankbaar dat sy die werk kan doen waarvoor sy so ontsettend lief is.

Nadia is ma van twee woelwater seunskinders: die vyfjarige Davey en die driejarige Joshua, en is al sedert 2016 met David de Villiers getroud. Vir dié is sy meer dankbaar as enigiets anders, aangesien hy die pot aan die kook gaan hou vir tyd en wyl sy op die verhoog is.

“Dit is een ding om ʼn geleentheid te kry, dit is ʼn ander ding om die kans te hê om die geleentheid aan te gryp. Te danke aan my man en oumas en oupas wat inspring, kan ek met ʼn geruste hart weg van die huis af wees,” vertel Nadia in Maroela Media se ateljee.

“Ek is nie net opgewonde om die produksie tot die beste van my vermoë te doen nie, maar ook sodat my kinders eendag kan terugkyk en kan sien dat hul ma haar drome uitgeleef het. Hopelik inspireer dit hulle om ook groot te droom en hul drome ʼn werklikheid te maak.”

Nadia erken dat sy vir lank gedink het dat sy nie binnekort ʼn rol in The Sound of Music sou losslaan nie. Mettertyd, het sy elke karakter ontgroei, met die barones se rol wat telkemale onder haar radar deurgeglip het. Toe sy die dag die oudisie-voorlegging oopslaan en besef dat die barones nie net sing nie, maar ʼn karakter soos min is, het ʼn nuwe deur voor haar oopgegaan.”

Nadia Beukes saam met haar man, David, en seuns, Davey en Joshua. (Foto: Nadia Beukes/Instagram)

Dit is vir haar ʼn heerlike vooruitsig om dié karakter behoorlik te leer ken.

“Dit is vir my soos ʼn droom, ek is geweldig opgewonde. As jy lief is vir iets, en jy kry die geleentheid om dit te kan doen, dan is dit doodeenvoudig ʼn voorreg. Ek is kinderlik opgewonde om in hierdie produksie te wees.”

Nadia het met een been in die vermaaklikheidsbedryf grootgeword, en het telkemale saam met haar pa, Rouel Beukes, die teater betree. Sy indrukwekkende loopbaan het ʼn reuse-indruk op dié 41-jarige aktrise en aanbieder gemaak.

Nadia saam met haar man, kinders en ouers, Rouel en Eureke Beukes. (Foto: Nadia Beukes/Instagram)

Sy bieg dat die spore wat haar pa in sy loopbaan getrap het, haar dikwels geïntimideer het. Dit was baie diep, en sy het gewonder of sy ooit daardie spore sal kan volstaan.

Die manier waarop sy die vermaaklikheidsbedryf beskou het, het handomkeer verander toe sy die dag besef dat sy niemand se spore hóéf vol te staan nie.

“Die verwagting en verantwoordelikheid was teenoor myself, om my eie spore neer te lê. My pa se loopbaan het ʼn liefde vir die bedryf aangewakker,” vertel sy.

“Jy kan blootgestel word aan ʼn bedryf en besluit of jy daarvan hou of nie. Ek het altyd weggeraak in die betowering daarvan, as jong dogtertjie het ek al verlief geword daarop. Ek wou net deel wees daarvan.”

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met Nadia Beukes.
  • The Sound of Music is vanaf 14 Desember tot en met 14 Januarie by die Artscape Teater in Kaapstad te sien, en trek dan 27 Januarie 2024 by die Teatro in Johannesburg in waar dit tot en met 25 Februarie vertoon sal word.
  • Koop jou kaartjies vir die Kaapstad-vertonings hier.
  • Koop jou kaartjies vir die Johannesburg-vertonings hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.