[Resensie] ‘Winterboom’

Winterboom (Foto: Aardklop)

Aanneming, liefde, die dood en verlange is alles temas wat in Winterboom aangeraak word.  ʼn Ma kan haar aangenome seun hóé liefhê, maar hy is steeds nie haar eie kind nie. ʼn Kind kan alles by sy ouers kry, maar steeds voel of hy versmoor en ʼn gevangene is van sy eie dankbaarheid.

Winterboom speel af in ʼn halfopgepakte plaashuis. Gerda Harmse (Susanne Beyers) is besig om haar trourok reg te trek omdat ʼn jong meisie dit binnekort gaan kom afhaal. Haar aangenome seun, Marius (Jaco Nothnagel), het items vir verkope op die internet geplaas omdat die nuwe woonstel nie genoeg plek vir alles gaan hê nie.

Gerda se man, Dawid, is onlangs oorlede en sy gaan binnekort na ʼn woonstel in Somerset-Wes verhuis. Al wat nog nie opgepak is nie, is die lang eetkamertafel en haar geliefde klavier.

Die jong meisie wat Gerda se trourok wil koop, Ané Volschenk (Cintaine Schutte), daag op met ʼn verskuilde agenda; Gerda is haar ma en sy moet ʼn briefie van haar pa kom afgee.

Die toneelstuk bevat rou emosie en elke karakter het sy of haar eie griewe waarmee hy of sy worstel. Die eenvoud van die verhoog dra by tot die intensiteit van die storielyn. Die gespanne verhouding tussen ma en seun kom duidelik na vore en die ongemak en irritasie met mekaar kan in die akteurs se lyftaal gesien word. Cintaine speel ʼn ongemaklike, vroetelende, senuagtige jong vrou wat nie regtig weet hoe die aand gaan afloop nie. Die emosie kom in haar hande, haar oë, haar nek en haar houding na vore, dermate dat lede van die gehoor nie hulle oë van haar kan afhou nie en in afwagting luister wat sy volgende gaan sê.

Susanne Beyers, ʼn gesoute aktrise, is op haar gemak op die verhoog, en vir die kyker is dit moeilik om ʼn vinger op Gerda te plaas. Sy neem jou denke in beslag en jy wonder hoe dit voel om in haar situasie te wees. Om nie jou eie kind se ma te wees nie, maar ook nie regtig jou aangenome kind se ma nie. Jy kan nie besluit of jy vir Gerda jammer kry of haar minag nie.

Jaco Nothnagel speel pragtig klavier in die toneelstuk wat moontlik bydra tot die sagtheid rondom sy karakter. Hoewel Marius ʼn effens bedorwe brokkie is, kry hy dit reg om die gehoor te oortuig om meegevoel met hom te hê.  Hy verlaat aan die einde van die stuk die huis, al het hy nêrens heen om te gaan nie. Hy laat jou verstaan dat dit die beste besluit vir hom is.

Deur al die ingewikkelde emosies en elke karakter se eie probleme, is daar ʼn vreemde vrede wat heers aan die einde van die toneelstuk. Hoewel daar onrustigheid op die verhoog is, het elke karakter gedoen wat hulle gekom het om te doen.

Marius het die plaashuis verlaat om sy hart te volg na Wene. Ané het haar oorlede pa se wense gehoorsaam deur vir Gerda sy brief te neem. Sy het ook uiteindelik haar ma gesien. Gerda het die waarheid onder die oë gesien waarvan sy al 30 jaar lank weghardloop.

Elke mens dra seer in hom of haar saam en dit is één gesin se stryd na vrede wat Winterboom uitbeeld. Vrede en geheime blyk belangrike temas in die toneelstuk te wees. Geheimsinnigheid oor wie jy werklik is, wat jy al voorheen gedoen het, waardeur jy gaan of waarheen jy op pad is, en dan die soeke na vrede in jou hart, oor dinge wat jy nie meer kan beheer nie.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Aardklop ondersteun die Teaterbystandsfonds – die kunste en vermaaklikheidsbedryf se enigste hulpfonds. As geregistreerde niewinsgewende-organisasie (wat 18 A Belastingaftrekkingsertifikate uitreik) is die TBF  totaal afhanklik van donasies om veral hulpbehoewende bejaarde kunstemense te onderhou. Jou donasie is die applous wat ʼn lewe kan red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae