‘Sitkamer-teater’ deur Cintaine en kie nou ook op verhoog

Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt in “Mutton Hour”. (Foto: Jeandré Hammond)

Met ’n reeks sketse, ’n storie om te vertel en die rustige atmosfeer van ’n tuisomgewing, wil die akteurs Cintaine Schutte en Wilhelm van der Walt gehoorlede bekoor met ’n teaterstuk wat sommer in jou eie sitkamer opgevoer kan word.

Mutton Hour is gedurende die Covid‑19-inperking deur Schutte, De Klerk Oelofse, Gideon Lombard en Jemma Kahn geskep met die idee om teater meer toeganklik vir mense te maak.

In daardie stadium het die swaar werklikheid van die agteruitgang van teater die Suid-Afrikaanse teatergemeenskap in die gesig gestaar. Teaters het landwyd noodgedwonge hul deure gesluit en kunstefeeste, waar teater voortgeleef het, kon nie plaasvind nie.

“Ons wou teater na mense toe bring op ’n verantwoordelike manier. Dis toe dat ons begin speel het met idees oor geleenthede wat ons nie noodwendig ten volle benut nie,” vertel Schutte aan Maroela Media.

Die ontwikkelingsproses van die produksie was egter uitgerek en het soos klei voortdurend ’n ander vorm aangeneem. Die span wat aanvanklik met die projek afgeskop het, het ook verander aangesien ander geleenthede oor hul pad gekom het.

“Werk is werk, ons het geweet waar prioriteite lê, daarom het ons span verander soos wat die tyd verloop het.”

Hoewel dit ’n tydjie geneem het om befondsing vir die produksie te kry, was daar ’n lig aan die einde van die tonnel toe NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) betrokke geraak het en die Mutton Hour-span die geleentheid gekry het om op die Suidooster-kunstefees te debuteer.

“Hierdie produksie is eintlik ontwerp om na huise toe te gaan, maar ʼn mens moenie die waarde van feeste onderskat nie. Daar is baie voete wat daar deurkom, wat die teaterstuk kan sien en wat ons dan later kan nooi vir ’n tuisvertoning.”

Die idee van tuisvertonings het die groep akteurs egter onomwonde daarvan oortuig dat selfs al sou hulle by kunstefeeste optree, dat hulle dit glad nie op fisieke verhoë sou doen nie.

Dis juis om hierdie rede dat hulle dit tydens vanjaar se Woordfees, wat tans in Stellenbosch plaasvind, in ’n vertrek uitvoer wat jou herinner aan ’n vertrek wat in Jan Alleman se huis kan wees.

“Ons soek ’n onkonvensionele ruimte. Dis juis omdat die produksie eintlik bedoel is om by ’n braai, om ’n swembad, by ’n babatee of selfs tydens ’n Kerspartytjie opgevoer te word.”

“Ons het bittermin spasie nodig, ons kan dit werklik in enige omstandighede opvoer.”

Dit maak Schutte opgewonde om te dink dat hulle by gehoorlede se huise ingenooi gaan word, heerlike vermaak kan bied en na die afloop van die vertoning sommer ’n glasie wyn kan klink.

(Foto: Jeandré Hammond)

Hoewel Schutte vandag gereeld op die televisie- en grootskerm te siene is, is dit vir haar lekker om ook weer teater in só ’n rou vorm te kan beleef.

“As akteur is daar verskeie mediums wat dikwels as jou muse optree, en jy moet die geleenthede aangryp wat jy kry, maar dis lekker om weer teater ook te kan doen.”

Vir Schutte herinner die teaterstuk haar aan haar dae as jong aktrise en sy staan weer in die skoene van ’n aktrise wat teater in sy eerlikste vorm sien.

Mutton Hour is saamgestel uit verskillende sketse waar daar onder meer van kamishibai-toneelspel, wat op ’n klein toneelbord plaasvind en van Japannese oorsprong is, gebruik gemaak word.

“Dis ’n houtboks met geïllustreerde prente wat gebruik word om die storie te vertel. Jemma [Kahn] het dié tegniek in Japan geleer en dit aan Suid-Afrikaanse gehore kom voorstel.”

Schutte benadruk dat dit bydra tot die kreatiewe aard van Mutton Hour.

“Daar het soveel kreatiewe insette in die skep van die stuk gegaan. Dis ons manier waarop ons ons stempel kan afdruk.”

Mutton Hour kuier tans by die Woordfees in Stellenbosch en kan op dié dae en tye gesien word:

  • 11 Oktober om 17:00 en 19:30
  • 12 Oktober om 14:00 en 17:00
  • 13 Oktober om 18:00 en 20:00
  • 14 Oktober om 17:00
  • 15 Oktober om 13:00 en 15:00
  • 16 Oktober om 15:00

Kaartjies daarvoor kan op hierdie webwerf aangeskaf word. Stuur ’n e-pos na [email protected] om die teaterstuk in die gemak van jou eie huis te kan beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.