Teaterkursusse ‘ʼn eerste vir nasionale kunstefeeste’

Kunsentoesiaste en opkomende teatervervaardigers kan nou die praktiese aspekte van die kunstebedryf eerstehands by ervare kenners leer, deur middel van Aardklop se verhoogbestuurskursus en produksiebestuurwerksessies.

Ná die reusesukses van Aardklop se produksiebestuurswerksessie in 2017 is daar besluit om die aanbod in 2018 uit te brei. Daar word vanjaar ook ’n verhoogbestuurskursus voor die fees aangebied.

“Hierdie is een van Aardklop se projekte waarop ek die trotsste is,” het Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, gesê.

“Na my wete is Aardklop die enigste nasionale kunstefees wat kursusse en werksessies van dié aard aanbied. Jaarliks raak die tekort aan kundige personeel meer. Wat baat dit die kunstenaars se werk is van hoogstaande gehalte, maar ons het nie genoeg mense agter die skerms wat die produksie ondersteun nie? Saam met die ATKV en Artéma poog ons om aandag te gee aan hierdie tekort.”

Chris de Bruyn, kunste- en ontwikkelingsbestuurder van Artéma (Die Instituut vir Kunsbestuur en Ontwikkeling by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom) verduidelik dat kandidate by die produksiebestuurswerksessie die verskillende fasette van ’n produksie gaan leer verstaan.

Die werksessie strek oor vier dae, van 2 tot 5 Oktober. Deelnemers kan vir die volle duur aansluit, of vir slegs enkele dae. Nuwe temas sal daagliks behandel word, onder meer produksiebestuur in Suid-Afrika, hoe om met ʼn begroting te handel, toepaslike regsaspekte en hoe om kunstenaars en bemarking te benader.

Die verhoogbestuurskursus fokus meer op die dinge wat op die verhoog gebeur, soos effektiewe beligting, dekor en klank.

’n Kortkursussertifikaat in verhoogbestuur van die Noordwes-Universiteit (NWU) sal ná suksesvolle afhandeling van die kursus aan deelnemers toegeken word. Dié kursus strek oor twee dae, naamlik 28 en 29 September.

Ervare kundiges stel hulle bedryfskennis vir die werksessie en kursus beskikbaar. Ismail Mahomed (uitvoerende hoof van die Markteater Stigting), Saartjie Botha (US Woordfees-feesbestuurder), Hugo Theart (waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk) en Strachan sal by die produksiebestuurswerksessie hulle waardevolle vakkennis deel.

“Baie van die praktiese aspekte in hierdie bedryf kan net deur ondervinding aangeleer word; daarom is dit so waardevol om by mense te leer wat self al jare in die bedryf werk. As iemand by die werksessie of kursus uitstap, sal hulle beslis meer waarde kan toevoeg tot ’n produksie as tevore,” het De Bruyn gesê.

Daar is net plek vir 20 mense per sessie, wat die ervaring baie persoonlik maak.
Vir meer inligting hieroor kontak De Bruyn by [email protected] of 082 855 7962 om jou plek te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.