Teaterstuk plaas randfigure, maan in die kollig

Carlo Daniëls in ‘Jessie, die man en die maan’. (Foto: Verskaf)

Jessie, die man en die maan, ʼn teaterproduksie wat vandeesweek op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn op die planke is, vertel die verhaal van ʼn jong man, AB, wat sy vrou, Jane, en hulle seun, Jessie, aan die “maan” verloor.

Jessie, die man en die maan gaan oor AB en Jane se liefde vir mekaar wat oor die jare ʼn huwelik van pyn en misbruik geword het. Veral wanneer Jane tydens haar swangerskap bekkengordelsindroom, ʼn toestand wat in uiterste omstandighede tot verlamming kan lei, ontwikkel. Die egpaar se seuntjie, Jessie, word tydens volmaan gebore, glo ʼn gebeurtenis waaroor AB se pa hom gewaarsku het.

Jane se frustrasie met haar verlamde liggaam en die konflik in hulle huwelik bereik breekpunt wanneer die egpaar een aand in ʼn struweling betrokke raak en dit tot Jane se dood lei. Dit is die begin van Jessie se spreekwoordelike ontrafeling en vir jare daarna woed ʼn stryd tussen ʼn man, sy seun en die maan. ʼn Geveg wat AB uiteindelik verloor.

In hierdie produksie is die bekroonde akteur Carlo Daniels saam met Kanya Viljoen, ook die skrywer en regisseur van die stuk, op die verhoog te sien.

Daniels het vroeër vanjaar met die kykNET Fiësta-beeldjie weggestap vir beste spel in ʼn ondersteunde rol in Ek, Anna van Wyk. Hy is tans op die kassie te sien as Ruben in die kykNET-drama-komediereeks Mooiweer en warm.

Kanya (Foto: Verskaf)

Talle pryse en beurse is al aan Viljoen toegeken vir haar teater- en rolprentwerk en sy het ook ʼn rits benoemings ontvang. Dit sluit ʼn Fiësta-prys vir beste opkomende kunstenaar, SA Theatre Magazine se prys vir beste ontluikende regisseur en die Silwerskerm-prys by die Cannes Young Director’s-toekennings.

Viljoen sê die storie is ʼn verkenning van randfigure in die samelewing. “Dit gaan oor mans en vroue wat nooit die voorreg kry om deur hulle trauma te werk nie, terwyl hulle probeer oorleef en klaarkom. Mans en vroue wat trauma van een generasie na die volgende oordra.”

Sy voeg by dat die maan verskeie simboliese betekenisse inhou. “Dit word ʼn simbool van gebede en antwoorde, van mense wat verlore is wat aanhou om by ons te bly, en van groter ritmes en lotgevalle wat ons net terugskouend kan verstaan.”

Jessie, die man en die maan kuier tans op die KKNK in Oudtshoorn en kan op dié dae en tye gesien word:

  • 5 April om 09:30
  • 6 April om 19:00
  • 7 April om 18:00
  • 8 April om om 14:00

Kaartjies is op Webtickets beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.