‘Terminaal 3’: ʼn Somber tyd in die wagkamer

V.l.n.r. André Roothman, Carla Smith, Edwin van der Walt, Anna-Mart van der Merwe en Stian Bam (Foto: Maroela Media)

Terminaal 3 uit die pen van Lars Norén, wat as die grootste Sweedse dramaturg ná August Strindberg beskou word, word na Afrikaanse gehore gebring danksy regisseur Marthinus Basson wat dié stuk vertaal het.

Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Edwin van der Walt, Carla Smith en André Roothman is in die hoofrolle te sien in die drama wat dié week by die Woordfees in Stellenbosch op die planke was.

Ander akteurs sou waarskynlik te lig in die broek gewees het om die vertolking te behartig van dié stuk, wat byna so donker is soos ʼn Noorse noir.

Mens wil nie te veel verklap van die stuk nie om seker te maak dat toekomstige gehore self die verloop van die verhaal kan meemaak. In die drama maak ’n jong getroude paartjie in ’n hospitaalwagkamer gereed vir die geboorte van hul eersteling, terwyl ’n geskeide ouerpaar wag om die liggaam van hul 19-jarige kind uit te ken.

Terminaal 3 is nie ligte kykstof nie. Dit is nie ʼn stuk waar jy met ʼn lied in jou hart by die deur uitstap nie. Dit is ʼn stuk wat jou bybly en waaroor jy moet nadink. Dit is jammer dat die gehoor waarvan ek deel was op sommige onvanpaste plekke gelag het – waarskynlik eerder omdat hulle onthuts was, as wat hulle iets humoristies gevind het.

Volpunte vir die rolverdeling wat dié stuk met volwassenheid aangepak het, soos wat mens van hulle ervaring verwag.

ʼn Lid van die gehoor het aan Maroela Media gesê die stuk is stof tot nadenke. “Edwin is absoluut ongelooflik. Hy het uitgestaan in sy rol. ʼn Baie goeie stuk.”

Nog ʼn lid van die gehoor meen dit is ʼn ontstellende, donker stuk. “Dis ʼn baie swaar onderwerp. Dis nie maklik om ʼn kind aan die dood af te staan nie. Dit is ʼn ernstige produksie, en mense lag soms op onvanpaste tye omdat dit byna te diep is. Die tydsberekening van die akteurs was uitstekend.”

“Ek sou nie sê dit is ʼn moet-sien nie; dit gaan waarskynlik nie in almal se smaak val nie. Dit is ʼn baie sensitiewe onderwerp,” sê nog iemand.

  • Terminaal 3 was te sien by die Woordfees in Stellenbosch. Besoek gerus die webwerf vir inligting oor nog produksies wat tot 16 Oktober 2022 te sien is. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.