Die Pieter Toerien-teater by Montecasino het hierdie week geskiedenis gemaak toe ʼn Afrikaanse toneelstuk vir die eerste keer by dié teater op die planke verskyn het.
Vettie Vettie is ʼn skreeusnaakse produksie oor die eeueoue sellulietstryd wat meeste vroue voer om die ridder op die wit perd se hart, en hand, te verower.
Hanna Grobler vertolk die hoofrol van Vicky wat nou al lank stoei met haar sywaartse groei, en hoewel sy ʼn suksesvolle eienares van ʼn boekwinkel is en self op die spreekwoordelike rak is, kan sy dit nie bekostig om fisies self op die rak te sit nie.
Omring met soveel droomverhale oor die liefde wat blom tussen helde en heldinne, kan Vicky net wonder hoe dit moet wees om ʼn Rhett Butler of Heathcliff in haar lewe te hê… totdat Tom Delport (André Lotter) haar drumpel betree. Meteens besef sy hy is die een, maar voordat haar ridder haar nog oor sy hings se rug sal kan gooi, sal onse Scarlett O’Hara eers ʼn paar oortollige rolle moet afskud.
Om dinge te vererger is Vicky se huismaat, James (Luan Jacobs) ʼn bobaaskok wat nie wis van ʼn gewone dis nie. Boonop is Vicky se ander huismaat, Henri, ʼn rietskraal terggees wat vet pret daaruit put om Vicky se siel te versondig met herinneringe van haar ander, gefaalde diëte. Wie anders sou hierdie rol kon vertolk as die beminde Tobie Cronjé?!
Vettie Vettie beloof om ʼn fees van vermaaklikheid op te dis. Die produksie is ʼn vertaling van die uitmuntende komedie van Charles Laurens se My Fat Friend en die verwerking is deur Johan Bernard en Pierre van Pletzen behartig.
Die toneelstuk is tot 1 Junie by die Pieter Toerien-teater in Montecasino, Johannesburg te sien. Besprekings kan by Computicket gedoen word.
Kompetisie:
Ons het vyf dubbelkaartjies om weg te gee vir die vertoning wat op Donderdag 15 Mei plaasvind! As jy op dié aand in Johannesburg by Montecasino kan wees en graag die komedie wil sien, kan jy net vir ons ʼn e-pos stuur na [email protected] met jou naam, e-posadres en selfoonnommer om in aanmerking te kom vir die kaartjies. Die kompetisie sluit op Dinsdag 13 Mei om 12:00 en wenners sal per e-pos gekontak word.
http://youtu.be/OR2RVd4_swU