Video: SA’ners se humor onder die loep in sketskomedie

Die “Francois Toerien Show +” se geselskap. Agter is Lorraine Burger, Esther von Waltsleben, Francois Toerien en Kabous Meiring. Voor is Hendrik Nieuwoudt, Karli Heine, Megan Saayman en Dean John Smith. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

As mens nie lag nie, dan huil jy seker?

Só glo die skrywer, vervaardiger en akteur Francois Toerien – en hy sal dit altyd verkies om eerder te lag.

Wat anders kan mens doen oor onderwerpe soos kanselleerkultuur, voornaamvoorkeure, die Russiese-inval, lisensie hernuwings en Wes-Kaapse semigrasie?

Dít en vele meer word deur Francois se kenmerkende skaterlagaanslag gepak in sy jongste sketskomedievertoning Die Francois Toerien Show + (die plus het meer as een knipoog-betekenis).

Esther von Waltsleben, Lorraine Burger, Dean John Smith, Karli Heine, Hendrik Nieuwoudt en Megan Saayman deel die verhoog met Francois vir ʼn rits skreeusnaakse komediesketse wat ʼn skewe glimlaggie uit selfs die mees siniese of sensitiewe kyker kan dwing.

“Dis maar die waarheid en naarheid van Suid-Afrikaner wees, maar die troos kom daarin dat ons dit saam kan doen en saam kan lag. As ons wil, het ons hierdie ongelooflike manier om saam te staan, en dit bring verligting as ons almal saam so iets ervaar,” sê Esther, wat ook bekend is as Elana in Suidooster.

“Die ongemak en humor kom beide uit ʼn plek van herkenbaarheid. Die grense tussen ʼn grappie en die werklikheid is soms vaag, want mense weet deesdae nie of mens nog mag spot oor of met enigiemand nie,” voeg Lorraine by. Sy was al voorheen saam met Esther in Francois se komediesketse te sien.

Prontuit se Kabous Meiring verskyn ook as gaskunstenaar in die Die Francois Toerien Show +.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

“As jy iets nie verstaan nie, is dit heel moontlik omdat die werklikheid van ons wêreld rondom ons ook so onverstaanbaar is. Dit is die nut van sulke absurde humor. Die goed wat jy raaksien en herken is daar, maar hier en daar gaan jy wonder: Wat presies gaan nou hier aan? Maar dis presies omdat dit vreemd genoeg ook só in die regte lewe is,” sê Kabous.

Dean John, ʼn nuweling in Die Francois Toerien Show, voeg by dat teater juis vir akteurs makliker vrye teuels gee om sensitiewe sake te takel.

“Dit is so half asof die teater ʼn veiliger ruimte is waarbinne mens met meer kan wegkom en die spieël ophou oor wat in die werklike lewe aangaan. Dis ʼn slice of life, maar nou kan ons dit op ʼn humoristiese manier aanpak.”

Maroela Media het tydens die produksie se speelvlak by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) by die rolverdeling gaan inloer om meer oor dié vertoning en krag van komedie te gesels.

  • Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.