Video: Teatermakers by Aardklop vereer

Dawid Minnaar in “Mirakel”. (Foto: Hans van der Veen/verskaf)

Suid-Afrikaanse teatermakers is tydens vanjaar se Momentum Beleggings Aardklop-kunstefees in Potchefstroom vereer.

Kunstenaars wat tydens die kunstefees se jaarlikse toekenningsfunksie pryse ingepalm het, sluit onder andere Dawid Minnaar, Sandra Prinsloo en Elzabé Zietsman in.

“Ons het ʼn leuse, ʼn missie: ons wil verryk, verras, vermaak en versoen,” het Alexa Strachan, uitvoerende hoof van Aardklop aan Maroela Media gesê.

“Party mense wil net lag en ontspan, ons bied dit vir hulle. Ander mense wil nadink en gekonfronteer word, hulle wil hulself en die foute in ons samelewing raaksien. Ander mense leer weer iets, en staan vir ʼn oomblik in iemand anders se skoene en besef dat hulle vol vooroordeel was.

“Ek dink ons aanbod hierdie jaar was volrond en perfek.”

Kunstenaars soos De Klerk Oelofse, Rolanda Marais, Marion Holm, Edwin van der Walt, Eben Genis, Bettie Kemp, Carla Smith, Antoinette Kellermann, Amanda Strydom, Je-ani Swiegelaar, Desiré Gardner, Ludwig Binge, Gideon Lombard en Joanie Combrinck was tydens die fees op die planke gewees.

Elzabé Zietsman het drie toekennings vir haar musiekproduksie, Femme is fatale ingepalm, terwyl Die moeder met Sandra Prinsloo twee toekennings gewen het en Mirakel met Dawid Minnaar twee.

Hiermee ʼn volledige lys van die wenners:

Beste visuele kunsuitstalling: Tafadzwa Tega: A seed will take it’s time to grow

Beste musiekuitvoering: Elzabé Zietsman in Femme is fatale

Beste byspeler: Eben Genis in Mirakel

Aardklop-hartsvriende se beste produksie: Die moeder

Beste akteur: Dawid Minnaar in Mirakel

Beste aktrise: Sandra Prinsloo in Die moeder

Beste nuutgeskrewe teks: Goed wat wag om te gebeur

Beste musiekgedrewe produksie: Femme is fatale

Beste toneelaanbieding: Die moeder

Beste regisseur: Marthinus Basson vir Mirakel

Beste algehele aanbieding: Femme is fatale

Kyk na Maroela Media se kuier by die toekenningsgeleentheid hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.