1, 2, 3 soene in ‘Op my eish!’

Brendan en Janae het ‘n tweede soen gedeel. (Foto: verskaf)

Daar is drie vroue wat voorloop in die resies om Brendan Peyper se hart te wen, en hy maak geen geheim daarvan nie.

In die jongste aflewering van kykNET se maatsoekprogram, Op my eish!, was Brendan allermins skaam om ʼn soen of twee uit te deel. Katja en Rachelle het hul eerste soene gekry, terwyl Janae ʼn tweede soen by Brendan gesteel het.

Die episode het afgeskop met ʼn avontuurlustige perdry-afspraak waartydens Brendan ʼn kans gekry het om Thelmané, Christine, Katja, Runet en Chaunté beter te leer ken.

Hy het stelselmatig langs elke meisie gery om met hulle te gesels, aangesien hy teen die einde van die aktiwiteit een sou moes kies om op ʼn alleenafspraak te gaan.

Nadat sy perd teen ʼn berg op koers gekies het, het Thelmané, ʼn gesoute perdryer, besluit om hom te volg. Dié twee het toe lekker gesels en gelag voordat hulle uiteindelik weer by die res van die groep moes aansluit.

Runet het haar geselsie met Brendan geniet, hoewel sy later in haar dagboeksessie erken het dat sy hom nog nie as veel meer as ʼn vriend sien nie.

Dit was uiteindelik Katja wat Brendan se hart vinniger laat klop het. Hy het haar gevra om saam met hom piekniek te gaan hou onder ʼn wilgerboom, en kort voor lank het hulle hul eerste soen gedeel.

“Katja is in dié stadium my weakness. Ek kan nie ophou vir haar kyk nie,” het Brendan in sy dagboeksessie erken. Hy het ook gebieg dat hy maklik op haar verlief kan raak.

Brendan en Katja het hul eerste soen. (Foto: verskaf)

Katja het egter tydens die afspraak vir Brendan gevra of sy die eerste een is wat hy al gesoen het, waarna hy oop kaarte met haar gespeel het en gesê het dat daar wel een ander persoon is wat ook al ʼn soen gekry het.

Aangekom by die huis, het sy die nuus oor hul soen met Natasha, Sonel en Janae gedeel. Sy het ook verklap dat Brendan erken het dat hy al iemand anders gesoen het, en ná ʼn week se geheimhouding moes Janae bieg dat dit sy was.

Sonel was in die gesig gevat hieroor, veral omdat sy gevoel het dat Janae se oneerlikheid haar vertroue verbreek het, en omdat sy die enigste meisie is wat al op ʼn alleenafspraak saam met Brendan was, maar nog nie ʼn soen gekry het nie.

ʼn Konsert, ʼn soen en ʼn teleurstelling

Natasha, Janae, Rachelle en Jonelle is genooi om saam met Brendan Dundee toe te ry in sy toerbus vir ʼn optrede wat hy daardie aand gehad het. Die groep het heerlik gelag en gekuier, hoewel dit nie lank gehou het nie.

By hul halfpadmerk het hulle afgetrek om ʼn paar verversings te geniet. Brendan het Natasha eenkant toe genooi om met haar te gesels. Sy was aanvanklik opgewonde daaroor, totdat Brendan uiteindelik die nuus aan haar gebreek het dat sy huis toe moet gaan.

Brendan het Natasha huis toe gestuur. (Foto: verskaf)

Christine het die aand voor die afspraak vir Natasha gesê dat sy volgende huis toe gaan, iets wat veral bygedra het tot Natasha se hartseer en Rachelle se teleurstelling oor die nuus dat haar vriendin huis toe gestuur is. Al het Natasha vir Brendan gesê dat iemand in die huis haar dié woorde toegesnou het, het sy nie aan hom bekendgemaak wie dié meisie was nie.

Nadat Natasha vertrek het, het die res van die meisies die uitstappie verder saam met Brendan meegemaak. Aangekom in Dundee, het Brendan nie lank op hom laat wag voordat hy Janae eenkant toe geroep het nie.

Hy het haar gerusgestel dat sy allermins huis toe gaan, en het haar selfs gevra om wat in hul eerste afspraak gebeur het, voort te sit. Kort voor lank, was hulle weer aan die soen.

Rachelle het ook ‘n soen gekry. (Foto: verskaf)

Hulle het teruggekeer na die toerbus, waar Rachelle en Jonelle vir hulle gewag het. In plaas daarvan om Jonelle eenkant te roep, iets wat Janae verwag het, het hy vir Rachelle gevra om eenkant met hom te gaan gesels.

Nes Janae, het Rachelle besluit om die soen vir haarself te hou.

“Ek gaan niemand vertel wat gebeur het nie. Ek voel dit is iets wat tussen my en hom gebeur het, en ek wil dit graag so hou.”

  • Op my eish! word elke Donderdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.