Adele stort trane agter stuur in laaste ‘Carpool Karaoke’

James Corden en Adele in die laaste insetsel van ‘Carpool Karaoke’. (Foto: Skermgreep/YouTube/@The Late Late Show)

Die Britse popster Adele het die internet weer op hol gehad toe sy by haar jarelange vriend, die komediant en akteur James Corden, aangesluit het vir die finale en ietwat emosionele insetsel van “Carpool Karaoke” in sy laaste week as gasheer van die The Late Late Show.

Maroela Media het vroeër berig dat Corden dié gewilde laataand-kletsprogram ná agt jaar groet. Hy het in 2015 die leisels by die komediant Craig Ferguson oorgeneem en deurentyd gesorg vir talle prettige insetsels, waarvan die gewildste sekerlik “Carpool Karaoke” was.

Hier nooi Corden bekende musikale gaste uit om saam hom te ry terwyl hulle gesels en van die gas se liedjies saam sing. Bekendes soos Celine Dion, Elton John, Miley Cyrus, Paul McCartney en Madonna het deur die jare by hom aangesluit.

Dit is wel die tweede keer wat Adele saam met Corden in die kar karaoke.

Corden en Adele het vir oulaas saam gesing. (Foto: Skermgreep/YouTube/@The Late Late Show)

Sy eerste insetsel saam met die “Easy On Me”-sanger het in 2016 soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei en het tot op hede meer as 260 miljoen trefslae op YouTube gekry.

Vir die laaste insetsel het sy besluit om Corden by sy huis in Los Angeles te verras en hom met simbale wakker te maak.

Hy het toe ingestem dat sy hom na sy kantore by die CBS Studios neem, ondanks haar erkenning dat sy “nie eintlik nie ‘n briljante bestuurder nie”.

Tydens hul gesprek het Corden die probleme onthul wat hy gehad het om bekendes te oorreed om aan “Carpool Karaoke” deel te neem toe hy die eerste keer na die VSA gekom het.

Hy vertel dat sangers soos Mariah Carey en Stevie Wonder se deelname ʼn omkeerpunt was en gehelp het om ander legendes ook op die program te kry.

Die Britse aanbieder het ook erken dat sy tyd in Los Angeles nie altyd maklik was nie, waarna Adele verklap het dat ʼn lang gesprek tussen dié twee hartsvriende die eerste vers van haar jongste treffer, “I Drink Wine”, geïnspireer het.

Adele het Corden wakker gemaak met simbale. (Foto: Skermgreep/YouTube/@The Late Late Show)

“Dit [die vers] beskryf alles wat ek daardie dag met ons gesprek gevoel het,” het Corden gesê.

“Ek was so verbaas oor hoe jy dit reggekry het om alles wat ek oor myself en die lewe voel te vat en dit net in ‘n vers te sit. Dit was die grootste voorreg omdat dit ‘n gesprek was wat so eerlik tussen twee vriende was. Dat jy so iets kon skep, gaan my verstand te bowe.”

Adele en Corden het ook saam dié treffer, sowel as haar lied “Rolling in the Deep” en “Don’t Rain on my Parade” van die musiekblyspel, “Funny Girl”, gesing.

Daar is verder ʼn paar trane gestort oor Corden se besluit om saam met sy gesin na die Verenigde Koningkryk terug te keer.

“Dit was ‘n briljante avontuur, maar ek is net so seker dat dit tyd is vir ons as ‘n gesin – met mense wat ouer word, mense wat ons mis – om huis toe te gaan,” het hy bygevoeg.

“Ek weet,” antwoord ’n emosionele Adele, wat ook vertel het hoe hy en sy vrou, Jules, haar deur haar egskeiding bygestaan het.

“Ek is nog net nie gereed om terug te gaan nie anders sou ek saam met jou teruggaan.”

Bykomende bronne: BBC, CBS.

Kyk na die insetsel hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.