Annelisa op 75 gesond, geseënd en steeds geliefd

Annelisa Weiland as Kate in ‘Suidooster’. (Foto: Verskaf)

Hoewel sy haar gewilde 7de Laan-karakter Hilda de Kock (later Van Zyl) vyf jaar gelede gegroet het, is daar tot vandag toe min Suid-Afrikaners wat verby die aktrise Annelisa Weiland in die openbaar sal kan loop sonder om twee keer te kyk.

Sy het immers sedert 2000 die harte van miljoene Suid-Afrikaners geroer, en dikwels hul oë laat rol, danksy dié karakter se “serpiedanspassies”, sêgoedjies en kreatiewe kombuis-konkoksies.

“Ek is net vanoggend voor ons afspraak deur ʼn man in ʼn winkel voorgekeer. Hy het eers deur skrefies-oë onseker na my geloer, maar toe hy kon vasstel wie ek is, het hy my sommer hardop gegroet asof ons mekaar jare lank ken,” vertel sy met ʼn lag aan Maroela Media.

Met haar kort, stylvolle haarsnit, noupassende denimbroek en stoute grappies, is Annelisa selfs in die ouderdom 75 egter ver verwyderd van Hillside se konserwatiewe Hilda.

Sy is boonop deesdae op die kassie in ʼn ander gewilde sepie, Suidooster, as die karakter Michelle se ma, Kate, te sien.

“Die hele Suidooster-span, van die grootbase en skrywers, tot die grimeerkunstenaars en akteurs is wonderlik. Hier word ʼn baie veilige hawe vir ons geskep,” vertel Annelisa.

“Die arme grimeerkunstenaars is egter soos ons sielkundiges, hulle hoor dikwels eerste klaagliedere. Gelukkig is hulle sulke warm mense,  ʼn mens wil sommer al jou geheime aan hulle verklap.”

Vir dié rol het die gebore Kapenaar na 50 jaar in die Goudstad, Bloubergstrand toe verhuis.

“Enige trek is stresvol, maar ek het in daardie stadium al ʼn rukkie gesoek vir ʼn nuwe avontuur en was gereed om die skuif aan te pak. Ek is net elke keer verstom oor hoe die Kaap deur die jare uitgebrei het. As kind was Durbanville in die Wes-Kaap ʼn plaasplek met twee hoofpaaie.”

Annelisa soos baie haar ken; as ‘7de Laan’ se Hilda. (Foto: Facebook/7de Laan)

Haar broer, Ewald, en ʼn klompie hartsvriende is ook in die Kaap.

“Dit voel vir my asof almal net so ver uit mekaar bly, so ek moet maar rondry, jong. Dis veral ʼn probleem saans as mens ʼn wyntjie wou drink,” skerts sy.

“Die Kaap bly maar mooi, maar van die mense is ʼn bietjie styf, hulle dink hulle is blerrie fabulous. Maar as jy eers jou plekkie gevind het en moeite probeer maak met die mense om jou, raak dit beter.”

In haar kop en gees is sy nog 30, bieg Annelisa.

Daarom lyk en voel sy nie noodwendig soos die gewone 75-jarige nie. Sy gaan ook al sedert haar jongmensdae op die verhoog in klassieke Shakespeare-rolle, gimnasium toe.

“Tóé was dit nog nie in die mode vir meisies om te gaan nie, maar die manne wat saam met my in ʼn opvoering van Troilus and Cressida was, wou bietjie spiere gaan bou vir gevegstonele, toe besluit ek om saam te gaan.”

Sy terg dat sy tog nie die ou gewone skete vryspring nie, maar glo daarin om nuuskierig te bly en avonture aan te pak. Ook haar vriendekringe is kernbelangrik.

“Ek is baie na aan my broer en skoonsus, en het goeie vriende en ʼn beste vriendin wat in Switserland woon, maar jaarliks probeer kuier. Ek is nie krities as sodanig nie, maar glo daarin om jouself met hartsmense te omring. Sonder sulke vriende, is jy heeltemal verlore.”

Hilda nog diep in kykers se harte

Sy word deesdae veral voorgekeer deur mense wat nog “die ou 7de Laan” soos sy dit beskryf, onthou.

“Ek dink dis maar ʼn geval waar ek mense herinner aan wat was, ek kry amper nou meer aandag as vyf jaar gelede. Mense hunker na die verlede en nostalgie van die vroeë dae van 7de Laan.

Annelisa en Quinne Brown, wat destyds Connie in ‘7de Laan’ vertolk het. (Foto: Facebook/ Annelisa Weiland)

“Dit was die briljantheid van Danie Odendaal. Hy het hierdie wêreld en karakters geskep met ʼn bietjie drama, maar met ʼn bietjie lawwigheid tussendeur. Dít het ons so geliefd onder kykers gemaak.”

Sy onthou graag ʼn tydperk in die storielyn waar Hilda se arms en bene in gips moes wees weens ʼn bromponie-ongeluk.

Haar vriendin, en voormalige 7de Laan-akteur Anna-Mart van der Merwe, moes volgens Annelisa al laggend haar help om die dag op die stel kleedkamer toe te gaan.

“Ek kon niks beweeg nie, alles het so stokstyf gestaan, ek het myself doodgelag,” vertel Annelisa terwyl sy haar arms en bene voor haar reguit uitsteek.

Daar is natuurlik ook eindelose staaltjies oor hoe kykers hul dikwels in die sepie ingeleef het.

Sy vertel hoe sy en Pierre van Pletzen, wat haar karakter se man, Oubaas, vertolk het, tydens ʼn 7de Laan-promosietoer na ʼn Wes-Kaapse plattelandse dorpie in dieselfde gastehuiskamer bespreek is.

“Ons moes die gemeenskap herinner dat ons nie regtig man en vrou is nie. Die mense op die dorp het ons ook vertel dat daar tussen 18:30 en 19:00, wanneer 7de Laan op die televisie was, byna nooit misdaad in die dorp gepleeg is nie. So selfs die skelms het saamgekyk,” voeg sy laggend by.

Die program se vermoë om taalgrense te oorskry, meen Annelisa, moet ook nie ongesiens verbygaan nie.

“Soveel mense het al na my toe gekom en gesê dat dit hulle nie net Afrikaans leer praat het nie, maar ook hul punte daarin op skool help verbeter het. Dít was die krag van 7de Laan se sukses gewees.”

Verhoog haar eerste tuiste

Hoewel Suidooster haar tans besig hou, sê Annelise dat sy graag weer verhoogwerk sal aandurf “as die geheue dit toelaat”.

Klassieke rolle op die verhoog, veral in Shakespeare-produksies, was immers haar forte. Die teater is ook waar sy die meeste bevrediging as aktrise gekry het.

“Die verhoog toets jou en daar is nie ruimte vir foute nie. Daardie verhouding met die gehoor is ook prysloos en laai jou battery as akteur. Daardie interaksie is die ware towerkrag van die teater.”

Sepiewerk toets op sy beurt akteurs se uithouvermoë en aanpasbaarheid, vertel sy.

“Ons het vier verskillende regisseurs met verskillende style. Jy moet vinnig wees en jou styl of aanslag dadelik aanpas as hulle so sê. Jy moet ook die heeltyd dialoog leer, so dit is beslis harde werk en ʼn ander tipe vaardigheid.”

Volg jou drome en volhard

Die aktrise het vanjaar haar 75ste verjaarsdag gevier. (Foto: Facebook/ Annelisa Weiland)

Met ʼn loopbaan wat oor meer as ses dekades strek, sê Annelise dat ʼn goue reël vir haar nog altyd was om te weet wanneer om kritiek af te lag en wanneer om dit te omarm.

Struikelblokke en die kunste is volgens haar ook in mekaar verweef.

“Dié wêreld is nie alles net adoration nie, jy stel jouself bloot om bespreek te word. Ek sê altyd dat die noemenswaardige goed in jou lewe dikwels die moeilike goed is. Dit help om ʼn mens te vorm en dis gewoonlik die staaltjies wat jy tog deel.”

Daarom glo sy daarin om sterk in ʼn mens se eie karakter te glo.

“Ek het nog altyd probeer om myself ten volle uit te leef. Deur die jare moet mens die negatiwiteit en goedjies wat krap, afskaaf sodat jy ten einde die gelukkigste weergawe van jouself kan wees.”

Vir verbitterheid en ontevredenheid het sy ook nie tyd nie.

“Volhard en wees vreesloos in dit wat jy doen, en as jy ongelukkig is in jou beroep – maak ʼn verandering. Die lewe is immers té kort om daagliks iets aan te pak wat jou sielsongelukkig maak. Omring jouself ook altyd met goeie mense… en natuurlik goeie wyn,” voeg sy knipoog by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.