‘Asgat word graf’ vir twee kokkedore

Francois en Braam se “Kokkedoor Vuur & Vlam”-pad het tot ‘n einde gekom. (Foto: verskaf)

Die vure is getem en die kole tot as verbrand in die jongste episode van kykNET se Kokkedoor Vuur & Vlam, en vir twee deelnemers was dit juis “as” wat vir hulle ʼn kaartjie terug huis toe besorg het.

Aspatats, askoek, asvis en asvleis. Dít is wat die 18 oorblywende deelnemers van Kokkedoor Vuur & Vlam in die jongste uitdaging van die reeks moes aanpak. Daar is kwartels gestop, stokbrood gemaak, gekaramelliseerde pere gebak en ʼn paar stukkies vleis tussen die as, in klei gaargemaak.

Van die geregte het die beoordelaars, Bertus Basson, Kobus Botha en gasbeoordelaar, Hetta van Deventer-Terblanche, beïndruk, en sommige daarvan het veel te wense oorgelaat.

“Die asgat word ʼn graf vir ʼn Kokkedoor-span vandag,” het Bertus voor die uitdaging gesê.

Uiteindelik was dit Braam en Francois wat hul voorskote moes ophang en die pad huis toe moes vat.

“Ons het niks om oor sleg te voel nie, ons het ʼn paar interessante goed probeer,” het Francois ná die uitdaging gesê.

“Dit help nie om nou agteruit te beweeg nie.”

Tjaart en Nataan het hierdie week voortgebou op hul kombuisvriendskap, en het as een van die topdrie-spanne geseëvier. Karen en Ashley, wat verlede week in ʼn span geplaas is nadat hulle swak in hul oorspronklike spanne gevaar het, het ook ʼn plek in die topdrie gevind.

Nicole is hard aan die werk. (Foto: verskaf)

Saam met hulle was Jan, ʼn predikant van Cradock, en Kevin, ʼn vurige sjef wie se wag voor sy mond nie altyd op sy pos is nie. Dit was juis dié span wat as wenners by die kombuis, of eerder by die asgat, weggestap het.

Dit was hittete of Lara en Mandré, ʼn nuutgevonde span wat die beoordelaars verlede week saamgesit het, was dié wat hul tasse moes pak. Nadat Lara verlede week saam met haar voormalige spanmaat, Ashley, ook in die laaste drie spanne beland het, was sy mismoedig om te hoor dat dit weer gebeur het.

“Dit voel amper asof ek niks reg doen nie,” het ʼn bewoë Lara gesê.

Haar oom, Joubert, wat saam met Borries in ʼn span is, was ook hierdie week een van die drie spanne wat die swakste gevaar het. Hy was egter meer bekommerd oor Lara as oor sy eie mislukte probeerslag.

“Dit is amper soos jou kind; jy sal eerder die pyn ervaar sodat sy nie hoef nie.”

Borries het egter nie geskroom om sy teleurstelling te kenne te gee  nie.

“Ek hoort nie in die onderste drie spanne nie,” het hy benadruk.

  • Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.