Bekroonde Marita-roman gaan TV toe

Melissa Myburgh as ‘n jong Mart Vermaak. (Foto: Verskaf)

Die dinge van ʼn kind, die Afrikaanse roman uit die pen van die bekroonde skrywer Marita van der Vyver, gaan eersdaags op die kassie te sien wees in ʼn reeks wat verwerk is vir kykNET.

Die reeks, wat in Mei afskop, bestaan uit tien episodes en handel oor die hoofkarakter Mart Vermaak se ontnugtering van haar grootwordjare teen ʼn politieke agtergrond van die onstuimige laat sewentigs, terwyl ʼn ouer Mart haarself in ʼn ontnugtering van ʼn ander aard bevind.

In die roman, wat reeds in die vroeë negentigs verskyn het, leer ken lesers vir Mart as tiener én as vrou in haar dertigs wat as ʼn expat in Londen woon. In die televisiereeks ontmoet kykers egter ook ʼn heelwat ouer Mart wat haar weer in Suid-Afrika gevestig het.

Melissa Myburgh as ‘n jong Mart Vermaak. (Foto: Verskaf)

Melissa Myburgh, wat in die kykNET-reeks Kompleks te sien was, vertolk die rol van Mart as tiener. Cintaine Schutte vertolk die rol van die 30-jarige Mart en die veteraan-aktrise Susanne Beyers is te sien in die rol van die ouer Mart.

Ander akteurs wat deel vorm van die rolverdeling sluit in Jana Kruger, André Weideman, Andahr Cotton, Deànré Reiners, Wilhelm van der Walt, Quanita Adams, Zenobia Kloppers en Ludwig Binge.

Dit is ook Mienke Ehlers en Augusta Zietsman se eerste groot televisierolle – Mienke speel die rebelse Dalena en Augusta vertolk die rol van Suna.

Dit is die eerste keer dat een van Van der Vyver se boeke in ʼn televisiereeks omskep word. “Ek is opgewonde daaroor dat die storie met ʼn veel groter gehoor gedeel kan word. Amper 30 jaar nadat Die dinge van ʼn kind gepubliseer is, word dit die dinge van ons almal. Dit maak my bly,” sê Van der Vyver.

Cintaine Schutte as ‘n 30-jarige Mart Vermaak in ‘Die dinge van ‘n kind’. (Foto: Verskaf)

Die dinge van ʼn kind het in 1994 verskyn. Daar was reeds twee oplaes van die eerste hardebanddruk en daarna ongeveer drie oplaes van die sagtebanddruk tussen 2005 en 2011, en ʼn nuwe sagtebanddruk in 2016. Dit is ook al in Engels, Nederlands en Duits vertaal.

Die dramaturg Harry Kalmer het in die negentigs die boek in ʼn gelyknamige opvoering vir die KKNK verwerk. Dit is ook in 2019 in ʼn eenvrouvertoning omskep met Cintaine Schutte wat die rol van Mart vertolk. Die teks vir dié weergawe is deur Francois Toerien geskryf en Alexa Strachan was die vervaardiger.

Die temas wat fyn deur die boek en teaterstuk verweef is, vorm ook die ruggraat van die televisiereeks.

Die dinge van ʼn kind is vervaardig deur Nagvlug Films, wat ook die vervaardiger van Wonderlus, Skemerdans en Nêrens, Noord-Kaap is. Elanie Rupping en Henriëtta Gryffenberg het die draaiboek geskryf.

Die dinge van ʼn kind word Dinsdae om 20:00 vanaf 10 Mei vanjaar op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.