‘The Tinder Swindler’: Beskerm jouself teen sulke psigopate

Simon Leviev, nou bekend as The Tinder Swindler, het ‘n wêreldwye debat ontlok oor die waaksaamheid teen psigopate. (Foto: Facebook)

Die Netflix-trefferdokumentêr, The Tinder Swindler, het wêreldwyd opslae gemaak en werp ʼn lig op die belangrikheid daarvan om waaksaam en bedag te wees op slinkse swendelaars wat om elke hoek en draai sluimer.

The Tinder Swindler, wat op 2 Februarie vanjaar op Netflix gedebuteer het, het die wêreld aan die gons oor die laventelhaan Simon Leviev wat hordes vroue wêreldwyd uit derduisende dollars verneuk het.

Die dokumentêr, deur Felicity Morris, vertel die verhaal van drie vroue wat deur Leviev ingeloop is nadat hy hulle op die maatsoek-app Tinder ontmoet het.

Nadat drie vroue hulle kant van die storie in dié dokumentêr vertel het, meen talle sosialemedia-gebruikers egter dat vroue “van beter behoort te weet”.

Prof. Renata Schoeman, hoof van die MBA Health Care Leadership-program aan die Universiteit Stellenbosch se sakeskool, sê die kwessie is egter nie só “swart en wit” dat ʼn mens net vroue as bloot liggelowig kan bestempel nie.

Die uitbuitingstaktiek wat deur Leviev gebruik is, soos om kwesbare teikens te identifiseer vir geldelike afpersing en misleiding, dui op psigopatiese gedrag, sê Schoeman.

Pernilla Sjöholm (links) en Cecilie Fjellhøy is wyd gekritiseer deur kykers van ‘The Tinder Swindler’, wat glo dat vroue “van beter hoef te weet”. (Foto: Instagram)

“Dit is ongelooflik moeilik om ʼn psigopaat op heterdaad te betrap. Hulle is patologiese leuenaars en mislei mense doelbewus om hulle modus operandi te versteek. Hulle beplan hulle misleidende stories strategies en gebruik hulle oppervlakkige sjarme om iemand anders verslaaf te maak, en laat jou in jou eie agterdog twyfel en uiteindelik is jý die slagoffer.”

Schoeman sê psigopate is genadeloos in die najaging van wat hulle wil hê, sonder enige agting vir diegene rondom hulle.

“Hulle is baie statusbewus en hulle gedrag sluit in uitermatige egosentrisiteit, ʼn ernstige gebrek aan empatie vir die gevoelens van ander en ʼn bereidwilligheid om by immorele gedrag betrokke te raak vir korttermyngewin, terwyl hulle ander in die proses uitbuit.

“Talle mense sal sê dat iets soortgelyks nooit met hulle sal gebeur nie, terwyl dié soort gevalle nie so ongewoon is soos wat ʼn mens sal dink nie. Psigopatiese gedrag is nie net vir romantiese ontmoetings geoormerk nie – psigopate loop in kantoorgeboue ook rond, met ʼn blywende invloed op die geestesgesondheid van hulle slagoffers.

“Die manipulasie, misleiding, oordrewe selfbeeld en rugstekery van die korporatiewe psigopaat kan lei tot werksverwante depressie, angssteurnisse, uitbranding en fisieke siektes. Dié toestande kos die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks sowat R40 miljard,” sê Schoeman.

Sy voeg by dat Leviev se misleiding, manipulasie, ongeërgdheid oor die nagevolge van sy dade en oppervlakkige sjarme, asook gebrek aan empatie en berou alles klassieke tekens van ʼn psigopaat is.

“Psigopate het gewoonlik ʼn hoër IK en is meer pligsgetrou as diegene met ʼn misdaadrekord. Hulle is minder impulsief, nalatig en onverantwoordelik, wat goed is wanneer hulle hulle spore wil uitvee,” sê sy.

Simon Leviev, gebore Shimon Hayut, het vroue uit miljoene dollar gekul. (Foto: Facebook)

“Leviev is duidelik ʼn charismatiese man wat weet hoe en wanneer om die sjarme aan te draai en wanneer om dit te laat blyk dat hy regte kwesbaarheid toon. Sy misleiding is deeglik, en hy lok sy slagoffers deur na uiterste mates oor te gaan om ʼn geloofwaardige profiel van sukses en ʼn luukse leefstyl te skep wat sy slagoffers se belangstelling en bewondering sal aantrek. Dit is alles vooraf baie goed beplan.”

Schoeman sê dié “vloek van selfvertroue”, ʼn karaktereienskap van talle psigopate – soos sjarme, vreeslose dominansie, vrymoedigheid en ʼn oordrewe selfopvatting – is ook eienskappe wat mense help om te presteer in die sakewêreld en in die lewe, en daarom kan dit soms moeilik wees om ʼn ware psigopaat te identifiseer.

“Suksesvolle psigopate het die vermoë om takties die sielkundige sterk- en swakpunte van diegene rondom hulle te assesseer en ander te manipuleer om ʼn band met hulle te vorm deur noukeurig boodskappe te skep, hulle slagoffers se terugvoer te gebruik om beheer te neem en hulle dan te verlaat wanneer hulle nie meer bruikbaar is nie.”

Waarskuwingstekens:

  • Psigopate kan hulself net so vinnig van verhoudings losmaak soos wat hulle in die eerste plek daarby betrokke kon raak. Weens hulle onvermoë om werklik met mense bande te smee, sal hulle skielik, koud en genadeloos iemand afsê wat nie meer vir hulle bruikbaar is nie.
  • Oppervlakkige sjarme.
  • Valse, opgeblaasde selfopvatting wat gedryf word deur ʼn ego wat uit verhouding groot is.
  • Die nood om iemand te beïndruk wat hulle pas ontmoet het. Kyk uit vir patrone wat in gesprekke voorkom.
  • Onvermoë om liefde of berou te toon.
  • Uitermatige impulsiwiteit of soms roekelose gedrag.
  • Skielike buie wanneer dinge nie op hulle manier verloop nie, terwyl hulle koel en kalm voorkom wanneer ander mense onder druk is.
  • Konstante gesprekke oor hulle eie prestasies.
  • Patrone van berekende manipulasie van mense of situasies vir eie gewin.
  • Kyk uit vir liggaamstaal – psigopate het ʼn gebrek aan empatie en sal nie ander mense se liggaamstaal naboots of by ʼn situasie aanpas nie.
  • Onstabiele verhoudings of ʼn gebrek daaraan. Psigopate kan nie vriendskappe behou nie en het nie goeie bande met hulle families nie. Hulle verhoudings is oppervlakkig.
  • Psigopate deel selde hulle reise, drome of ideale met jou. Hulle het ʼn berekende plan en wil nie hierdie inligting met jou deel nie, ingeval jy agterdogtig raak of, nog erger, hulle idee steel.

Hoe beskerm jy jouself?

  • As dit te goed is om waar te wees, dan is dit tien teen een só.
  • In romantiese verhoudings, behou ʼn mate van geheimenis oor jouself en moenie te veel te vinnig deel nie.
  • Moenie te vinnig in ʼn verhouding beweeg nie, selfs al het hy ʼn private straler. Neem jou tyd voordat jy saam met hom op reis gaan.
  • Vertrou jou instink – as jy voel dat jy gemanipuleer word, dan is dit waarskynlik waar.
  • Vra die menings van jou vriende en familie; in ʼn kantooropset, vra jou kollegas of ʼn mentor. Hulle sal objektief wees en ʼn ander perspektief na die tafel toe bring.
  • Romanse kan jou voete onder jou uitslaan, maar probeer om oopkop te bly. Behou jou onafhanklikheid en moenie jouself te vinnig aan die persoon verbind nie.
  • As jy enige onraad vermoed, hou ʼn rekord van alle kommunikasie.
  • Moet nooit aan die begin van ʼn verhouding jou persoonlike inligting verklap of geld uitgee nie.

The Tinder Swindler is tans op Netflix te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nommer 7 ·

Goeie dokumenter, kyk gerus. Berig gee ook goeie beskrywing van ‘n psigopaat.

Chantel ·

Het dit ook baie geniet. Kyk gerus ook Jeffrey Epstein se dokumentêr op Netflix. Net so siek man gewees.

Kwikkie12 ·

‘n Vrou het baie geld oorbetaal het aan ‘n “man” wat net met haar op Facebook en Whatsapp gepraat het. Uit verskiriklik baie geld geswendel toe uitgevind dis ‘n sindikaat van mense wat kom van iewers hierbo in Afrika. Dit was ‘n klomp skelms maar ‘n Narsistiese man of vrou is ongeneeslik en baie gevaarlik! Baie mense weet nie eers dat sulke mense bestaan nie en vertrou alles en almal. Veral as hulle liefde soek en alleen is, is hulle baie kwesbaar.

Niklaas ·

Hy moet een besonderse gladde bek hê. Want hy lyk nie juis soos George Clooney nie. Daar is duisende van hierdie kaliber knaap op aarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.