Boer Johan en sy Esmerélda steeds smoorverlief

Boer Johan en Esmerélda (Foto: Verskaf)

Die lewe het onverwagte kinkels en draaie vir Johan Lombard (29) en Esmerélda van Wyk (29) geloop toe dié twee deelnemers van die immergewilde kykNET-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou mekaar na afloop van die program gevind het.

Johan het Esmerélda op 20 Maart amptelik gevra om sy meisie te wees en ná twee maande blom die liefde steeds. Hoewel daar ʼn afstand van sowat 400 km tussen dié twee duifies is, keer dit hulle nie om soveel as moontlik saam te kuier nie.

Johan het selfs aan Maroela Media verklap dat daar beslis groot planne vir hul verhouding in die nabye toekoms is. “As jy so lank alleen is, weet jy wat jy wil hê. En ek weet ek en Esmerélda hoort bymekaar,” vertel Johan.

Tydens die reünieprogram – wat in November verfilm en op 7 April op kykNET uitgesaai is – het Johan en sy pasmaat, Arina Toua, reeds aan kykers verklap dat hulle besluit het om slegs vriende te wees.

Esmerélda – wat Nelis Leonard se finale keuse was en saam met wie sy die reünie bygewoon het – se paaie het ʼn ruk later ook geskei.

‘Toe vind ons mekaar’

Die liefde blom op Boer Johan se plaas by Marquard (Foto: Verskaf)

Die groep deelnemers het in Maart in Clarens in die Vrystaat bymekaar gekom om saam te kuier nadat hulle mekaar November laas gesien het. Dit is hier waar Johan en Esmerélda mekaar vir die eerste keer “in ʼn ander lig gesien het”.

“Ek en Esmerélda het lekker gekuier en net so goed geclick. Daar het sparks tussen ons ontwikkel. Alles het net so natuurlik gebeur en dit het reg gevoel.”

Johan het Esmerélda genooi om die volgende naweek by hom op sy plaas by Marquard in die Vrystaat te gaan kuier. Hy het nie gras onder sy voete laat groei nie en het haar sommer dieselfde naweek gevra om sy meisie te wees.

“Esmerélda het Vrydag van Springs na my toe gekom. Ons het die aand gebraai en die volgende dag op die plaas gaan piekniek hou. Ons het Sondag (20 Maart) met die honde gaan stap. Terwyl ons gestap het, het ek gedink dat om Esmerélda by my te hê, presies is wat ek wil hê. Ek het haar daar en dan gevra om my meisie te wees.”

Esmerélda het sonder om te huiwer ingestem tot ʼn verhouding.

Die paartjie doen moeite om naweke bymekaar uit te kom en bel mekaar deur die week. Johan was ook al saam met Esmerélda en haar ouers op ʼn seevakansie.

Johan sê alles voel net reg en hy glo nie hulle sal te lank wag om die volgende fase in hul verhouding te betree nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.