Bonné, kenners se passie tasbaar in ‘Bewonder en Bewaar’

Bonné de Bod. (Foto: Susan Scott/Verskaf)

Die titel van die kykNET-natuurprogram Bewonder en Bewaar kon netsowel die woorde “bekoor”, “betower” of “bemeester” ook bevat het.

Sjoe, wat ʼn avontuur waarop gesoute en bekroonde aanbieder Bonné de Bod en medevervaardiger Susan Scott die kyker met elke episode van die nuwe seisoen neem.

Bewonder en Bewaar is ʼn natuurlewereeks waarin die geheimenisse en wonders van Moeder Aarde ontsluit word deur toegewyde navorsers, veeartse, bewaringswetenskaplikes en ander deskundiges.

Bonné reis na afgeleë wildernisse om natuurbewaarders te ontmoet. Sy gee ook vooraanstaande wetenskaplikes die geleentheid om hul kennis en entoesiasme oor hulle onderskeie spesialisvelde te deel.

Sy gesels ook met die individue wat baanbrekerswerk in hulle spesifieke velde doen en leer ken as’t ware ook die mensestorie agter die dierestorie ken.

Dit is juis Bonné se passievolle aanbieding en kleurryke vertelling en interpretasie van die ongerepte wildernisse en absolute seldsame natuurverskynsels wat sy beleef, wat die kyker voor die kassie geboei hou.

ʼn Paar van die hoogtepunte waarna kykers kan uitsien, sluit in ʼn amper naakte wetenskaplike in die Namib-woestyn, die waarneming van wolwe in die Yellowstone Nasionale Park, ʼn nabye ontmoeting met ʼn grysbeer in die Grand Teton Nasionale Park en ʼn SANParke-hoofvlieënier wat op ʼn moeilike wildvang-ekspedisie “Oh, what a beautiful morning” sing.

Die program is ook met baie sorg en ʼn oog vir detail geredigeer om die kyker so naby as moontlik te bring aan die wonders wat Bonné eerstehands beleef.

Die kameraskote in die program is uitstekend, en is dit nie moeilik om te sien waarom die gedugte span agter Bewonder en Bewaar voorheen met gesogte toekennings vir natuurdokkies bekroon is nie.

Die navorsers, veeartse, bewaringswetenskaplikes en ander deskundiges se passie vir hulle onderskeie onderwerpe, en Bonné se belangstelling en opgewondenheid, is tasbaar in elke episode.

Beslis ʼn moet-kyk vir enige natuurliefhebber en sommer enigiemand wat feite oor seldsame diere en ongerepte wildernisse geniet.

Bewonder en Bewaar is elke Sondag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien. Die episodes het ook Engelse onderskrifte en sal op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.