‘BSV’-aanbieders vier saam groot mylpaal

Die pragtige Boer soek ‘n vrou-aanbieders het saam gekuier tydens ‘n spesiale reünie gehou. (Foto: Skermgreep)

In Sondagaand se episode van Bravo! spog dié gewilde kykNET-leefstylprogram oudergewoonte met ʼn Nuwejaarstafel, en dié keer is dit die ses vorige aanbieders van Boer soek ʼn vrou wat om dié tafel ʼn reünie hou wat skrik vir niks.

Boer soek ʼn vrou vier vanjaar 15 seisoene op die kassie en vir die eerste keer ooit kuier al die aanbieders – van die huidige aanbieder, Marciel Hopkins, tot al haar voorgangers, Nadia Beukes, Angelique Gerber, Minki van der Westhuizen, Elma Postma en Leah – saam.

Ewan Strydom, aanbieder van Bravo!, gesels saam met die vroue by die Rooiberg Bistro en Deli buite Robertson in die Wes-Kaap.

“Dít is ʼn geskiedkundige oomblik en gebeur nie elke dag nie,” sê hy.

Die ses vroue deel om die beurt staaltjies van hul tyd voor die Boer soek ʼn vrou-kameras. Elma, wat die heel eerste aanbieder van die program was, verklap dat sy amper besluit het om nie die rol as aanbieder van die program te aanvaar nie.

“[Die program] is egter baie eg. Daar is nie baie voorgee nie. As die kameras 24/7 op jou gerig is, moet jy eg wees. Jou ware kleure gaan deurkom,” sê sy.

Die pragtige Boer soek ‘n vrou-aanbieders het saam gekuier tydens ‘n spesiale reünie gehou. (Foto: Skermgreep)

Nadia vertel laggend dat sy op ʼn krokodilplaas byna in een van dié intimiderende gediertes se hokke geklim het om die span van die reeks te beïndruk.

“Ek wou net die werk doen en het amper oor die muurtjie begin klim toe die regisseur my vra om tussen die krokodille deur te stap terwyl ek praat. Toe die span begin lag, het ek eers besef hy was nie ernstig nie,” lag sy.

Marciel, wat vanjaar vir die derde keer die aanbiederstewels volstaan, sê sy is dankbaar dat sy weer die geleentheid kry om ʼn handjievol boere te help om liefde te vind.

“Wat vir my soveel spreek van ‘Boer soek ʼn vrou’ is hoe boere inderwaarheid ʼn plan kan maak, en tydens die Covid-tydperk is die mees suksesvolle seisoen tot dusver geskiet: Vyf huwelike en ʼn baba het uit die 13de seisoen gespruit,” sê Marciel.

Marciel Hopkins, huidige aanbieder van Boer soek ‘n vrou, tydens die reünie. (Foto: Skermgreep)

Marciel kies op Donderdag 19 Januarie weer koers na plase oor die land heen waar hubare boere – en selfs ʼn boervrou – in die 15de seisoen van die kykNET-maatsoekprogram na ware liefde soek.

Masterchef se Andriette de la Harpe, wat tans die bestuur by Rooiberg behartig, het die Nuwejaarstafel gedek en ook gesorg vir heerlike gebak in die vorm van onder meer wortelkoek, sjokoladekoek en bloubessietert.

Hierdie spesiale episode van Bravo! is Sondagaand 15 Januarie om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

Boer soek ʼn vrou word weer vanaf 19 Januarie vir 13 episodes elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.