BSV: Trouklokke vir een, ooievaarsviering vir ʼn ander

BSV se Ilne Blom word ma en Réan Clasen gaan binnekort trou. (Foto: Verskaf)

Een van Boer soek ʼn vrou se gewildste boere én ʼn bekende deelnemer het vandeesweek onderskeidelik lewensmylpale bereik.

Réan Clasen, ʼn wingerd-en-pekanneutboer op Groblershoop in die Noord-Kaap wat in die 11de seisoen harte gesteel het met sy skerp tong en sin vir humor, het Woensdag die jawoord vir sy meisie, Kristen Opperman, gevra.

Ilne Prinsloo, wat in die 13de reeks bekendheid verwerf het toe sy boer Graham Lombard se hart gewen het, het op haar beurt die nuus gedeel dat sy en haar man, Wianco Blom, eersdaags ouers gaan word.

Réan (32) vertel dat hy vir Kristen (26), wat as beroep dragtigheidsondersoeke op skape doen, op ʼn bergkop van ʼn buurplaas gevra het om sy vrou te word.

“Ek was vreeslik op my senuwees. Toe ek op my een knie neersak, het sy eers gedink ek maak dalk ʼn grap omdat ek haar die afgelope twee maande baie hiermee geterg het. Sy kon sien my oë lyk dié keer anders en toe lê die trane ook maar vlak in haar ogies.”

Die paartjie het mekaar in 2022 op ʼn troue van gemeenskaplike vriende in Nxuba in die Oos-Kaap ontmoet en kontak gehou.

Volgens Réan het die paartjie soomloos by mekaar se plattelandse lewens ingepas en help Kristen reeds op sy familieplaas.

Hulle gaan nou in November by dié einste trouvenue waar hulle ontmoet het, self voor die kansel staan.

“Ons is baie dieselfde. Sy kom ook van ʼn plaas af en ons verhouding het natuurlik ontwikkel. Ek besef nou dat mens nie hierdie soort goed kan druk of afdwing nie. Nou het ek ʼn beste vriendin en romanse in een gekry.”

Die paartjie het in 2022 op ‘n troue ontmoet. (Foto: Verskaf)

Ilne in verwondering oor ma word

“Sjoe, dis moeilik om al die emosies op te som. Ons is regtig diep dankbaar en ongelooflik opgewonde oor hierdie klein lyfie. Die lewe is ʼn wonderwerk,” vertel Ilne aan Maroela Media.

Sy en Wianco is in 2021 getroud en sê dit was nog altyd ʼn hartsbegeerte van hulle om ouers te word. Die paartjie woon tans in Somerset-Wes in die Wes-Kaap.

“Ek en Wianco het albei geweet dat ons graag kinders wil hê, maar besef dat dit ʼn groot seën en voorreg is, en nie iets wat vanselfsprekend is of waarop mens geregtig is nie. Dit was vir ons ʼn geloofsreis en ons vertrou dat God presies weet wanneer hierdie lyfie hier moet wees.”

Die paartjie het Donderdag die nuus gedeel. (Foto: Verskaf)

Ilne sê dat sy die nuus aan Wianco op die een of ander kreatiewe manier sou breek, maar dat haar emosies en opwinding haar vooruitgeloop het.

“Ons het die aand by mense geëet, so toe het ek nog niks gesê nie, maar op pad terug van Stellenbosch af op die R44 het ek die bom net laat val met: ‘Liefie, ek dink ek is swanger, maar moet dalk nog nie te opgewonde raak nie, want ek is nie 100% seker nie’.”

Sy skerts dat sy liefs nie die “arme man” met sulke nuus moes verras terwyl hy agter die stuurwiel was nie.

Baba-Blom sal die eerste kleinkind vir Ilne én Wianco se ouers wees.

“Almal was baie opgewonde toe hulle daarvan te wete gekom het. Wianco se ouers is nader, so ons kon die nuus persoonlik deel. My ouers bly ongelukkig ver, maar ek is seker daar gaan gereeld kom kuier word en hulle het reeds ʼn pakkie vir die baba gestuur.”

Ilne en Wianco sien uit om hul pienkvoet te verwelkom. (Foto: Verskaf)

Ilne vertel dat sy ongelukkig nie naarheid of moegheid heeltemal kon vryspring nie, maar kies om elke oomblik van swanger wees te omarm.

“Iets waarna ons uitsien, is om die lewe saam as gesin aan te pak en om ons baba te leer ken vir die persoon wat die Here hom of haar gemaak het om te wees. Ons sien uit om al die fases saam deur te gaan en te sien hoe die lyfie ontwikkel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.