Daleen is desperaat om Tertius terug te wen

(Foto: kykNET)

Deur Martjie Roos

Net toe kykers ʼn sug van verligting geslaak het dat dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) uiteindelik die regte lewensmaat, naamlik Tracy Smit (Melinda Viljoen), in die hospitaalsepie Binnelanders gevind het, het Tertius se eksvrou Daleen (Desiré Gardner) saam met hul dogter Nina (Méla Swanepoel) by sy woonstel opgedaag.

Dit was uit die staanspoor so duidelik soos daglig dat Daleen nie net al die pad van Australië gekom het om ʼn familiebegrafnis by te woon nie, maar om te kyk of sy en Tertius nie weer die ou drade van hul huwelik kan optel nie. Boonop het dit ook die afgelope paar weke deurgeskemer dat Daleen se tweede huwelik nie meer maanskyn en rose is nie. Kykers het toe al hoe meer warm onder die kraag begin word omdat Daleen in Tertius en Tracy se slaai krap.

Desiré sê sy kan goed verstaan waarom kykers die josie in is vir Daleen omdat sy Tertius se lewe deurmekaar krap. “Dit is maar die ding van ʼn sepie of dramareeks, want dit poog om kykers se emosies te ontlok. Kykers raak gewoond aan verhoudings en is vir of teen ʼn verhouding. Wanneer ʼn buitestander ʼn stabiele verhouding bedreig, word die buitestander as ʼn indringer beskou. Die intriges in verhoudings word juis geskryf om die kykers se aandag gevange te hou.”

Sy vertel ʼn paar wildvreemde mense het haar in die straat voorgekeer en gesê: “Moet asseblief nie vir Tertius van Tracy wegneem nie.” Desiré skerm ʼn bietjie vir Daleen en sê sy het regtig nie geweet dat Tertius in ʼn gelukkige verhouding met Tracy is toe sy na die Jakarandastad teruggekeer het nie.

“Wanneer dinge in ʼn mens se huidige omstandighede moeilik is, onthou ʼn mens net die goeie dinge van ʼn vorige verhouding. Dit is asof ʼn mens se brein net die mooi dinge vir jou terugspeel. Ek dink sy soek na iets standvastig en soek iemand wat haar kan red, maar sy is nie op die punt dat sy haarself nie kan red nie. Sy het nodig dat Tertius haar red uit haar omstandighede. Ek wens net sy besef dat sy dit self moet doen.”

Dit is eintlik ʼn ou streek van Daleen om na grashalms te gryp wanneer dinge nie vir haar uitwerk nie, meen sy. “Daleen het nog steeds gevoelens vir Tertius. Maar wanneer sy vir Tertius vra of hulle nie weer kan probeer om hul huwelik te red nie en hy haar gou duidelik laat verstaan het dat daar geen toekoms vir hulle is nie omdat hy vir Tracy lief is, raak sy onrealisties, bang en half desperaat. Sy wil net nie aanvaar dat Tertius nou vir Tracy lief is nie.”

Desiré vertel dit was glad nie moeilik om na sewe jaar weer by Stark Studios, waar Binnelanders verfilm word, in te val en terug in Daleen se ‘skoene’ te klim nie. “Dit het gevoel soos om na ʼn ruk huis toe te keer. Die oomblik toe ek weer vir Reynardt en van die ander akteurs en die produksiespan sien, het alles weer in plek geval. Dit was ʼn organies proses en gemaklike skoene om weer in te klim. Toe ek die laaste keer in Binnelanders gespeel het, was ek swanger met my dogter Robin, en sy is nou sewe jaar oud. Dit het ook vir my gevoel of my lewe in hoofstukke gebeur – die afgelope sewe jaar was ʼn hoofstuk waarin so baie gebeur het, en nou het daar ʼn nuwe hoofstuk vir my begin.”

Dit was vir haar ook heerlik om vir die eerste keer teenoor die jong aktrise Méla Swanepoel, wat Nina vertolk, te speel. “Méla is ʼn wonderlike aktrise en baie volwasse vir haar ouderdom. Ek dink daar wink ʼn blink toekoms vir haar.” (Sewe jaar terug het Lumé Vorster die rol van die jonger Nina vertolk).

Desiré het die afgelope paar jaar haar merk as ʼn knap komedie-skrywer gemaak. Sy was mede-skrywer van kykNET se komediereeks Lui Maar Op, Belinda en is ook die skrywer van die gewilde komediereeks Magda Louw, wat nie net kykNET-kykers se lagspiere geprikkel het nie, maar nou ook met ʼn gelyknamige verhoogstuk teatergangers laat skaterlag. Desiré vertolk die titelrol in die reeks, waarvan daar tans ʼn tweede seisoen verfilm word. Sy is ook gereeld as Magda Louw op die planke in die verhoogstuk wat dwarsoor die land opgevoer word. Sy is onlangs by die Silwerskermfees in Kaapstad as beste akteur in ʼn komedie (Magda Louw) bekroon.

“Ek dink Magda Louw is so gewild omdat mense hulle daarmee kan vereenselwig, of altans, ek hoop so. ʼn Hele paar mense het vir my gesê hulle sien hul ma, ouma of hulself in die karakter. Hopelik is dit die eerlikheid en die alledaagsheid waarmee die storie vertel word sodat mense hulself daarin raak kan sien. Wanneer jy jouself in ʼn situasie raak sien, dan is dit gewoonlik die snaaksste.”

Sy is tans besig om ʼn nuwe reeks te skryf, waarvan sy nie nog nie meer kan verklap nie. “Daar is ook ʼn ander toneelstuk in die pyplyn wat ek moontlik gaan skryf. So tussendeur die Magda Louw-vertonings skryf ek ook subtitels vir sepies en doen vertalings wat help om die pot aan die kook te hou.”

Die veelsydige Desiré hou daarvan om verskillende ‘hoede’ op te sit. “Ek geniet komedie vreeslik baie, veral om te skryf. Dit is anders om komedie te skryf as om dit te vertolk. Wanneer jy skryf, is dit asof jy net kan sit en met jou eie gedagtes speel en op daardie manier is dit amper ʼn eensame bevryding. Wanneer jy op die verhoog ʼn komiese rol vertolk, het jy weer daardie konneksie met die gehoor. Albei is lekker in sy eie reg, en hoewel ek baie van drama op sy tyd hou, bly komedie maar vir my ʼn tipe van ontvlugting. “

  • Binnelanders word weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.