Video: Dié akteurs gaan deur ‘Diepe Waters’ in nuwe Afrikaanse telenovela

Diegene met ’n liefde vir drama, intrige en romanse kan solank hul plek op die rusbank inneem, met kykNET se splinternuwe Afrikaanse telenovela wat beloof om kykers te boei.

Diepe Waters speel af in en om ’n kompeterende swemklub. Daar is ’n patriarg, verlore dogters en vervreemde liefdes wat kykers vasgenael voor die kassie gaan hou.

Dié nuwe telenovela beloof om net soveel drama soos ’n daaglikse sepie in te hou, maar volgens Nicola van Niekerk, senior bestuurder van teksgedrewe inhoud en feitelike vermaak by M-Net, is daar wel ’n verskil tussen die twee.

“Tradisioneel het ’n sepie meer uitgerekte stories en geskied dit binnenshuis in ’n ateljee. ’n Telenovela is ’n melodramatiese reeks wat eintlik ’n beduidende einde moet hê. Uiteindelik bestaan telenovelas uit 156 tot 208 episodes, waarna dit óf tot ’n einde kom óf hernu word.”

Geliefde akteurs, kassieveterane en skermgroentjies sal in Diepe Waters, wat in die plek van Getroud met Rugby op kykNET uitgesaai gaan word, te sien wees.

Hier is die lys van akteurs wat in Diepe Waters te sien is:

Justin Strydom as Gys Swarts. (Foto: verskaf)

Gys is die sentrale karakter. Sy droom is om ’n internasionale sportakademie op die been te bring. Hy plaas baie druk op sy kleinseun, Johan, om in swem te presteer, lewe bo sy vermoëns en is baie geldgierig. Sy ambisie en gedrewenheid maak dat hy mense naby aan hom seermaak.

Sandi Schultz as Zelda Joubert. (Foto: verskaf)

Zelda is die antagonis in die verhaal. Sy is ’n werkverslaafde en baie suksesvolle sakevrou.

Zelda is ’n gedrewe, slim manipuleerder met ’n langtermynplan om wraak te neem op Gys. Sy konkel van begin tot einde om te kry wat sy wil hê.

Lea Vivier as Meghan Swarts. (Foto: kykNET)

Meghan is Gys se skouperd. Sy is eerbaar en beginselvas, maar word deur Zelda gemanipuleer. Sy is ’n gedrewe vrou met ’n plan en smag na ’n vaderfiguur in haar lewe.

Sy het al heelwat kêrels gehad, maar niemand lang termyn nie.

Altus Theart as Rossouw Swarts. (Foto: kykNET)

Rossouw is emosioneel afgestomp en alles is vir hom swart en wit. Hy is die swemklub se boekhouer en Jacques se ernstige ouboet, wat altyd vir hom opkom. Hy is baie beskermend teenoor sy kinders, Johan en Karla. Rossouw en sy vrou, Sanet, het nie juis ’n passievolle huwelik nie.

Werner Coetser as Jacques Swarts. (Foto: kykNET)

Jacques is ’n baie aantreklike swemafrigter en haan onder die henne. Hy is snaaks, sjarmant en ’n omgee-mens. Jacques staan nog altyd in sy pa, Gys, se skaduwee en is volgens hom ’n onderpresteerder. Pa en seun is uiters kompeterend met mekaar.

Nadia Valvekens as Sanet Swarts. (Foto: kykNET)

Sanet is Rossouw Swarts se vrou en baie lief vir geld. Status en prestige is vir haar die belangrikste goed in die lewe. Sy sit ongelooflik baie druk op haar dogter, Karla, om in die swembad te presteer. Haar hooffokus is dat Karla ’n beurs in die VSA kan kry sodat sy ook daar kan gaan bly. Sanet glo nog altyd sy is Rossouw se tweede keuse omdat hy iemand anders eerste liefgehad het.

Reandi Grey as Anja Botha. (Foto: kykNET)

Anja se familie is nie welaf nie en haar ma moes baie hard werk om brood op die tafel te sit. Sy was voorheen deel van die swemklub en haar afrigter, Gys Swarts, het groot drome gehad dat sy ’n Olimpiese medalje moes wen. Sy het ’n noue band met Gys se seun, Rossouw, by die klub gevorm.

Liam Bosman as Johan Swarts. (Foto: kykNET)

Johan is Gys Swarts se hormonale kleinseun en Karla se broer. Hy probeer sy bes om sy oupa in die swembad te beïndruk. Johan kry erge mededinging van Tshepo. Hy is uiters kompeterend en hou nie daarvan om tweede te kom nie. Johan is gewoond aan die aandag van die meisies en hy hou daarvan.

Danielle Swanepoel as Karla Swarts. (Foto: kykNET)

Karla kry enorme druk van haar familie om die beste swemmer in haar ouderdomsgroep te wees. Sy is haar oupa, Gys, se oogappel. In haar poging om almal anders te beïndruk, verloor sy haarself en weet nie meer wat sy regtig wil hê nie. Karla en haar pa, Rossouw, het ’n baie sterk band.

Lizz Meiring as Tannie Bybie. (Foto: kykNET)

Tannie Bybie is arm, maar eerlik. Sy draai nie doekies om nie en is ’n gesagsfiguur. Sy dra ’n groot geheim saam met haar. Bybie se oë mis niks nie. Sy was nog altyd enkellopend en het Meghan in pleegsorg geneem toe sy vyf jaar oud was en haar grootgemaak.

Tracey Lee Oliver as Pam Joubert. (Foto: kykNET)

Pam wil graag liefgehê word. Sy vind later ’n groot geheim uit. Sy is konstant op soek na iets nuuts om te probeer – of dit nou joga in Indië of bonsaibome is. Sy is bang daarvoor om alleen oud te word en weet glad nie wie sy regtig is nie. Sy oefen onophoudelik en bestee baie tyd in die swembad en gimnasium.

Stiaan Bruwer as Henry Jakobus Paddu. (Foto: kykNET)

Henry is van gemengde Italiaanse, Afrikaner- en Engelse afkoms. Hy is komieklik en baie simpatiek. Sy opgewekte karakter versteek die feit dat hy met baie onsekerhede worstel. Hy het nooit regtig iets groots in sy lewe bereik nie en het ’n baie swak selfbeeld. Hy het Tshepo ingeneem toe hy agt was en hom as sy eie seun grootgemaak.

Johnny Potsanyane as Tshepo Buti. (Foto: kykNET)

Tshepo is ’n steratleet met natuurlike talent. Hy straal stille selfvertroue uit. Hy is baie beskeie oor sy sporttalent. Tshepo het albei sy ouers verloor toe hy baie jonk was en Henry het hom ingeneem. Sy droom is om aan die Olimpiese Spele deel te neem sodat hy ’n huis vir hom en Henry kan koop.

Jean Henry as Arno van der Westhuizen. (Foto: kykNET)

Arno is ’n aantreklike, goedgeboude knaap. Hy het in Brandfort in die Vrystaat grootgeword. Hy is ietwat van ’n bleeksiel en besef nie hoe erg baie vroue (en mans!) oor hom is nie.

Hy het nie ’n slegte haar op sy kop nie, maar sy naïwiteit is sy grootste ondergang.

Eloise Cupido as Rose de Wet. (Foto: kykNET)

Rose is uiters loopbaangedrewe. In die proses skeep sy haar dogter, Nina, af. Sy het arm grootgeword en hard gewerk om te kom waar sy is. Haar ouers het al hulle spaargeld gebruik om haar universiteit toe te stuur. Sy het ’n passie daarvoor om mense te help om geregtigheid te kry.

Neels van Jaarsveld as Wim de Wet. (Foto: kykNET)

Wim is Rose se man. Hulle het mekaar 23 jaar gelede op universiteit ontmoet toe hy ingenieurswese studeer het. Al wat hy wil hê, is ’n gelukkige gesin en om ’n goeie pa vir sy dogter, Nina, te wees. Rose dink Wim bederf Nina met te veel aandag.

Reze-Tiana Wessels as Nina de Wet. (Foto: kykNET)

Nina is ’n skaam, slim introvert met groot swemtalent. Sy en Karla word dadelik vriende. Sy hou daarvan om alleen te wees met haar neus in ’n boek. Omdat sy so ’n slimkop is, is sy bietjie van ’n randeier in die skool. Haar ma, Rose, is meestal te besig om ordentlik aandag aan haar te gee.

Stephanie Baartman as Lettie Adonis. (Foto: kykNET)

Lettie is ʼn oujongnooi en die eienaar van Lettie’s Keffie. Sy is ’n spontane mens met ’n aansteeklike lag. Sy is mal oor bak en om ander te bedien. Sy glo ook daarin om die son oor ander mense te sien skyn.

Rika Sennet as Lydia Botha. (Foto: kykNET)

Ouma Lydia is ’n tipiese ouma, al is sy net 65. Sy lewe vir haar kleinkinders, Karla en Johan. Ouma Lydia brei, hekel, doen werkies in en om die huis en probeer altyd oral uithelp waar sy kan. Sy bly saam met haar oudste dogter, Sanet, en skoonseun, Rossouw, in die huis.

Righard van Jaarsveld as Tommie. (Foto: kykNET)

Kyk na ‘n video van die bekendstelling hier: 

  • Diepe Waters word vanaf 3 Oktober van Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet 6 ·

Jammer om te sê, maar die nuwe bestuur van kykNET is besig om kykNET in die grond in te bestuur. Eerste episode van ń reeks begin sommer 1 uur in die oggend, begin tye van programme word gedurig verander, herhalings tot vervelens toe, advertensies tot vevelens toe , twee oorgeklankte reekse wat werk wegvat van plaaslike akteurs, gewilde programme soos kn Verslag word gekanseeleer en so kan mens aangaan.

Twallie ·

LOL…Net wat ons nodig het. Nog ‘n tappit sepie.

Net ‘n grap mense…ontspan.

PoppieK ·

En daar wen GMR die beste sepie, en steeds eindig hy? Dis n jammer aan al daai akteurs…. ek sien hul trane op facebook en huil saam daai akteurs

Charl Albertus ·

Jammer, ek het nie meer DSTV nie.
Ek en my bakkie, met Steve se “Die Land” dawerend luid op die radio, het oor my dekodeerder gery.
….. 4 keer …..
Ek skenk liewers die geld vir Steve se hofsaak.

SPUR en Coke is ook nog steeds op die sanksie lys…….

VannieBaai ·

Interessant……….ek kan nie help om ‘n “Egoli”-trant te sien in dié nuwe dramareeks nie. Hoop dit gaan op ShowMax ook wys.

Sarel ·

Ongelukkig pok weer net vir due uitgesoekte Groep wzt Kyk Net kan bekostig.
Kyk Net….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.