Dié flieks en reekse seëvier by Golden Globe-toekennings

Steven Spielberg (Foto: Frederic J. Brown/AFP)

The Banshees of Inisherin en The Fabelmans was die groot wenners by die 80ste Golden Globe-toekennings.

The Banshees of Inisherin het die prys gewen vir beste fliek (musiekspel of komedie), terwyl The Fabelmans die ander groot toekenning vir beste fliek (drama) gewen het. Steven Spielberg is as beste regisseur bekroon vir The Fabelmans.

Cate Blanchett het die beeldjie vir beste aktrise in ʼn drama gewen vir haar rol in Tar, terwyl Austin Butler as beste akteur aangewys is vir sy rol as Elvis Presley.

Links is Elvis Presley soos hy in 1964 gelyk het en regs is Austin Butler wat die rol van Presley vertolk. (Foto: AP)

Michelle Yeoh en Colin Farrell is as beste aktrise en beste akteur in ʼn musiekspel of komedie aangewys vir hul rolle in Everything Everywhere All At Once en The Banshees of Inisherin.

Guillermo del Toro se Pinocchio is as beste animasiefliek aangewys. Angela Bassett en Ke Huy Quan is as beste vrouebyspeler en beste mansbyspeler aangewys vir hul rolle in Black Panther: Wakanda Forever en in Everything Everywhere All At Once.

The Banshees of Inisherin het ook weggestap met die beeldjie vir beste draaiboek.

‘n Toneel uit The House of the Dragon

Vir die pryse vir televisiereekse het House of the Dragon geseëvier as beste dramareeks.

Zendaya is as beste aktrise in ʼn dramareeks aangewys vir haar rol in Euphoria, terwyl Kevin Costner as beste akteur aangewys is vir Yellowstone.

Abbot Elementary is as beste musiek- of komediereeks aangewys. Quinta Brunson is as beste aktrise in ʼn musiek- of komediereeks aangewys vir haar rol daarin en Tyler James Williams het gewen as beste mansbyspeler vir sy rol.

Die akteurs van die tweede seisoen van “The White Lotus”. (Foto: Amy Sussman/Getty Images North America/AFP)

The White Lotus is as beste beperkte reeks of TV-fliek aangewys, terwyl Jennifer Coolidge as beste vrouebyspeler aangewys is vir haar rol daarin.

Jeremy Allen White het ʼn beeldjie huis toe gevat as beste akteur in ʼn komedie- of musiekreeks vir sy rol in The Bear.

Amanda Seyfried en Evan Peters is as beste aktrise en beste akteur in ʼn beperkte reeks of TV-fliek aangewys vir hul rolle in The Dropout en Monster: The Jeffrey Dahmer Story.

Julia Garner en Paul Walter Hauser is as beste vroue- en beste mansbyspeler in ʼn komedie of drama aangewys vir hul rolle in Black Bird en Ozark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.