‘Die Kontrak’ se Ivan: ‘Ek wens ek kon dit in woorde beskryf’

Ivan Roux, die 28-jarige Pretoriase sanger wat tans in die top-2 van die VIA-werklikheidsreeks Die Kontrak is, sal op 23 November tydens die Afrikaans is Groot-konsert sy lot hoor: Sal hy die eerste wenner van dié gesogte Coleske Artists-kontrak van R1 miljoen wees waarom hy en Demi-Lee Moore (28) meeding?

Roux, wat weekliks die beoordelaars van die program asook die gehoor en kykers met sy stem betower het, sal Woensdagaand tydens die program sy eerste enkelsnit, Daai Ding, bekend stel. Kykers sal ook sy eerste musiekvideo kan sien.

“Dit is ʼn ongelooflike gevoel om so ver te kon kom in die kompetisie,” het Roux aan Maroela Media gesê. “Ek meen, ek het elke dag kliphard hiervoor gewerk en gebid dat dit sal gebeur, maar tog weet ʼn mens nooit of jy bo gaan uitkom nie … maar kyk nou net, hier sit ek!”

Roux, die getroude pa van twee kinders, het vertel die Coleske Artists-groep het hom en die ander deelnemers van dag een af laat voel asof hulle reeds groot name in die bedryf is. “Ek wens ek kon die ervaring om deel te wees hiervan in woorde beskryf, maar die beste wat ek kan doen, is om te sê dit is ʼn ervaring wat al klaar my lewe op soveel vlakke verander het en ek is baie dankbaar vir almal wat betrokke was.”

Ivan en Dewald Wasserfall saam op die verhoog. (Foto: Facebook)

Ivan en Dewald Wasserfall saam op die verhoog. (Foto: Facebook)

Die bekende sanger en liedjieskrywer Dewald Wasserfall was sy mentor tydens die program. “Nie net in die kompetisie nie, maar elke dag in die lewe ook,” vertel hy.

“Dewald het oor die afgelope paar maande vir my soos ʼn broer geraak. Hy het my so kalm gehou deur die loop van Die Kontrak en kort-kort vir my gesê: ‘Ivan, jy het hierdie al honderde kere gedoen, hier is nou net kameras’. Hy het my ook geleer om op te hou bekommer oor wat die ander deelnemers doen en op myself te fokus. Ek het geleer dat ek na 10 jaar in die musiekbedryf nog steeds op my senuwees kan raak voor enige optrede. Ek is baie dankbaar vir Dewald, want ek sou beslis nie wees waar ek nou is sonder hom nie.”

Hy het vertel Paulo Azevedo, voormalige lid van die sanggroep Eden en musiekvervaardiger by Coleske Artists, glo sy enkelsnit Daai Ding gaan hom vestig as Afrikaanse kunstenaar in Suid-Afrika. “Ek is baie trots op dié snit en ek voel dit gaan sorg vir ʼn nuwe klank in die Afrikaanse mark.”

Ivan leef sy droom uit op die verhoog. (Foto: Facebook)

Ivan leef sy droom uit op die verhoog. (Foto: Facebook)

Volgens Roux is hy “uit sy skoene uit geseën” met die publiek se terugvoer oor sy deelname aan Die Kontrak. “Om te sien daar is soveel mense wat agter my staan as Afrikaanse musikant, maak my hart net warm en wys my dat ʼn mens nooit moet ophou glo in en veg vir wat jy wil hê nie.”

Hy sien daarna uit om die groot verhoë te deel met van Suid-Afrika se beste kunstenaars. “Ek sien daarna uit om op ʼn verhoog te stap en te sing waar duisende mense moontlik my liedjie kliphard saamsing.”

Nuwe episodes van Die Kontrak word Woensdae om 20:00 op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai met heruitsendings op Vrydae om 19:00, Saterdae om 21:00 en Sondae om 18:00.

Die JOOX-app is die amptelike musiekstroomvennoot van Die Kontrak en al die liedjies uit die uitklopkonserte is daar beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Poppie ·

Oooooo Ivan, Jy het 1000 stemme van my kant af. Ek het van dag 1 geweet jy, Demi (en gedink Tasha) gaan onder die Top 3 wees.

Magda ·

Hi Ivan jy het ‘n pragtige stem en ek gee jou ‘n bijoen stemme. Ons dra jou aan die Here op en mag jou drome net bewaarheid word. Jy bly ‘n ster wat altyd sal skyn en nog ver in die toekoms gaan kom.

Marlene ·

Ivan moet beslis wen want nog elke keer wat hy sing kry ek hoendervleis so mooi dit is. Sy nuwe liedtjie is awesome mooi verby wil dit oor en oor luister gaan beslis cd koop. Mag GOD ons VADER met jou wees by afrikaans is groot jou stem is so amazing. Mag GOD jou en hou vrou en kinders sëen. My gebed vir jou is dat GOD jou net sal sëen sodat jy sal wen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.