Dié speler blaas aftog op ‘Die Brug’

Marna en Larry in “Die Brug”. (Foto: verskaf)

“Dit was ʼn groot skok, ek het dit nie gesien kom nie.”

Só sê Marna Grobler, wat in vanaand (23 November) se episode van Die Brug deur die nuwe deelnemer, Jacques Broodryk, huis toe gestuur is.

Sy het haar mede-deelnemers geskok toe sy in stilte haar tas gaan pak, in die boot klim en die houthuis verlaat sonder om werklik totsiens te sê.

Avril, wat met Marna se aftog steeds die leier van die groep was, het as’t ware gesê dat sy “teleurgesteld” was in die manier waarop Marna daar weg is.

Marna het egter vir Maroela Media gesê dat haar stille uittog ʼn mate van selfbeskerming en -behoud was.

“Ek het vir myself gesê: ‘Marna, moenie regs of links kyk nie. Moenie oogkontak maak nie. Anders gaan jy ʼn baie ugly cry scene op nasionale televisie hê’,” het sy verduidelik.

“Ek was ongelooflik hartseer en teleurgesteld.”

Marna Grobler het “Die Brug” gegroet. (Foto: verskaf)

Een van Marna se grootste doelwitte met haar deelname aan die avontuurlustige program, was om te bewys dat ouer mense nimmer as te nooit hoef terug te staan nie. Sy beskryf haarself in die reeks as ʼn “late bloomer”, iemand wat in haar vyftigs dinge aanpak wat sy in haar twintigerjare misgeloop het.

Ná die vier en ʼn half episodes en tientalle veilige vlotte waarvan sy deel was, voel sy seker dat sy dié doelwit bereik het.

“Ek het weereens versekering in my hart gekry dat ons as vroue ouer as 50 soveel meer kan bereik as waarvoor ons onsself erkenning gee,” sê sy. Daar is genoeg sonskyn vir almal en al wat dit verg is vertroue in onsself, en ons kan al ons drome en doelwitte bereik.”

“Dit is belangrik vir ons as vroue om te weet dat ons nie oorweldig hoef te voel soos wat ons ouer word nie, maar eerder fabulous. Dit is my passie en doelwit om my ondervinding en kennis te deel, en vroue te help om die beste weergawe van hulself te wees. Ouderdom is net ʼn nommer.”

Alhoewel Marna erken dat sy lewenslange vriendskappe tydens die verfilming van die reeks gesmee het, was daar tog ʼn paar dagboekopnames wat haar verras het. Die spelers het dalk saam in dieselfde huis gebly, maar daar is tientalle oomblikke en dagboekopnames gewees wat nou eers, tydens die uitsending van die reeks, die lig sien.

Marna en Robert. (Foto: verskaf)

Dit was juis Robert se dagboekopname, waar hy haar ʼn sterk en strategiese speler genoem het, en dié van Avril, waar sy Marna gekritiseer het en uitgemaak het as die swakste speler, wat haar die meeste verras het.

Alhoewel sy met ʼn seer en teleurgestelde hart die houthuis verlaat het, weet sy vandag dat sy beslis weer vir so iets sal inskryf.

“Ek hou daarvan om nuwe ondervinding op te doen, nuwe dinge te leer, myself te verbeter en my grense te toets.

“Ek wil vir seker nie eendag stokoud wees en dink dat ek nie alles wat ek kon gedoen het om ʼn vol lewe te leef nie,” het Marna gesê.

  • Die Brug word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 114, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.