Winde van verandering waai dié week oor ‘Die Brug’

Jacques Broodryk het vanaand sy opwagting in “Die Brug” gemaak. (Foto: verskaf)

In ʼn verrassende wending het ʼn buiteperd-speler Donderdagaand sy opwagting by Die Brug se Houthuis gemaak. Jacques Broodryk, bekende AfriForum-man, se aankoms was ʼn reuseverrassing en het skoon ʼn opskudding onder die res van die spelers veroorsaak.

Kykers het reeds in verlede week se episode van dié kykNET-werklikheidsreeks snuf in die neus gekry oor ʼn moontlike nuwe deelnemer. Die res van die deelnemers was egter salig onbewus van dié vars briesie wat binnekort oor hulle sou waai.

Jacques, ʼn woordvoerder vir AfriForum in Pretoria, is nie ʼn onbekende gesig nie. Hy het deur die jare heen telkemale op die kassie gekuier, en was onder meer in Binnelanders en kykNET Verslag te siene. Vandag is hy terug in die kollig, dié keer as Die Brug se geheimsinnige buiteperd-speler.

“Ek kon duidelik sien daar is plekke waar ek ʼn bydrae kan lewer om die bouproses te bespoedig,” het Jacques aan Maroela Media gesê. “Ek het geweet dat dit twee rigtings kan inslaan: mense gaan óf bedreig voel deur my, wat teen my kan tel, of hulle kan sien dat ek waarde toevoeg en dus deel van die span moet bly.”

“Dit was die tweestryd waarmee ek gesit het. Ek het egter besef dat ek net moet doen wat gedoen moet word, ek kan nie beheer hoe mense reageer nie.”

In die jongste episode het Jacques nie geskroom om ʼn paar veranderinge aan die span se proses voor te stel nie. Dié veranderings, wat onder meer ʼn sleeptoestel vir die planke en stompe ingesluit het, is met ope arms deur die groep ontvang. Dít natuurlik nadat die res van die deelnemers oor hul aanvanklike skok oor die nuwe deelnemer gekom het.

(Foto: verskaf)

Alhoewel Jacques gereed was om in te spring en te werk, het ʼn verkoue hom beetgepak en het die groep se leier, Avril, hom terstond bed toe gestuur. Dié het Jacques later kom versorg, en het selfs ʼn paar gesnyde uie by sy hemp en sokkies ingedruk.

“Ek het dit waardeer dat van die mense in die groep so besorgd was, maar dit was vir my baie frustrerend om siek te wees. Ek kom nou juis in op die agtervoet, groepies het reeds gevorm en ek is die buitestaander. Ek wou my plek bewys en toe tref die siekte my ook nog. Dit was vir my ʼn baie groot terugslag.”

Die res van die deelnemers moes voor Jacques se aankoms reeds ʼn speler, Arnold, groet. Hulle het ook reeds ʼn hele paar veilige vlotte op die water gehad, en het sedert die begin van die uitdaging stadig maar seker vriendskappe en bondgenootskappe begin vorm.

Alhoewel Jacques nie onmiddellik kon identifiseer wie in watter kraal staan nie, het hy met sekerheid geweet dat hy ʼn agterstand het, aangesien daar reeds vriendskappe onder die spelers gevorm is, en dat hy nóg harder gaan moet werk om sy plek in die bouspan te verdedig.

Daarmee saam, sê Jacques, bestaan die spelers uit ʼn diverse groep mense. Dit is mense wie se paaie onder normale omstandighede nooit met mekaar sou kruis nie. “Daarom kon ek nie met die intrapslag agterkom wie vennote is en wie nie.” Sy fokus was egter glad nie op die groepe nie, maar op die bouwerk.

Jacques en Avril. (Foto: verskaf)

Niemand sou egter kon raai dat die episode sou eindig met Jacques wat iemand moet afstem nie, nie eers Jacques self nie. ʼn Fakkel het geskiet, en die nuus is gedeel: daar sou ʼn verwydering plaasvind. Jacques erken dat hy aanvanklik gedink het dat hy op pad huis toe is, aangesien hy te siek was om behoorlik sy kant te bring.

In plaas daarvan was hý die een wat iemand moes identifiseer om hul tasse te pak.

“Ek was verlig omdat dit nie ek was wat huis toe gaan nie, maar ek het ook besef dat ek nie weet hoe ek hierdie besluit gaan maak nie. Ek ken nie die mense goed genoeg nie, ek weet nie wie waar inpas nie, wie bydra, wie ʼn probleem is, of wie moontlik konflik kan veroorsaak nie.

“Dit was ʼn baie moeilike keuse. Ek moes uiteindelik gaan met ʼn lukrake keuse, maar ook met instink. Dit is hoe ek die besluit gemaak het.”

  • Skakel volgende week in om uit te vind wie Jacques uiteindelik huis toe gestuur het.
  • Die Brug word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.