Dis net rooilipsoene vir Brendan in ‘OME!’

Brendan het ‘n rooilipsoen by Janae gekry. (Foto: verskaf)

Terwyl Brendan Peyper rooilipsoene by van die meisies steel, is daar ander op die Uitzicht-wildsplaas wat hulself liefs nie wil blootstel aan ʼn soen wat te vinnig na hul sin geplant is nie.

In die jongste aflewering van kykNET se maatsoekreeks, Op my eish!, versterk Brendan se verhoudings met onder andere Katja, Janae en Rachelle, terwyl die vriendskap verbrokkel wat tussen hom en Thelmané ontwikkel het.

ʼn Motorrit en ʼn konsert

Die episode skop af met Janae, Katja en Thelmané wat die langpad Pretoria toe saam met Brendan aandurf. In die stad aangekom is daar planne beraam dat elkeen van die drie vroue bietjie alleentyd saam met Brendan kon kry.

Hy het van die geleentheid gebruik gemaak om die vroue beter te leer ken, en sommer ʼn soen of twee by onderskeidelik Katja en Janae gesteel. Janae het juis die oggend rooi lipstiffie aangesit om te keer dat Brendan ʼn soen op haar lippe plant, maar dit het hom nie gekeer nie.

Terwyl dit heel prettig en romanties in die twee ritte saam met Janae en Katja gegaan het, het Thelmané dit egter duidelik gemaak dat sy nie een van dié sou wees wat Brendan op die eerste afspraak soen nie. Trouens, laat die soene wat Brendan so uitdeel haar kopkrap oor die ware rede wat agter sy deelname aan die program steek.

“Ek is dalk maklik om mee oor die weg te kom, maar ek is nie ʼn maklike meisie om te soen nie,” het sy gesê.

Sy het egter nie onmiddellik laat blyk dat dit haar te veel pla nie, haar plan was om die aand saam met die ander twee meisies te geniet. Dit was veral vir hulle lekker om te sien hoe Brendan met die gehoor gesels en aandag aan hulle gee.

Voor die aanvang van die konsert het hy besluit om nog net een keer vir Janae behoorlik geluk te wens met haar verjaardag deur vir haar te sing. Katja was veral nie baie ingenome hiermee nie, en het later tydens ʼn dagboeksessie gewonder “hoeveel keer hy nog vir haar gaan sing”.

Uit op ʼn jagtog

Dit was nie lank nadat Brendan op die Uitzicht-plaas aangekom het nie voordat hy Jonelle, Rachelle en Christine saam met hom genooi het om te gaan jag.

Dié drie het hom veral verras en beïndruk toe hulle al drie op hul eerste probeerslag ʼn teiken raakskiet. Hulle het lank gesoek voordat Brendan uiteindelik die geleentheid gekry het om ʼn bok te skiet.

Ná die jagtog het Brendan elke vrou een vir een genooi vir alleentyd. Hy moet iemand huis toe stuur, ʼn gedagte wat gedurig by hom gespook het. Hy het uiteindelik sy hart en bekommernisse teenoor Rachelle ontbloot, waarna sy hom die raad gegee het om sy oog op die einde van die reis te hou. Hy moet weet waarheen hy op pad is, om seker te wees van die besluite wat hy neem, het sy gesê.

Brendan, Rachelle, Jonelle en Christine het gaan jag. (Foto: verskaf)

Terwyl dié vier op hul afspraak was, het Jo by Katja, Chaunte, Janae en Thelmané gaan inloer. Dit was tydens dié kuiertjie dat Katja verklap het dat sy eintlik baie onseker oor haar en Brendan voel.

In haar dagboeksessie het sy erken dat dit Christine en haar voorspellings is wat onder haar vel ingekruip het. Christine het na bewering terwyl die kameras nie gerol het nie vir Katja gesê dat sy nie in Brendan se topdrie is nie.

“Ek weet meisies wil mens soms seermaak en afbring, maar ek is ook liggelowig, en dit is so moeilik om my eie gevoel te vertrou wanneer die ander gevoel so oorweldigend is.”

Totsiens Thelmané

By Uitzicht aangekom het Rachelle dadelik vir die res van die vroue gesê dat iemand huis toe gaan. Die onsekerheid en spanning het daarna in die lug gehang, hoewel die vroue maar net aangehou grappies maak het asof niks aan die gang was nie.

Toe Jo aangeloop kom om Thelmané op ʼn alleenafspraak te nooi, het die vroue, veral Jonelle, dadelik besef wat aan die gebeur is.

Thelmané het die gesprek met Brendan met ʼn glimlag op haar gesig gevat, en het ná die tyd bloot gesê sy het met haar waardes weggestap.

“Ons het verskillende ideale en visies in die lewe,” het sy gesê. “Soos ek gesê het, is ek nie maklik nie. Ek is ook nie seker dat jy hier is vir die regte redes nie.”

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.