‘Dis okay met Rene’: Gretha kom kuier

Gretha Wiid het gesels met Rene du Preez op haar videoreeks “Dis okay met Rene”. (‘n Skermgreep uit die video.)

Oor kritiek kan Gretha Wiid jou alles vertel; sy was al dikwels in die nuus en menige mense het haar gekruisig omdat sy steeds werksessies aanbied ongeag haar persoonlike probleme.

“’n Huwelik is nie ʼn resep nie, dit is te dinamies. Iemand anders se sonde, keuse en dwaling verander nie my calling nie, want dít staan vas nog voordat ek gebore is,” sê Wiid in ’n onderhoud met Rene du Preez op haar videoreeks Dis okay met Rene.

In die jongste aflewering in die reeks gesels Du Preez met Wiid oor vrouwees en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan. Wiid het ook openlik en eerlik gepraat oor haar seer, huwelik en owerspel.

Volgens Wiid is haar storie een van opstaan en weer begin. Vir jare het sy haar seer gedra, maar voel nou sy moet vroue bemoedig met haar lewenservaring wat sy deel in haar rou, eerlike en emosiebelaaide praatjies.

Sy het ook gesels oor haar kinderdae, studentejare en hoe sy tot bekering gekom het, asook haar reis om na God se stem en opdragte te luister.

Wiid het gesê sy het bly veg en bly vergewe, en is ook net mens. Sy glo nie in “sugar coating” nie en verkies om dit eerder te sê soos dit is. “Ek is ʼn mens, ek is ʼn vrou, ek is ʼn mamma. Ek het baie meer wysheid oor die huwelik omdat ek baie dinge self deurgemaak het en uit ondervinding kan praat,” sê sy.

Gretha Wiid. (‘n Skermgreep uit die video.)

Saam neem Wiid en Du Preez die kykers op ’n ongelooflike reis van liefde, geloof, inspirasie en motivering.

Finansies en die stres vir vroue as broodwinners word ook onder die vergrootglas geplaas.

“Finansies is ’n onderwerp wat min aangeraak word in ons huise. Mans hanteer gewoonlik die begroting en so baie vroue wil nie daarby betrokke raak nie, tot iets gebeur en die vrou noodgedwonge beheer moet neem. In daardie stadium is daar chaos. Dit is belangrik dat elke vrou moet weet waaroor die basiese kwessies rakende geldsake gaan en dat sy ’n baie belangrike rol hierin speel,” sê Du Preez, ’n ma van twee seuns, finansiële raadgewer en skrywer.

Haar videoreeks Dis okay met Rene het in 2018 afgeskop, en maak ’n groot verskil deur vroue te inspireer en terselfdertyd finansiële raad te bied.

Volgens Du Preez is die konsep #DisOkayMetRene gebore ná jare lange opleidingsgesprekke met vroue, asook haar eie persoonlike ervarings.

“Omdat ek so dikwels voor vroue staan en praat oor finansies en seerkry, het ek besef elkeen het ’n storie en ons kan by mekaar leer.”

Du Preez glo dié videoreeks sal kykers inspireer en laat besef ’n mens kan weer opstaan ná moeilike uitdagings.

Sy het self in ’n doodgewone middelklas-ouerhuis grootgeword waar daar baie liefde was. Haar eie verkeerde besluite en hardkoppigheid het haar ’n pad laat stap, maar met deursettingsvermoë en haar oë na Bo het sy sukses behaal. Daarom wil sy nou ander vroue bemagtig om nooit te vergeet wie hulle is en wat hulle drome is nie.

Rene du Preez. (Argieffoto.)

Du Preez is al langer as tien jaar in die finansiële bedryf en sê dat sy elke dag sien hoe mense hulle geldsake verkeerd bestuur. “Daar is finansiële drome, maar niemand het ons geleer hoe om dit te verwesenlik nie. Met ’n bietjie leiding is alles moontlik,” voeg sy by.

Wanneer sy egter nie raad oor finansies kan gee nie, sou sy graag funksies wou koördineer. “Ek is ’n pleaser en daar is vir my niks lekkerders om te sien as dat ’n plan bymekaarkom nie … en ek hou van mooi goed.” Sy leef ook met die leuse: “Vat my hand en ek wys jou my hart.”

Die bedryf het haar geleer om respek vir mense se omstandighede en sienings te hê en dat elkeen van ons uniek is. “Om my twee seuns gebalanseerd groot te kon maak met goeie waardes, respek en nederigheid,” skerts sy oor haar grootste uitdaging.

Afgesien daarvan om ander vroue met die nodige finansiële raad by te staan, beplan Du Preez ook ’n opwindende TV-program, maar hieroor wil sy nog nie veel verklap nie.

Nuwe episodes van Dis okay met Rene word maandeliks op Rene du Preez se Facebookblad, YouTube-kanaal en webwerf gelaai. Hou gerus haar blad dop om te sien hoe merkwaardig “normale” mense se stories kan wees.

Kyk na die onderhoud met Wiid hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ES ·

Ek hou van Greta, sy is eerlik en opreg en draai nie doekies om nie.

Roebs ·

Ek word naar vir die vrou …. Niks goed om oor haar te se nie.. Die wiel draai…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.