Dokkie vlek waarheid oor Graskop oop

‘n Nuwe kykNET-dokumentêr vlek die waarheid oor Graskop oop. (Foto: skermgreep/verskaf)

Stel jou voor: Jy woon in een van die gewildste toeristedorpe in Suid-Afrika, maar in die vroeë oggendure slaan ’n bende toe en versper nie net al die roetes na die dorp nie, maar hulle gaan ook op ’n strooptog. Winkels word geplunder, plofstof word gebruik om kluise oop te skiet en ’n veiligheidswag word aangerand. En die polisie? Hulle sluit hulself in die polisiestasie toe.

Dit is juis dié skrikwekkende voorval vroeër vanjaar wat nou die fokuspunt van die vierde ondersoekende nuusdokumentêr in die Onthul-reeks gaan wees. Graskop: Voertsek, polisie! bekyk dié skriknag in Graskop van nader en probeer vasstel waarom die polisie nêrens daartydens te siene was nie.

Die nagmerrie wat die Graskop-gemeenskap beleef het, was nie net die oorsaak van trauma nie, maar ook die rede waarom tientalle inwoners vandag nie meer om dieselfde vuur sit nie.

Daar is sekere inwoners wat die stand van polisiëring in die dorp luidkeels wou aanvat, terwyl ander weer stilte verkies het om verleentheid te vermy.

Polisie- en misdaadkenners, insluitend die voormalige polisiekaptein, Ben Booysen, prof. Rudolph Zinn en Gideon Jones, deel hul insigte in dié dokumentêr oor sistemiese probleme wat in die Suid-Afrikaanse polisie heers.

Brigadier Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder in Mpumalanga, gee ʼn botsende perspektief . Richard Mamabolo, verteenwoordiger van die polisievakbond, Popcru, stel ook sy saak in Graskop: Voertsek, polisie!

Hierdie verskeidenheid kenners sit om dieselfde tafel om lig op die polisiëring- en veiligheidskwessies in die land te werp.

Die voorval het nie net inwoners angsbevange gehad nie, maar ook die impak wat dit op die dorp se ekonomie gehad het, is onseker. Dié toeristedorp se plaaslike inwoners wonder of die beeld van die dorp ooit sal herstel ná die nag van plundering.

Graskop is, nes ander dorpe, deurspek van probleme wat met infrastruktuur, instandhouding en wantroue in die plaaslike owerhede verband hou.

Dié dokumentêre episode stel ondersoek in of die dorp te midde van frustrerende en plofbare omstandighede kop bo water sal kan hou.

  • Graskop: Voertsek, polisie! word op Sondag 6 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Het dit nie tyd geword om n mosie van wantroue in te sit teen die polisie nie,het dit nie tyd geword om ons eie polisie in plek te sit nie.Dit is immers ‘n mense reg om veilig te wees,die hoe en waar moet net nog uitgevoer word maar die kundigheid is daar hulle woon in dieselfde buurtes wat ons huis noem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.