Dokumentêr oor Stella-moorde eersdaags op die kassie

Sharnelle Hough (17), links, en Marna Engelbrecht (16). Foto: Facebook

Die vervaardigers van die treffer dokumentêre reeks, Devilsdorp, is terug met nóg ’n dokumentêr wat beloof om kykers te boei.

Stella Murders ondersoek die 2018-dubbelmoord op 17-jarige Sharnelle Hough en 16-jarige Marna Engelbrecht. Dié twee vriendinne is op 26 Mei 2018 in die koshuis van Hoërskool Stella, waar hulle gebly het, vermoor.

IdeaCandy, die vervaardiger van die 2021 Showmax-dokumentêr, Devilsdorp, wat in 2022 ’n Suid-Afrikaanse rolprent- en televisietoekenning (SAFTA)vir die beste TV-dokumentêr ingeoes het, is ook verantwoordelik vir Stella Murders.

Stella Murders is ʼn hartverskeurende verhaal,” vertel Yolisa Pahle, uitvoerende hoof van Showmax en Connected Video by MultiChoice.

“Dit handel oor elke ouer se grootste vrees. Die produksie is in samewerking met Sharnelle en Marna se families gemaak, wat hoop dat hul storie ander soortgelyke tragedies sal voorkom.”

Privaatspeurder, Chris Saunders, is ook in die dokumentêr te sien. (Foto: verskaf)

Die 90 minute lange dokumentêr sluit onderhoude in met Sharnelle se ouers, Ronnie en Sonja Hough, en Stefaans, Rianet en Riané Engelbrecht, Marna se pa, ma en sussie, en verskeie polisielede.

Nagenoeg 4 000 mense noem Stella, ʼn klein dorpie naby Vryburg in Noordwes, hul tuisdorp. Elmarie Claassens, ʼn kliniese sielkundige wat ook in die dokumentêr te sien is, verduidelik dat inwoners in klein dorpies soos Stella, wat gewoonlik ʼn nou gemeenskap vorm, verwag dat geweld van buite af sal kom.

“Maar die ding rondom gevaar is dat dit nie noodwendig van buite af gaan kom nie.”

Die dokumentêr werp ook lig op die herstel van ʼn hele dorp en gemeenskap se psige ná so ʼn tragedie.

Showmax hoop om weer die fokus op geslagsgebaseerde geweld te plaas, en ʼn boodskap van bewusmaking van moontlike gevaartekens wat daarmee gepaard kan gaan, te skep.

Stella Murders sal op 17 Maart op Showmax te sien wees.

Kyk die lokprent van die nuwe Showmax-dokumentêr, Stella Murders, hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Ek het uitgesien tot ek daai auntie nou gesien het wat so verlief raak op die moordenaars. Hierdie is een van die hartseerse moorde vir my.

Phillip ·

Maroela Media het heel eerste oor die tragedie berig en ook die inhegtenisneming…. meeste media het die op Maroel opgetel. Dis so jammer die vervaardigers gebruik sekondere bronne, en die sensasiesoekerjoernalis.

ES ·

Baie tragies. Ek het probeer om die saakreg op te soek hiervoor maar was onsuksesvol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.