Doyenne van teater nou in ‘Binnelanders’

Antoinette Kellerman as Soekie in ‘Binnelanders’. (Foto: Skermgreep)

“’n Interessante, uitdagende en vreeslik gasvrye stel.”

Só beskryf die Suid-Afrikaanse teater doyenne, Antoinette Kellermann, haar ervaring op die stel van die gewilde kykNET-sepie, Binnelanders.

Antoinette vertolk die rol van Soekie Kellerman, At Koster (Hans Strydom), se eksvrou. Soekie het in die koerant gesien dat At na bewering gesterf het en het by die Binneland Kliniek opgedaag om At se boedel te betwis.

“Dit is lekker om ’n bietjie misterie na die tafel te bring,” het Antoinette aan Maroela Media vertel.

Dit is die eerste keer wat Antoinette vir so ’n lang storielyn deel van ’n sepie is. Die ervaring was senutergend vir haar, erken sy.

“Komende van die verhoog, my hartsplek, na hierdie metode van werk was vir my ’n redelike aanpassing. Jy werk met verskillende skrywers, verskillende regisseurs en met meer as een kamera. Daar word elke dag ’n episode geskiet – daar is druk, daar is tempo, daar is aanpassing, daar is angs,” erken Antoinette.

“Maar wanneer jy fikser is, die prosedures en rituele ken en in jou storielyn in is, dan raak jy gemaklik. Veral wanneer jy ’n lekker karakter het, soos die een wat ek present gekry het.”

Antoinette onthou die eerste keer wat sy die sepieverhoog met Hans Strydom moes deel. ’n Onvergeetlike ervaring.

“Na die afloop van die toneel is al wat ek kon sê: ‘Jy is so imposant’.”

“So oorweldigend imposant. Dit is sy teenwoordigheid. ’n Teenwoordigheid met geweldig baie gravitas. Dit kan verskriklik intimiderend wees, maar dit was eintlik nie. Hy is ’n mens, ’n akteur en verstaan sy mede-akteurs se verse. Hy is vrygewig met sy spel.”

Die jong, passievolle akteurs wat kykers daagliks op die kassie sien, laat Antoinette positief oor die toekoms van die vermaakbedryf voel. Die tasbare vriendelikheid, alomteenwoordige positiwiteit en atmosfeer van hardwerkendheid sal haar veral bybly.

“Ek het gesien hoe hulle werk voor elke toneel, woorde deurgaan, tonele en storielyne bespreek. Hul betrokkenheid en entoesiasme het my hart bly gemaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kragaap ·

Afrikaanse sepies skryf ook rolle vir uitgewasde akteurs en sangers. Van die moes lankal afgetree het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.