Een pak self haar tasse in ‘Op my eish!’

Runet het Brendan gegroet. (Foto: verskaf)

“Ek het regtig met ʼn oop kop gekom om jou te ontmoet. Ek is baie dankbaar dat ek het, en ek is bly dat ek het. Van my kant af is daar nie ʼn romantiese konneksie tussen ons nie.”

Só lui Runet se afskeidswoorde aan Brendan Peyper nadat sy besluit het om eerder koers huis toe te kies.

Die jongste aflewering van kykNET se maatsoekreeks, Op my eish!, het ʼn paar verrassende oomblikke ingehou, veral nadat Runet bekendgemaak het dat sy binnekort ʼn vlug terug Dubai toe gaan haal. Hoewel Brendan aanvanklik gesê het dat hy dieselfde oor haar voel, het hy later in sy dagboeksessie erken dat hy ʼn gevoel van teruggetrokkenheid by haar bespeur het.

“Sy sit haarself nie in ʼn plek waar ek haar kan leer ken nie, sy was baie gereserveerd en teruggetrokke,” het die 27-jarige “Insomnia”-sanger gesê. Dit het egter nie ʼn stokkie voor sy planne gesteek om die oorblywende sewe vroue behoorlik te bederf nie.

Hy het Jonelle, Thelmané en Katja genooi om saam met hom te gaan abseil, hoewel hy later erken het dat hoogtes sy broek effe laat bewe. Runet sou aanvanklik ook op dié afspraak gegaan het, maar nadat sy die aftog geblaas het, het Brendan besluit om eerder net drie vroue saam met hom te neem.

Brendan en Katja het ‘n soen gesteel. (Foto: verskaf)

Saam het dié vier ʼn berg geklim, en een vir een daar afgeseil. Brendan het egter met ʼn plan gewerk toe hy voorgestel het dat Jonelle en Thelmané eerste gaan. Hy kon toe ʼn hele paar oomblikke (en soene) by Katja steel.

Janae was veral ongelukkig omdat sy nie gekies is vir die abseil-afspraak nie, dit was immers haar verjaardag.

“Hoe is ek nie gekies vir hierdie date nie?” het sy tydens ʼn dagboeksessie gewonder.

“Ek het vir Brendan op die eerste date gesê dat ek vandag verjaar, en hier is ons nou. Hy het die kans gehad om my te vat, want Runet is huis toe, maar toe daarteen besluit. My hart is seer.”

(Foto: verskaf)

Brendan se weë sou egter die volgende dag duidelik word toe hy haar, Christine, Rachelle en Chaunte genooi het om saam met hom op ʼn lugballonrit te gaan. Dit was in sy oë meer romanties en spesiaal om haar tydens dié rit behoorlik geluk te wens.

Ná dié romantiese rit is hy en Chaunte vort vir ʼn alleenafspraak in Clarens. Nadat hulle dieper in mekaar se lewe kon delf, het Chaunte uiteindelik verklap dat van die meisies tydens die verfilming van die program mans daarheen genooi het.

“Op die ou einde moet ek binnekort kies wie ek volgende huis toe gaan stuur,” het Brendan tydens ʼn dagboeksessie gesê.

“En ek hou nie van drama nie, kêrels.”

  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leeubekkie ·

???? Die reeks laat my lekker lag. Jammer daaroor. Die spul meisies is so pateties en verleë vir een outjie wat nou bietjie bekend is. Is dit regtig nodig om heeltyd aan mekaar vas te suig net jul lippe. Respek, waar is dit!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.