Resensie: ‘Rosemary’s Hitlist’ wys bloedige hart van berugte misdadiger

‘Rosemary’s Hitlist’ is op Showmax beskikbaar. (Foto: skermgreep)

ROSEMARY’S HITLIST
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐ (8/10)
Regisseur: Valen’tino Mathibela en Richard Finn Gregory
Beperking: 18
(Showmax)

Nomia Rosemary Ndlovu is in 2021 tot ses keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moorde op haar familielede. Sy word ook aangekla van bedrog, regsverydeling, sameswering om moord te pleeg en poging tot verskeie moorde, sowel as aanhitsing om moord te pleeg.

Ideacandy, die produksiehuis wat veral bekend (of dalk berug) is vir reekse soos Devilsdorp en Steinheist, dring met dié reeks tot in die bloedige hart van Ndlovu. Sonder om die gebeure te verglans, en met kort dramatiserings tussenin, hou hulle die kyker op die bloedspoor van Ndlovu sonder om dit te sensasionaliseer. Haar oortredings was en is so verbysterend vermetel en moorddadig, dat dit ʼn koel, berekende regisseurskop verg om die magdom inligting so aan te bied, dat dit die kyker nie oorweldig of oorbluf nie.

Nomia Rosemary Ndlovu in die Johannesburgse hooggeregshof (27 September 2021) (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Afstootlik soos dit is, onthou verskeie slagoffers wat oorleef het, en ondersoekbeamptes asook advokate en selfs ʼn tradisionele geneesheer, Rosemary se verbysterende verhaal – veral die dele waar sy haar agterent vir kameras in die hof gewys het en selfs met fotograwe geflankeer het. Ook die feit dat sy haar skei of losmaak van die moorde wat deur sluipmoordenaars namens haar gepleeg is en die smart waarin sy almal wat haar geken het, gedompel het.

Hierdie is ʼn dokumentêr uit die boonste rakke. Dit is sielsopenbarend skokkend, en kykers moet veral let op al die waarskuwings. Uitmuntend!

(8/10)

  • Kykers moet let op die ouderdomsperk en waarskuwings, en daarvolgens besluit of hulle na ʼn reeks of rolprent wil kyk. Die waarskuwings word duidelik aangebring wanneer daar op die reeks se naam geklik word, of verskyn op rolprentplakkate, of bo regs op die TV-skerm. L kan ook laster suggereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Ek het die hofsaak gevolg op TV en in media. Nou geniet ek die dokumenter terdee. Baie dankie vir die “producers”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.