Foto’s: Binnelanders op stel in die ‘Kongo’

Ilne Nienaber in 'n toneel. (Foto: Verskaf)

Ilne Nienaber in ‘n toneel. (Foto: Verskaf)

Die kykNET-sepie Binnelanders sal kykers vir die volgende ses weke voor die kassie vasgenael hou met twee dokters wat “die onstabiele terrein van die Kongo aandurf”.

Ernst Swart, reklamebestuurder vir Binnelanders, sê hoewel kykers hul daaglikse dosis drama in die Kongo gaan vind, het die rolverdeling van die sepie nie na die Kongo geskuif om die storielyn te skiet nie.

Die Kongo-storielyn, asook die renosterhoring-storielyn wat onlangs gebeeldsaai is, is alles op ʼn plaas naby die Hennopsrivier geskiet. “Die plaas se ligging was nie net perfek nie, maar die verskillende soorte plantegroei en die meerdoeligheid van die terrein het dit moontlik gemaak om die plaas te gebruik om die twee verskillende storielyne te verfilm,” het Swart luidens ʼn persverklaring gesê.

Volgens Elsje Stark, vervaardiger van Binnelanders, is die grootste uitdaging altyd om die regte plek te vind om die spesifieke buitetonele vir ʼn storielyn te verfilm. “Ons wil dit natuurlik ook so realisties moontlik maak. Om ʼn tegniese span saam te stel wat die nodige kundigheid het, is ook ʼn uitdaging op sy eie.”

Die akteurs se skedules moet ook haarfyn beplan word. “Hulle moet beskikbaar wees vir tonele wat in die ateljee opgeneem word, asook die buitetonele wat ʼn uur lange rit weg is, mits dit buite spitsverkeer is. Boonop is daar nie tyd om te mors met die beperkte aantal sonligure in die winter nie. So, eintlik is daar talle uitdagings!”

Ilne Nienaber, wat die rol van Elana Bester vertolk, het vertel die storielyn is in Mei vanjaar geskiet en die temperature was nie altyd “Kongo-gehalte” nie.

“Party oggende was dit regtig koud gewees, en dan moet ʼn mens maak asof jy in ʼn snikhete Kongo is. Gelukkig was die grimeerkunstenaars daar om te help met die sweet en om die hitte op ons lywe uit te beeld, en die res van die span het gereed gestaan met ʼn kombersie of twee wanneer die tonele klaar verfilm is.”

“Dit was bitter koud!” het Clint Brink, wat die rol van Steve Abrahams vertolk, beaam. “Maar die sweet loop! Om buite te skiet is heelwat anders as in die ateljee, want jy kan interaktief wees met jou omgewing: alles voel net soveel meer werklik.”

Kim Syster, die nuweling tot die akteurspan by Binnelanders, het verduidelik dat die onderskeie ruimtes waarin die storielyn geskiet is, bygedra het tot die realistiese uitbeelding van hierdie verwikkelde storielyn.

“Ek moes self soms twee keer kyk om seker te maak ek het nie in ʼn oogwink in die regte Kongo beland nie – veral wanneer dit kom by die tonele waarin daar meer bloed was. The Blood Bank se bloed is so getrou aan die ware jakob dat ek nie seker is of die kyker gaan glo dit is net kamma-kamma nie.”

Hou die kassie dop vanaf vandag, Woensdag 18 Julie, vir ʼn ontploffing van drama en ʼn aksiebelaaide storielyn in Binnelanders, elke weeksaand om 19:30 slegs op kykNET-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hannelie ·

Ek stem 100% saam jou TLC. Na ‘n dag se werk…..is dit net die regte ontspanning. En natuurlik is daar nou “Fynskrif”. Uitstekend. Maar Binnelanders bly die BESTE sepie van almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.