Gróót geleentheid vir aspirantsangers

Bobby en Karlien van Jaarsveld (Foto: Verskaf)

In ʼn nuwe Afrikaanse televisiereeks met Bobby en Karlien van Jaarsveld as aanbieders gaan agt aspirantsangers onder die leiding van reeds gevestigde en gewilde Afrikaanse kunstenaars die geleentheid kry om mee te ding om ʼn gesogte platekontrak met Coleske Artists.

Daar is selfs groter nuus: Die wenner van dié platekontrak sal in November vanjaar voor 85 000 mense optree in die Afrikaans is Groot-konsert in Time Square Casino in Pretoria.

Die televisiereeks – getiteld Die kontrak – sal later vanjaar op die Afrikaanse leefstylkanaal VIA uitgesaai word en gaan die agt aspirantskrywers se reis week na week volg. Hulle sal leiding ontvang van Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn en Dewald Wasserfall.

Elvis Blue, Dewald Wasserfall, Monique Steyn en Tarryn Lamb (Foto: Verskaf)

Elke deelnemer sal aan die begin van die reeks ʼn platekontrak ontvang. Die uitdaging is egter om dié kontrak te behou aangesien Coleske se grootbaas, Arnold Coleske, aan die einde van elke episode ʼn kontrak opskeur.

Deur die loop van die reeks sal die agt aspirantsangers ook week na week dopgehou word deur ’n paneel van drie kenners: die musieksterre Corlea Botha en Theuns Jordaan en die kreatiewe regisseur van die Afrikaans is Groot-megakonserte, Barry Pretorius.

“Die aap is uit die mou en as jy dink jy het die goods en die moed, wil jy geensins hierdie geleentheid laat glip nie,” het Monique Steyn Maandag op sosiale media laat hoor.

“So opgewonde om hierdie opwindende realiteitsreeks, Die kontrak, saam met Bobby aan te bied,” het Karlien van Jaarsveld op Twitter gesê.

Skryf só in

  1. Maak ’n video waar jy jou gunsteling-liedjie sing en laai dit op die NetNuus-app se video-afdeling.
  2. Onthou om aan te dui wie jy wil hê jou mentor moet wees en die hutsmerk #diekontrak te gebruik.
  3. Alternatiewelik, laai jou oudisie-video op Facebook of Instagram, “tag” die mentor van jou keuse en gebruik die hutsmerk #diekontrak. Onthou om ook hier te sê wie jy is, hoe oud jy is en waar jy vandaan kom.

Inskrywings open Maandag 21 Mei 2018 en sluit Saterdag 30 Junie om middernag. Die kontrak word van 2 Oktober om 20:00 op VIA (DStv-kanaal147) uitgesaai. Die program word in samewerking met Huisgenoot aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Antoinette de Greeff ·

Hulle moet sommer dadelik se of dit werklik oor talent sal gaan en sonder voorkeur sal wees.

Stompie van As ·

Ek meen die arikaanse musiek mark is reeds oorvol en die helfte is swak gehalte. Hoop nie net nog n da da da sanger of sangeres word so gebore nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.