Hanna Grobler: ‘Gesin, liefdadigheid en kuns my eerste prioriteit’

Hanna Grobler is die aanbieder van VIA se werklikheidsreeks “Die groot afskud”. (Foto: VIA)

Deur Martjie Roos

Die sprankelende aktrise en aanbieder Hanna Grobler het ʼn paar jaar uit die kollig verdwyn, maar sy is sedert die begin van Februarie terug op die kassie as ankeraanbieder van seisoen 2 van VIA se gewilde werklikheidsreeks, Die groot afskud.

“Dit is lekker om weer voor die kamera te werk en dit boonop op ʼn inspirerende reeks soos Die groot afskud,” sê sy. Kykers het Hanna vier jaar laas as aanbieder van die reeks Makietiemakers, ook op VIA, gesien en sy was ook van 2009 tot 2014 bekend as die sexy pompon-meisie Kiki Beltrame, vrou van die Stryders-afrigter Fafa Beltrane (Altus Theart), in kykNET se gewilde sepie Getroud met rugby.

“Ek het nie doelbewus van televisie onttrek nie, ek het nie ʼn agent nie en het myself net nie ‘daar buite’ gesit nie,” vertel sy. “My gesin, my liefdadigheidsorganisasie Hanna Charity and Empowerment Foundation en my kuns bly my eerste prioriteit en indien daar wel gulde geleenthede in die televisiebedryf opduik, gryp ek dit graag aan.”

Hanna en haar wederhelf, die sanger Bok van Blerk, is die trotse ouers van ʼn woelige kroos Samuel (7), Yamila (5) en Papillon (2). Die egpaar het drie jaar gelede hul tuiste in Ballito, KwaZulu-Natal vir Stellenbosch in die Wes-Kaap verruil.

“Toe die vervaardigers van Die groot afskud my verlede jaar genader het om die reeks aan te bied, was ek baie opgewonde want dit het my soos ʼn handskoen gepas omdat die reeks in die Kaap verfilm word. Dit sou my ook nie ver weg van die huis neem nie. Boonop bied Die groot afskud my die geleentheid om ander mense se lewensgehalte te verbeter en dit sluit indirek aan by Hanna Charity and Empowerment Foundation waar ek mense se lewensomstandighede ʼn hupstoot wil gee.

“Noudat ek ouer is, is dit vir my belangrik om dinge te doen wat eg is aan my en waarin ek glo,” sê die 42-jarige Hanna.

“Ek is baie lief vir mense en dit is vir my spesiaal om tydens die program eerstehands te sien hoe mense hul emosies en gevoelens hanteer om op ʼn plek uit te kom waar hulle weer in hulself kan glo en hul selfvertroue verbeter. Dit is weliswaar stories van hoop.”

Hanna se rol as anker is onder meer om die deelnemers te motiveer en op te beur wanneer hulle mismoedig raak en tou wil opgooi. “Ek probeer om die deelnemers voortdurend positief te hou. Ek poog ook om hier en daar so ʼn bietjie humor in te bring. Ek het nog altyd daarvan gehou om mense te laat lag,” sê Hanna wat al vantevore komedie saam met onder andere Casper de Vries en Tobie Cronjé gedoen het.

Sy is nie die enigste “dryfveer” in die reeks nie. Die sielkundige Dewald Louw, fiksheidskenner Olivia Losper en dieetkundige Minette Rὂth is die ‘afskud’-afrigters wat die ses deelnemers, wat in drie spanne opgedeel is, op hul gewigverliesreis begelei. Buiten fisieke uitdagings, kry die ses deelnemers ook verskillende kos- en kookuitdagings sowel as sielkundige uitdagings wat hulle die hoof moet bied om vir die groot kontantprys van R300 000 in aanmerking te kom.

“Ek dink die deelnemers is almal dapper om hulself so op televisie ‘bloot te stel’. Ek haal my hoed vir hulle af. Maar ek moedig hulle aan om nie ʼn front voor te sit nie en te huil wanneer hulle wil huil en te lag wanneer hulle wil. Met ander woorde, hulle moet eerlik wees, want die waarheid maak jou op die ou einde vry.”

Hanna se eerste liefde is nie toneelspeel nie, maar wel kuns. Sy het in Pretoria grootgeword en aan die hoërskool Pro Arte, ʼn kunsskool, gematrikuleer en na matriek het sy drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer. “Ek skets graag met houtskool. Ek het wel lanklaas ʼn uitstalling gehou. Tydens die pandemie kon ek weer aandag gee aan my kuns en het toe ʼn uitstalling in KwaZulu-Natal gehou. Maar toe raak ek swanger met my jongste, Papillon, en ek het die kuns so effe opsy geskuif. Ek is wel voornemens om ʼn uitstalling teen die einde van die jaar in Stellenbosch te hou. Ek glo jy word met ʼn kunstalent gebore en om te skep is dan ʼn natuurlike uitvloeisel van jou self. My pa, Nic, is ʼn beeldhouer en ek kry beslis my kunstigheid van hom.”

Sy is ook alombekend vir haar vrygewige en groot hart. Sy het Hanna Charity and Empowerment Foundation, ʼn organisasie sonder winsbejag, in 2008 gestig en die organisasie het al uitgebrei na dertien takke dwarsoor die land. “Die organisasie het byvoorbeeld ʼn klere-bank, ʼn ontwikkelingsentrum vir kinders waar ons onder meer kos aan minderbevoorregte kinders verskaf, ʼn sopkombuis, ʼn werkskeppingsprojek en ʼn Womanhood/ Sisterhood-sentrum waar jong meisies lewensvaardighede kan aanleer ensovoorts.” Hanna sê sy kan nie al haar aandag op haar organisasie toespits nie maar het wel ʼn knap hoofbestuurder, Charlene Jackson, wat al die drade bymekaar hou sowel as ʼn hele span area-bestuurders wat hul gewig in die projek ingooi.

“Die groot afskud” is tans op VIA te sien. (Foto: VIA)

Terug by haar en Bok se verhuising na Stellenbosch, sê sy dit was ʼn groot aanpassing. “Veral wat die weer betref. In Ballito kon die kinders meesal buite speel, maar omdat dit so baie reën in die Kaap, moes die kinders noodgedwonge leer om binnenshuis te speel en vermaak te word. Yamila het byvoorbeeld nou begin om Saterdae naaldwerk saam met haar niggies te doen. Gelukkig is ons as gesin aanpasbaar.” Bok is ʼn groot hengelaar en het gereeld aan die kus van KwaZulu-Natal visgevang. “Maar hy vang nog gereeld vis sedert ons in Stellenbosch bly, die see is nou net ʼn bietjie verder as toe ons in Ballito gewoon het.”

Sy is baie lief vir die Kaap. “My broer en my suster woon hier en die kinders kan nou lekker saam met hul nefies en niggies speel. Op ʼn manier voel dit vir my of ek nou weer huis toe gekom het omdat ek op Maties studeer het.”

Hanna en Bok verkies om hul kroos heeltemal uit die kollig te hou. “Dit was my en Bok se keuse om in die bedryf te wees en nie hulle s’n nie. Daarom sal ons byvoorbeeld nooit foto’s van hulle op sosiale media plaas nie. Wanneer hulle ouer is, kan hulle self besluit of hulle in die kollig wil wees of nie.”

Sy probeer om haar kinders van kleins af te leer om mense onvoorwaardelik lief te hê en te aanvaar soos hulle is. “Ek leer hulle dat mense verskil en dat jy nie op ander mense moet neerkyk of hulle moet oordeel nie. Ek dink hierdie lewensles kom ook in Die groot afskud ter sprake. Naasteliefde is so belangrik en as ons almal net kan leer om mekaar onvoorwaardelik te aanvaar en nie te oordeel of te kritiseer nie, sal die wêreld ʼn beter plek wees.”

  • Die groot afskud het dertien episodes en word Dinsdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai en Sondae om 22:00 herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.