Hannes van Wyk: ‘Spoorloos’ se karakters is volrond

Hannes van Wyk as prof. Eddie Franken in ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Dit is ʼn mistroostige dag in die Kaap en terwyl dit mildelik buite reën, sit die aanbieder en akteur Hannes van Wyk gemoedelik in sy tent, op die stel van ʼn reeks waaraan hulle tans skiet, en gesels oor sy rol in Spoorloos: Die eiland.

Hannes speel in die jongste aflewering van dié gewilde kykNET-dramareeks die rol van Eddie Franken, ʼn professor in mariene biologie. Kykers sal onthou dat hy ook in die eerste reeks te sien was as die waarnemende skoolhoof, mnr. Immelman.

“Toe die produksiespan my nader om te hoor of ek in Spoorloos se vierde reeks wil speel, het ek dadelik ingestem nog voor ek rêrig geweet het wat die rol behels.

“Wat so lekker is van Spoorloos se karakters, is dat hulle volronde karakters is. Jy weet wie hulle is en waar hulle vandaan kom,” vertel hy.

Spoorloos: Die eiland gaan oor Stefan Claasen, die avontuurlustige argitek wie se lewe in chaos gedompel word. ʼn Terloopse ontmoeting met sy lankverlore liefde wakker nie net opnuut sy gevoelens vir haar aan nie, maar hy beland ook in ʼn web van bedrog wanneer sy vermis raak.

Bobby van Jaarsveld, Armand Aucamp, Izel Bezuidenhout, Deon Coetzee, Leché Joubert en Marisa Drummond is van die akteurs wat saam met Hannes in Spoorloos 4 te sien is.

Hannes van Wyk as prof. Eddie Franken in ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Ilse van Hemert is weer die hoofskrywer en na-produksievervaardiger, en die akteur en regisseur Christo Davids is terug in die regisseurstoel saam met Francois Coetzee.

Hannes, wat drama aan die Universiteit van die Vrystaat studeer het, het jare lank net toneel gespeel voordat hy werklik begin aanbied het. Nadat hy sy graad voltooi het, het Hannes by die destydse streekskunsterade Sukovs en Truk gewerk.

Dit is hier waar sy pad die eerste keer met Ilse sʼn gekruis het. “Ek het as jong akteur saam met Ilse gewerk toe ek destyds vir Sukovs gespeel het. Ek is regtig mal oor haar werk en die rolle (in Spoorloos) is heerlik.”

Hannes van Wyk as prof. Eddie Franken in ‘Spoorloos: Die eiland’. (Foto: kykNET)

Die Kwêla‑ en Hannes aan Huis-aanbieder is onder meer bekend vir sy akteurswerk in verskeie TV-reekse, waaronder Waterfront, Lui maar op, Belinda en Fynskrif, en teaterproduksies soos Voor ek vergeet, saam met Amanda Strydom, asook die bekroonde eenpersoonstuk Sê groete vir ma.

Sy rol in Spoorloos 4 is in vergelyking met dié van mnr. Immelman in reeks een, die hoof wat kinders doodgemaak het, redelik normaal. Tog het Hannes sy vertolking van die professor terdeë geniet.

“Dit is altyd maklik om ʼn karakter te speel wat heeltemal anders as jyself is. Ek en die professor is amper ewe oud, en daar is ʼn klomp goed wat in sy kop aangaan.

“ʼn Mens kan nie altyd voorsien hoe kykers oor jou karakter gaan voel nie, maar jy hoop dat hulle jou harde werk sal raaksien.”

Die reeks is in Gauteng en KwaZulu-Natal verfilm. “Dit was absoluut idillies waar ons geskiet het. Ek het onlangs ʼn episode gekyk en dit lyk so werklik.

“Ek sê altyd ons akteurs werk hard, maar die produksiespan is eintlik die mense wat die pluimpies moet kry. Ons het Spoorloos geskiet tydens daardie erge vloede vroeër vanjaar in KwaZulu-Natal. Dit was moeilike weersomstandighede, maar dit het nie die tegnici ondergekry nie.”

Hannes van Wyk (Foto: Verskaf)

Wanneer ʼn mens hom pols oor gewoontes of sy roetine op stel, vertel Hannes laggend dat hy nie so iets het nie. “Ek het nie bygelowe of goed nie, dalk is ek simpel.

“Ek is betyds op stel – lank voor my call-tyd. Dalk is dit ʼn gewoonte? Ek dink dit kom van my ma-hulle af. Wanneer ons kerk toe gegaan het, toe ek nog op skool was, het ons ʼn uur voor die tyd gegaan. Dit is nou nog so.”

Met die oog op Taalmaand het Hannes ook oor sy betrokkenheid by die WAT se Borg ʼn woord-veldtog gesels. Maroela Media het vroeër berig dat Hannes saam met Amanda Strydom in 2021 en 2022 as beskermheer en -vrou vir die veldtog optree.

Hy sê hy dink, droom en speel meestal in Afrikaans en hy is ontsettend patrioties oor die taal.

“My ma, Mariet van Wyk (88), het ons drie kinders liefgemaak vir lees en by uitstek vir Afrikaans. Daarom het ek die eenvoudige woordjie ‘ma’ vir vanjaar se veldtog geborg.”

Lees is so deel van Hannes se werk. Soms lees hy ʼn paar boeke gelyk en op die oomblik lê Franz Marx – Uit die perd se bek deur Chris Vorster op sy bedkassie.

“Ek lees konstant. Dit is deel van my navorsing vir die onderhoude wat ek doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.