Hollywood: Gewilde blouoog-akteur terug in ‘Bridget Jones 4’; lusmakers vir ‘Bridgerton’, ‘Joker’-fliek uitgereik

Nicola Coughlan en Luke Newton in ‘Bridgerton’. (Foto: Instagram/@bridgertonnetflix)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Geliefde blouoog-karakter terug vir vierde Bridget Jones-fliek

Hugh Grant-aanhangers het rede om te juig – dié blouoog- Britse akteur sal die rol van Daniel Cleaver hervat in die opkomende Bridget Jones-rolprent.

Renée Zellweger is natuurlik ook weer te sien in Bridget Jones: Mad About the Boy wat die vierde aflewering van die gewilde franchise sal wees.

Benewens Grant sal Emma Thompson ook haar rol as Bridget se ginekoloog, dr. Rawlings, hervat. Leo Woodall van One Day-faam is ook in die nuwe aflewering te sien.

Anders as 2016 se Bridget Jones’s Baby, sal dié rolprent op die skrywer Helen Fielding se gelyknamige topverkoperroman geskoei wees.

Bridget Jones: Mad About the Boy speel vier jaar ná Bridget Jones’s Baby af en wys hoe Bridget sin van die lewe probeer maak nadat sy ʼn weduwee met twee klein kinders word nadat haar man, Mark Darcy (vertolk deur Colin Firth), in ʼn landmynongeluk in Soedan sterf. (Dié is g’n sogenaamde spoiler nie en het die fliek se vervaardigers hierdie deel van die storielyn van die begin af bekendgemaak.)

Variety berig dat kykers tot Valentynsdag 2025 sal moet wag om Bridget weer in aksie te sien.

Nog opwindende kykstof op pad

Lokprente vir die langverwagte derde seisoen van die Netflix-trefferreeks Bridgerton, asook ʼn eerste blik van die jongste Joker-rolprent, het vandeesweek die ganse internet laat gons.

Die lokprent vir Bridgerton is in minder as 24 uur byna 2,5 miljoen keer op YouTube gekyk. Aanhangers sal egter tot 16 Mei moet wag vir die eerste vier episodes en verder tot 13 Junie vir die laaste vier.

Die Ierse aktrise Nicola Coughlan, wat die rol van Penelope Featherington, ook bekend as Lady Whistledown, in die stromingsreus se Regency-era-romanse vertolk, het in 2022 reeds verklap dat haar Bridgerton-karakter se liefdesverhaal die kollig in die jongste aflewering sal geniet.

Nicola Coughlan en Luke Newton in ‘Bridgerton’. (Foto: Instagram/@bridgertonnetflix)

 

“Nes Lady Whistledown, hou ek dit al ʼn geruime tyd ʼn geheim en ek kan uiteindelik alles aan julle bevestig. Die derde seisoen gaan Colin en Penelope se liefdesverhaal vertel,” het die aktrise destyds tydens ʼn Netflix-geleentheid gesê.

Die eerste en tweede seisoen van dié reeks – wat geskoei is op Julia Quinn se boekereeks met dieselfde naam – het van die begin af kykergetalle laat spat.

Die derde seisoen is egter die eerste een om van die boeke se volgorde af te wyk en sal fokus op die derde oudste Bridgerton-seun, Colin, se liefdesreis met Penelope Featherington.

In die derde boek van Quinn se reeks is die kunssinnige Bridgerton-broer, Benedict, se liefdeslewe in die kollig.

ʼn Kort lusmaker van die DC Comics-vervolgfliek Joker: Folie à Deux is op sy beurt nagenoeg 19 miljoen kere in twee dae gekyk.

Joaquin Phoenix klim weer in die Joker se komplekse, kriminele skoene, met Lady Gaga wat die rol van sy liefdesbelangstelling Harley Quinn sal speel. Die lusmaker verklap nie veel van die storielyn nie, behalwe dat dit afspeel in die Arkham Asylum, waar die Joker in aanhouding is.

Phoenix het in 2020 ʼn Oscar-toekenning vir sy vertolking van die DC-strokiesprentkarakter in die 2019 Joker gewen.

Heath Ledger het ʼn maand ná sy dood in 2008 die Oscar-beeldjie vir beste manspeler in ʼn ondersteunende rol gewen vir sy vertolking van dieselfde karakter in The Dark Knight.

Ondanks die luskamer se musikale element, het regisseur Todd Phillips bevestig die fliek is nie ʼn musiekblyspel nie.

Joker: Folie à Deux sal op 4 Oktober in fliekteaters te sien wees.

Billie Eilish dink aan planeet met nuwe plaat

Die Grammy- en Oscar-wenner Billie Eilish se langverwagte derde vollengte album, Hit me Hard and Soft, sal op 17 Mei uitgereik word.

Die kunstenaar poog met die unieke uitreiking van die album om ʼn bydrae te lewer tot meer omgewingsvriendelike werkswyses in die musiekbedryf.

Volgens Billie se amptelike webwerf sal die album op agt verskillende vinielvariante vrygestel word wat van 100% herwinbare materiale gemaak is, insluitende ou herwinde plate. Die plate se verpakking sal ook omgewingsvriendelik wees.

Eilish het dié nuus vandeesweek op Instagram bekendgemaak en die album se treffende kunswerk gedeel, wat die popsangeres onder water met ʼn oop deur bo haar wys.

In die onderskrif het sy geskryf dat sy nie enkelsnitte voor die vrystelling sal uitreik nie.

“Ek wil dit vir julle alles op een slag gee. Ek kan werklik nie nóg trotser op hierdie album wees nie,” het die 22-jarige by die foto geskryf.

Die aankondiging kom nadat die sangeres onlangs tydens ʼn omgewingsbewustheidseminaar kunstenaars gekritiseer het wat verskeie vinielformate vrystel “bloot om albumverkope ʼn hupstoot te gee”.

Bronne: CCN News, Variety, BBC News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.